Mannetjies Roux en die juweel van die Karoo

Mannetjies en Charlotte Roux na meer as ses dekades saam. (Foto: Theo Coetzee)

Deur Elize Perrin

Op die rugbyveld was Mannetjies Roux bekend vir sy spoed. Met sy liefdeslewe het hy dalk bietjie stadiger spoed opgetel, maar net soos met die bal onder die arm, geweet waarheen hy op pad is.

Die afskop

Mannetjies is in 1939 in Victoria-Wes se hospitaal gebore. Sestien jaar later ontmoet hy Charlotte Jooste by ’n rugbydag op Britstown, haar tuisdorp. Vra jy Charlotte of dit liefde met die eerste oogopslag was, antwoord sy ontkennend.

“Nee, ons het maar net gesels en toe uitgevind dat ons albei lief is vir sport,” sê sy.” Ek onthou nog hoe my moeder gesê het dat ek ordentlik met die man moet wees; hy kom uit ’n goeie familie.”

Charlotte was self ’n kranige atleet wat in hokkie, swem en tennis uitgeblink het.

’n Jaar later, in 1956, was dit weer ’n rugbydag wat hul paaie laat kruis het. Hierdie keer was dit op De Aar. Alhoewel albei in die Karoo gebore is, was Charlotte vir ’n tyd ’n leerder aan die Oranje Meisieskool waar haar tante skoolhoof was. Mannetjies en sy ma het op hul beurt, ná sy pa se dood, Kaap toe verhuis. Hy was slegs twee jaar oud. Hy het later sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi.

Op Stellenbosch het hul paaie weer ineen geloop.

“Ek is in 1957 Lugmag toe om te leer vlieg en in 1958 Maties toe om te leer rugby speel,” sê Mannetjies.

Charlotte was ’n tweedejaarstudent in liggaamlike opvoedkunde toe hy vir eers sy vlerke laat rus het om meer aandag aan sy voetwerk te gee.

“In daardie tyd het ons ’n paartjie geword,” vertel Charlotte.

In September 1962 begin die belangrikste wedstryd van hul lewe. Mannetjies en sy Juweel van die Karoo, soos hy na Charlotte verwys, tree in die huwelik. Dit was ’n groot gebeurtenis en ’n dag wat die pers op die klein Karoodorpie van Britstown laat toesak het. ’n Onthaal vir ’n paar honderd gaste is later op die Joostes se familieplaas, Doornkuil, gehou.

Die plaas en rugby

Die Rouxs stap die pad reeds meer as ses dekades saam, waarvan byna nege-en-vyftig jaar as getroudes.

“Ons het vyf jaar voor ons troue uitgegaan,” vertel Charlotte oor hul tyd saam.

In 1963 het hulle hul op die familieplaas, Noblesfontein in die Victoria-Wes-distrik, gaan vestig.

Soos met enige huwelik het die Rouxs ook hul uitdagings gehad. Destyds het rugbyspelers nie vergoeding soos vandag se spelers ontvang nie. Mannetjies moes vir elke oefening en wedstryd 350 kilometer Kimberley toe ry en terug.

Saterdae, wanneer Mannetjies gaan “voetbal” speel het, soos Charlotte daarna verwys, het sy vir die dorp tennis gespeel. Oorsese toere was ’n ander saak. Dan het sy dikwels tussen vriende en familie gependel. Ná haar oudste kind, Pietie, se geboorte het hulle ook baie by haar ma in Pretoria gaan bly. Laasgenoemde was die koshuismoeder van die koshuis Asterhof op die Tukkie-kampus.

“Die damestudente het Pietie vreeslik bederf,” vertel sy.

Dat haar ma ’n belangrike en ondersteunende rol in haar lewe gespeel het, is duidelik uit haar gesprekke.

“Dit was ook my moeder wat in 1968 vir my betaal het om die ondersteunerstoer na Frankryk mee te maak,” sê sy.

Ten spyte van al die uitdagings het Charlotte dit vir Mannetjies gegun om sy talent uit te leef. Syself het haar op verskeie maniere besig gehou. Sy onthou hoe sy en van haar buurvroue een maal per week saam met die vroue van die Biesiespoort-spoorweggemeenskap gekuier en saam handwerk gedoen het.

“Later het ons die vroue geleer om kerspit-borduurwerk te doen. Nog later het dit oorgegaan na borduur- en appliekwerk,” vertel sy. “Op die plaas het my kreatiwiteit losgekom.

Wanneer Mannetjies oorsee was, het oom Chris Massyn na die plaas omgesien. Laasgenoemde het die plaas vir huurders bestuur ná Mannetjies se pa se afsterwe.

“Oom Chris was al afgetree en ’n wonderlike en hardwerkende man,” vertel die Rouxs.

In 1969 het Mannetjies sy toer na die Britse eilande kortgeknip om terug te keer plaas toe.

“Dit was maar moeilike tye vir die boerdery,” sê Mannetjies

Charlotte stem saam. “Dit was vir my wonderlik op die plaas, maar ook swaar tye met die droogte.”

Nie lang rugbytoere, droogte of ’n mislukte waterbotteleringsaanleg jare later kon die Rouxs onder kry nie. Mannetjies en sy Juweel het geleer om die lewe se plettervatte te hanteer.

Mannetjies en Charlotte se troudag in 1962. (Foto: Butch Wessels)

Die bal aangee

In 1993 het die Rouxs dorp toe getrek. Hier het Charlotte die Victoria West Trading Post begin. Dit het ook die Mannetjies Roux-museum gehuisves en was ’n groot toeristeaantreklikheid op die dorp. Besoekers was dikwels gelukkig om Mannetjies daar raak te loop en kon ’n foto of twee saam met hom neem.

Die groot verhuising was egter in 2013 toe die Rouxs hul Karoo-wortels in die Kaap gaan verplant het.

“Ons is van die platteland na ’n hoogs Engelse gemeenskap,” sê Charlotte, “maar ons lidmaatskap by Constantia Rolbalklub was ’n wenner. Ons het deur die jare so baie Engelse vriende bygekry.”

Mannetjies beaam dit. Dis vir albei belangrik om steeds aktief te wees en daardie liefde vir sport uit te leef.

’n Suksesvolle spelpatroon

“Nee wat,” antwoord Charlotte wanneer jy wonder of Mannetjies romanties is. “Hy is net baie goed vir my. Hy sal wel vir my ’n roos uit die tuin bring as ek verjaar.”

Hulle resep vir die lang saamwees is eenvoudig.

“Dit het begin as ’n diep vriendskap wat gelei het na ’n troue,” sê Charlotte. “Daar is nog steeds liefde, respek en dieselfde belangstelling in sport en mooi musiek.”

Hulle stem saam dat hul kinders, Pietie en Francettte, ook ’n belangrike rol in hul huwelik speel. Saam met skoondogter Emma, skoonseun Theo en vyf pragtige kleinkinders, is die familieprentjie voltooi.

Dit is dan ook hul wens dat, tot die eindfluitjie blaas, hulle mekaar, die kinders en kleinkinders kan geniet.

“En Noblesfontein is ons anker,” sê hulle. “Die kinders vat ons nog gereeld plaas toe.”

Rustyd het nou vir die Rouxs aangebreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Andrew ·

Dit was nou lekker om te lees baie beter as die alerdaagse moord, roof, korupsie en covid.

marius ·

Spiekeries op die radio . ” En hy gee die bal vir Corra Dirksen , en hy gee die bal vir Mannetjies Roux en daar trek Mannetjies Roux en hy gaan hom druk en hy druk hom ! Goeie tye !

MakersMark ·

Fantastiese artikel. Mense wat iets beter as die huidige in SA weerspieël. En Mannetjies – wat ‘n speler was hy nie. Kon enige verdediging aan flarde hardloop.

Anti-Verkramp ·

Hulle moes in ‘n stadium in Durbanville gebly het want hulle het ‘n slaghuis daar gehad. In 1988 het ek by Volkskas Durbanville as kassier gewerk en hy het gereeld daar by my sy depositos kom bank. Klein in postuur, kan amper nie glo hy het daai hoogtes in rugby bereik nie. Legende.

Etteroog ·

My oorlede pa het my vertel dat mannietjies die soort man was wat wanneer hy ‘n teenstaander op die rugbyveld geloop het, hulle hom afgedra het! Ek wonder net hoe waar was dit? Dan onthou ek ook vir Ulrich Schmidt wat sy eie pasiente op die veld gewerf het!

Menan ·

Hier in die vroeë tagtigs was daar ‘n Roux familie in Kestell en hulle het so ses of sewe dogtertjies gehad. Uiteindelik het die vrou ‘n seuntjie gekry en hulle het hom Mannetjies gedoop. Ja waarlik, op die outjie se geboortesertifikaat staan “Mannetjies Roux” !!

Boer ·

Oom Mannetjie jy is n legend. My pa het mooi stories van Oom vetel van die kort rukkie wat jy in die lugmag was. Ek sal wat wil gee om jou hand te skud eendag. Groete aan Mannetjies Roux!!!!!!!!!!!!!!!!

Anti-Verkramp ·

Hierdie ouens verdien respek. Amateurs wat 100 de kilometers gery het net om te gaan oefen. En wat het hulle daarvoor gekry behalwe die roem (wel Mannetjies is darem ‘n legende maar wat van al die ander ouens wat ook die opofferings gemaak het). Deesdae is dit mos ‘n besigheid, doen dit vir geld.

Rupert Ashford ·

Het hom eenkeer in Victoria Wes by die Trading Post ontmoet saam met my Pa. So beskeie…en hy was een van my Pa se helde van die Griekwas Curriebeker span van 1970.

Eclectus ·

Hulle eenvoudige resep blyk waar te wees. Ek dink dit was Friedrich Nietzsche wat gesê het dat huwelike gaan nie ten gronde weens ‘n gebrek aan liefde nie, maar weens ‘n gebrek aan vriendskap.

Ek is in 1964 in dieselfde hospitaal gebore terwyl my ouers op Hutchinson gewoon het. Ek het eers op my pa se begrafnis in 2017 gehoor dat sy spoorweg spoeg en plak span een Saterdag met Mannetjie se dorpspan iewers op ‘n stuk kaal grond afgereken het. Blykbaar was die wedstryd onderbreek sodat die stof kans kon kry om te gaan lê.

Willem ·

Ek is ook in die Victoria Wes Hospitaal gebore sowat 4 jaar na Mannetjies. Ek was by op Mannetjies en Charlotte se troue. Dit was ‘n grend affere. Dit was my laaste jaar up skool. Daarna het ek so nou en dan vir hulle raakgeloop wanneer ek terug huistoe gekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.