‘Lekkerder werk is daar nie’, sê vrou agter Berries ZA

Elzette Schutte (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se bloubessiebedryf kan vanjaar sy beste seisoen nóg beleef met ʼn oes wat sowat 2 300 hektaar beslaan, sê Elzette Schutte, operasionele hoof van Berries ZA (vroeër die Suid-Afrikaanse bessievereniging).

Schutte (40) sê dat sy ongelooflik opgewonde is oor die bloubessiebedryf, nie net vir die besonderse groei wat die bedryf hierdie seisoen inhou nie, maar ook vir die positiewe impak wat dit op Suid-Afrika se ekonomie het.

Schutte het op Stellenbosch grootgeword en later ʼn graad in landbou aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hoewel sy nie op ʼn plaas grootgeword het nie, vertel sy dat sy nog altyd meer oor plante wou leer.

Sy het haar meestersgraad in na-oes-fisiologie aan die Michigan-staatsuniversiteit, een van die beste landbouskole ter wêreld, behaal en was daar ʼn navorsingskonsultant by die instituut vir internasionale landbou. In September 2017 is sy aangestel as operasionele hoof van die Suid-Afrikaanse bessievereniging, wat later Berries ZA geword het.

“Ek hou baie van biologie en botanie, maar ek is nie ʼn boer of ʼn boervrou nie, ek is meer van ʼn kantoormens, so ek het my loopbaan in in-en-uitvoere begin,” vertel sy.

Vir Schutte is die bloubessiebedryf baie anders as enigiets waaraan sy al ooit gewerk het, en dit is juis daarom dat sy so lief is daarvoor.

“Dit is só anders, ʼn bloubessieplant is mos eintlik ʼn struik en nie ʼn boom nie, so dit is baie opwindend want dit kan enige plek gekweek word en daar is baie geleenthede daaraan gekoppel.”

“Jy kan ook op klein skaal bloubessies plant en geld daaruit verdien. Dit is duur om dit gevestig te kry, maar met so vyf hektaar grond kan jy vir jouself ʼn inkomste genereer, dit kan finansieel sin maak.

“Dis opwindend, dis nie tradisioneel nie en dis nog nuut,” sê sy.

Bloubessies (Foto: Pixabay)

Die bloubessiebedryf is nog nie so ingeburger in Suid-Afrika soos in baie ander dele van die wêreld nie. Schutte vertel dat die VSA se bloubessiebedryf veel ouer is, en dat sy juis toe sy in Michigan gewoon en studeer het, baie daarvan te wete gekom het, wat sy vandag kan gebruik.

In Suid-Afrika het die bedryf oor die laaste vier jaar drasties gegroei en het die hektaar aangeplante bloubessies sedert 2016 met meer as 100% toegeneem.

“Die bloubessiebedryf het ook die hoogste permanente indiensneming per hektaar van alle kommoditeite in Suid-Afrika. So dit verskaf werk aan baie mense,” sê sy.

Aangesien Suid-Afrika se bloubessiemark nog in sy kinderskoene staan is Schutte ook opgewonde oor hoe dit nog kan ontwikkel, watter verskille nog gemaak kan word, hoe hulle nog hul voete kan vind en die potensiaal wat die mark het.

Die sukses om ʼn vrou te wees in die landboubedryf kom wel nie sonder sy uitdagings nie.

Schutte erken dit was aan die begin intimiderend dat sowat 80% van mense wat landboukonferensies bywoon, mans is, maar dat sy nou gemaklik daarmee is.

“Vroue is veel eerder die bemarkers of navorsers, maar ek sien nog nie so baie wat ‘hands on’ is in hierdie bedryf nie. Daar is wel baie vroue wat baie suksesvolle landbou-sakeondernemings bestuur. Ek is nie bedreig nie, al is dit ʼn ‘man’s world’,” sê sy.

Schutte sê sy hou daarvan dat die bloubessiebedryf nog jonk en in die mode is, omdat dit veroorsaak dat dit ʼn klomp jong mense is wat daar saam werk.

“Vandat ek die eerste dag by Berries ZA begin werk het, wat dit nog net ʼn absolute plesier. In hierdie bedryf weet jy nooit wat gaan kom nie – elke dag is anders. Dit is ongelooflik dinamies. Aan ʼn lekkerder werk kan ek nie dink nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flemming ·

Elzette, nee ek weet van die besigheid wat beslis die lekkerste is, die handel met tweedehandse boeke !

LIEZL ·

Elkeen is waar hy/sy moet wees. Ek is so dankbaar dat ek my werk vanaf die huis kan doen, op ons plaas. Dis so ‘n voorreg en dis beslis die lekkerste werk vir my op hierdie oomblik. Geniet jul werk, waar ookal julle is op hierdie oomblik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.