Ma pleit om hulp vir dogter wat van perd afval

Jemma-Ria op haar perd, Alice (Foto: Verskaf)

Emma Steyn vra mense om te help met haar dogter, Jemma-Ria (10), se mediese koste nadat sy van ʼn perd afgeval en haar arm gebreek het.

Steyn vertel dat hulle op haar ouers se plaas in Hertzogville gaan kuier het, toe sy van haar perd, Alice, afgeval het.

“Ek het nie die val sien gebeur nie, maar Jemma-Ria het net na my toe gekom en gesê sy het geval en haar arm is seer. Die arm was gekneus en geswel, maar ons het nie gedink dis gebreek nie. Sy het selfs weer op die perd geklim en aanhou ry,” vertel sy.

Twee weke later het Jemma-Ria al meer oor haar arm begin kla en gesê dit raak vir haar moeilik om haar skoolboeke te dra.

Steyn het haar die dag daarna vir x-strale geneem en hulle het vasgestel dat haar arm op twee plekke gebreek is, maar aangesien hulle nie ʼn mediese fonds het nie, moes Steyn ʼn lening aangaan om die mediese koste te dek.

“Ons lewe van maand tot maand. Daar is nie geld vir ʼn mediese fonds of besparings nie, en ons kon nie voorsien dat dit sou gebeur nie,” sê sy.

Jemma-Ria het vandag die operasie ondergaan, maar nou lê die groot berg nog vir Steyn voor om die lening terug te betaal. Daarom het sy ʼn Back a Buddy-veldtog van stapel gestuur om hulle te help om die teiken van sowat R35 000 in te samel, hoewel Steyn glo dit gaan eintlik veel meer kos.

Jemma-Ria net nadat sy uit die teater uit gekom het (Foto: Verskaf)

Die narkotiseur van die hospitaal waar Jemma-Ria geopereer is, het reeds ingestem om die narkose gratis vir die gesin te doen, en danksy die skarefinansieringsveldtog is reeds meer as R11 000 ingesamel.

“Ek wil net hê die mense moet bewus wees van haar situasie en selfs al kan hulle net R10 skenk, gaan dit ʼn verskil maak. Waarvoor ons hoop, is hulp – finansiële hulp,” sê Steyn.

Om finansiële hulp aan Steyn en Jemma-Ria te bied, volg hierdie skakel na hul Back a Buddy-veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melanie ·

So pragtige pop. Ek hoop jul kry baie meer as net die lening se geld sodat sy haar geliefde sport verder kan vat!! Sy lyk soos n regte ruitertjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.