Luister: Christenskap en kos saam op een tafel

Rudi Swanepoel (Foto: Verskaf)

Vir Rudi Swanepoel was daar nog altyd iets meer betekenisvol aan ʼn maaltyd om ʼn tafel, iets groter in die samesyn om bakke vol goeie kos. Hy glo dit is juis in hierdie oomblikke wat Christenskap en gasvryheid mekaar ontmoet.

Swanepoel is ʼn predikant in Johannesburg, maar het ook ʼn groot passie vir kos en gasvryheid. Hy het ʼn manier gekry om sy liefde vir kos en vir Christus byeen te bring sodat hy meer aandagtig kan lewe en die klein dingetjies kan waardeer.

Swanepoel se boek Kom sit aan is pas bekendgestel en hierin deel hy sy gedagtes rondom die band tussen gasvryheid en Christenskap. Die boek is ʼn samestelling van bepeinsings, aansporings en herinneringe oor kosmaak, rituele en vreugde wat ʼn mens in die alledaagse kan vind.

Swanepoel het op verskeie plattelandse dorpe in die noorde van Suid-Afrika grootgeword en het reeds as jong seun ʼn belangstelling in kos begin kry. Ná matriek het hy teologie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, maar het sy studie vir drie jaar onderbreek om as kopieskrywer in die advertensiebedryf te werk.

Later het hy sy teologiese opleiding aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en ʼn predikant in die NG Kerk geword. Die afgelope nege jaar is Johannesburg sy tuiste, waar hy sy lewe deel met sy vrou, Carina, en hulle vier kinders, en as predikant van die NG Gemeente Andrew Murray dien.

“My belangstelling vir kos en gasvryheid kom van jongs af. Ek het op laerskool dit al gewaag om my ma te vra of ek iets in die kombuis kan doen. Van daar af het ek die belangstelling maar ontwikkel en opgelees daaroor en vandag maak ek self ook baie kos,” vertel Swanepoel aan Maroela Media.

Swanepoel meen daar is ʼn sterk band tussen Christelike spiritualiteit en die keuse om aandagtig te lewe, veral by die etenstafel.

“Ek dink ons onderskat die plek van gasvryheid in die Bybel. Dit begin reeds aan die begin van Genesis waar Abraham in ʼn tent by Mamre sit. Hy kry drie besoekers. Hy sê dan vir sy vrou om verskriklik baie deeg se roosterkoek voor te berei. Dié storie sê iets van oordadige en verwelkomende gasvryheid. Aan die einde was dié drie besoekers eintlik God se boodskappers aan Abraham en sy vrou.”

Swanepoel verduidelik Christenskap hoef nie net een deel van jou lewe te wees nie, maar dat dit ingeweef moet wees in elke faset van die lewe, of dit oefening, jou werk of jou stokperdjies is. Geloof moet in jou lewe geïntegreer wees.

“Kyk na jou bord, asem die reuke in, kyk saam met wie jy eet, besef wat moes gebeur voor daardie kos op jou bord beland het. Die tafel is die verbindingsplek, met jouself, die natuur, met ander mense en met God,” sê hy.

“Om aandagtig te lewe beteken vir my dat ek ingestel is op waarmee ek nóú besig is, wie by my is, en wat in die gesprek kan gebeur. Dat ek die sintuie waarmee God ons mee gemaak het waarlik gebruik. Ek kan net ʼn bietjie stadiger lewe en besef waarmee ek op die oomblik besig is, en dit waardeer.”

Swanepoel meen dat skerms in die meeste huishoudings te veel tyd en aandag geniet en dat dit wegneem van die waardering van jou kos en die mense saam met wie jy eet.

“Deesdae sit mense voor die televisie, en meeste van die tyd het elke mens nog ʼn tweede skerm ook voor hulle. Dit het my gemotiveer om meer aandagtig te probeer lewe en om te weet waar my aandag is.”

Hy sê die feit dat mense se aandag deesdae op soveel verskillende plekke is en dat menseverhoudings daaronder ly, beteken dat mense opnuut weer die interafhanklikheid tussen mekaar moet raaksien.

“Daar is ʼn verskriklike groot deel van menswees wat ons by ander mense kry. Ek dink die tafel is die ideale plek vir interaksie met dié mense. As ons saam by die tafel sit stel dit mense in staat om te sien en terugvoer te gee op wat hulle sien. Dit is nie iets wat jy kan doen as jy nie bymekaar is nie.”

Swanepoel verduidelik om ʼn tafel gaan dit ook dikwels oor wie nié by die tafel is nie en hoekom hulle nie daar is nie. Hy het gesê die besef dat jou eie menswees eintlik ʼn gedeelde menswees is, is belangrik.

Hy meen ook dat die verhouding tussen Christenskap en kos grotendeels met waardering verbind word.

“Ons is verbruikers, so baie van ons aanvaar kos as vanselfsprekend, maar ek dink daar is ʼn groot element van waardering wat ons mis as ons te vinnig lewe. As gelowiges is dit goed om dankbaar te wees vir die bord kos voor jou, eerder as om bloot te verbruik.”

Dit is vir Swanepoel belangrik dat mense weet dit gaan nie daaroor om uitspattig, groot of duur te eet nie, maar eerder die teenoorgestelde; om weer self kos te maak, en om waardering vir die alledaagse te hê.

Hoewel Swanepoel nie ʼn vegetariër is nie, wil hy hê ʼn mens moet waardering hê vir enigiets op die bord wat eens gelewe het.

“Alles wat ons eet, het doodgegaan voor dit op jou bord beland het. Of dit ʼn slaaiblaar, ʼn boontjie, tamatie of vleis is. Daai ding het eens gelewe, hy is geoes, verwerk en dan eet jy hom. Ons moet waardering hê vir ons plek binne die skepping,” het hy gesê.

Swanepoel en sy gesin pas reeds vir jare lank hierdie leefstyl toe. Hy het gesê die eerste ding wat mense kan doen om ook só leefstyl te begin volg, is om toestelle weg te sit met kosmaak-en-eet tyd.

“Ek wil hê mense moet twee keer dink oor van die goed wat ʼn mens as vanselfsprekend aanvaar of alledaags beskou. Dat ʼn mens jou plek in die skepping sal besef en verstaan. Dat ons sal deelneem aan die krisisse van ons tyd, soos byvoorbeeld voedselsekerheid. En dat ons sal deelneem aan die oplossings daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fran ·

Wanneer kan ons ook kom aansit? Alles klink en lyk so keurig en met liefde voorberei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.