Kuns is gesinsgeskenk vir dié tweeling-kunstenaars

Van Magda se skeppings. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Dit is baie selde dat iemand ʼn korporatiewe loopbaan prysgee om sy of haar passie uit te leef. Inteendeel, die meeste mense sal jou afraai om so ʼn besluit te maak. Dit is egter presies wat Magda Dunlop gedoen het. Oor die laaste vyf jaar, het haar fokus verskuif na die ontwerp van sagte speelgoed vir maatskappye en individue wat doelgemaakte items wil hê.

Volgens haar kry jy min mense wat sagte speelgoedontwerp in Suid-Afrika doen. Sy vertel: “Kinderboekskrywers, bemarkingspanne by groot maatskappye en skole, kindersielkundiges en kerke kontak my gereeld op soek na ʼn persoonlike sagte speelgoedontwerp vir hul hoofkarakter, maatskappygelukbringer (“mascot”) of vir persoonlike idees. Soms wil hulle net ʼn paar voltooide sagte karakters gebruik vir skooldemonstrasies, maar dikwels wil hulle ook hierdie speelgoed laat vervaardig.”

Magda sê sy vind dat die meeste mense wat op soek is na doelgemaakte sagte speelgoed werklik nie weet waar om te begin nie, want dit is moeilik om goeie inligting te vind oor hoe om dit te doen.

Daar is nie ʼn gids van ontwerpers en fabriekskontakte in Suid-Afrika nie. Boonop is die meeste van die maatskappye wat dit wel doen in China of Indië. Dus is dit nie so eenvoudig om ʼn patroon te skep of iemand te kry wat dit kan doen nie. Boonop het jy materiaal, vulsel, kenmerke soos oë en neuse, en borduurwerk nodig.

Die eerste stap is om verwysingsmateriaal te skep. Dit moet sketse insluit van die voorkant, sy-aansig en die grootte van die voltooide speelding. Verder moet dit ook spesifiseer of die speelding sag of stewig moet wees, moet sit of staan en vir watter ouderdomsgroep dit bedoel is.

Magda ontwerp eerstens ʼn papierpatroon uit die sketse en maak dit dan in verskillende materiaal-opsies. Dit word die konstruksiemodel genoem. “Ongeveer twee en ʼn half weke nadat ek begin het, stuur ek die model aan die kliënt vir terugvoer en vra dan ook dat hulle baie spesifiek moet wees oor wat hul wil verander. Die laaste stap, wat nog twee en ʼn half weke neem, is om die voltooide prototipe te skep. Ek maak ʼn stel patroontekeninge wat besonderhede insluit soos waar om koord, oë en borduurwerk te plaas. Ek skep ook naaldwerk-spesifikasies en verwysingskaarte vir die kliënt.”

Dit is natuurlik moontlik om saam met ʼn ontwerper by die fabriek te werk waar ʼn kliënt se speelding vervaardig word, in plaas daarvan om met ʼn privaat ontwerper te kry, maar die keuse om dit te doen kan die proses bemoeilik. Die taalversperring en wagtyd tussen die ontvangs van prototipes kan frustrerend wees en dikwels is die eindresultaat nie bevredigend nie. “Ek word dikwels gevra om patrone oor te doen vir kliënte wat aanvanklik probeer het om hulle by die fabriek te laat skep. By die meeste fabrieke is die minimum bestelling ongeveer 10 000 eenhede, maar vir ʼn bykomende opstelfooi van ongeveer R5 000 tot R10 000 sal sommige 2 500 stukke vir kliënte doen.

Wanneer ʼn digitale kunswerk verskaf word, sal die fabriek ook die “hangtags” druk en aanbring. Dit is ook belangrik dat daar veiligheidstoetse vir die speelgoed gedoen moet word. Fabrieke wissel aansienlik in die kwaliteit van hulle kommunikasie en hul produkte, dus is dit die beste om ʼn aanbeveling van ʼn ontwerper of iemand anders met ervaring te kry.”

Magda sê sy is werklik passievol oor sagte speelgoedontwerp. “Ek sien elke nuwe kliënt en projek as ʼn legkaart wat opgelos moet word. Ek hou daarvan om te dink oor hoe ek iets gaan maak,” sê sy.

Vir kliënte soos KT Wash, Twobii en heyjudeapp.com, beteken dit om hul kosbare karakters lewendig te maak. Magda se vorige twintig jaar ervaring in verkope en korporatiewe bemarking word weerspieël deur haar probleemoplossing en maak dit vir haar maklik om met kliënte te skakel oor die ontwerp van hulle produkte.

Marguerite besig om te werk. (Foto verskaf)

Alhoewel Magda en haar tweeling-suster, Marguerite, aan verskillende projekte werk, kombineer hulle gereeld hul tegniek en talent om met heel oorspronklike meubels vorendag te kom. Kuns is ʼn gesinsgeskenk vir die tweeling-kunstenaars en hulle geniet dit om sagte speelgoed te maak, meubels te restoureer en nuwe unieke meubels te ontwerp.

“Ek en my tweeling-sussie het van kleins af kunsopleiding gekry en een van die hoogtepunte van ons opleiding was om klas te loop by die Belgravia Art Centre in Oos-Londen. Na skool het ek besigheidsbestuur en bemarking studeer deur Unisa. Ons Open Door Artistry-besigheidsonderneming, gaan heelwat oor meubelrestourering en die herstel daarvan vir luukse losies in die Hoedspruit-area waar ons fyn kuns op meubels verf.”

Hulle maak doelgemaakte ontwerpe en meubels, so elke produk of kunswerk is uniek en enig in sy soort omdat dit vir spesifieke kliënte gemaak is. Die tweeling vertel dat die meeste van hulle besigheid en inkomste afkomstig is van verwysings deur tevrede kliënte en hulle voel baie bevoorreg om altyd besig te wees.

“Ons gebruik ons fyn kunsagtergrond en gemengde media-kunstegnieke in al ons meubelontwerpe. Dit is moeilik om ʼn katalogus bymekaar te sit omdat elke projek verskil. Kliënte kontak ons omdat hulle ons werk sien en doen dan navraag oor hoe van dié idees ʼn realiteit kan word. Ons is basies kunstenaars wat idees in realiteit omskep – van sagte speelgoedontwerpe tot meubels.”

Magda sê haar man, Marcelo Baptista, help soms met die houtwerk en haar niggie, Nicolien Marais, weer met metaalwerk. Boonop probeer hulle werksgeleenthede skep deur werklose mense op te lei in sekere vaardighede soos stoffering en basiese naaldwerktegnieke.

Magda vertel dat hulle pa, Tjaart van der Walt, ʼn kunstenaar, argitek en musikant was en dat dit is waar hulle voorliefde vir kuns vandaan kom. “Hy het ons van kleins af besig gehou met verf- en kunsprojekte, terwyl hy vir ons klavier of kitaar gespeel het. Ons doen reeds van kleins af gemengde media-kuns en kan iets kunstig maak uit enigiets wat tot ons beskikking is. Die idee van herwinning kom van ons pa af en is baie belangrik vir ons. Hy is ongelukkig oorlede toe ons nog redelik jonk was, maar sy liefde vir kuns het verseker ʼn indruk op ons gelaat.”

Meubels word geverf soos deur kliënte versoek. (Foto verskaf)

Magda sê dat sy altyd dankbaar sal wees dat sy dapper genoeg was om haar hart te volg en die stap te neem om haar passie uit te leef. “Ek kyk verseker nie een dag terug nie en geniet elke oomblik van elke werksdag.”

Magda woon in Johannesburg, Marguerite in Hoedspruit en Nicolien in Roodepoort. Sy spandeer een week per maand in Hoedspruit vir meubelrestourering, soms langer afhangende van hulle projekte.

Die Royal Malewane open hul nuwe lodge binnekort en van die meubels is deur hulle gemaak. Voorbeelde hiervan is die hangende rietstoele waarmee Marguerite tans besig is, en sy het pas ook die blou rietstoele gerestoureer sodat dit by die badkamer pas.

“By die oord gee hulle vir ons die groottes en kleurskakerings van die meubels wat in spesifieke kamers moet pas. Soms vra hulle ook vir kunswerk op meubels soos lampe, waar ons dan motiewe opverf soos deur die kliënt versoek.”

Gaan loer op Instagram, by @magdateddyanddoll, om van Magda se ontwerpe te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.