ʼn Dag in die lewe van ʼn internasionale model

Chantelle Pretorius en Jordan van der Vyver (Foto: Mej. SA Organisasie)

Jordan van der Vyver en Chantelle Pretorius is albei voltydse internasionale modelle wat vanjaar onder die top-10 finaliste van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie is. Hulle bring in normale omstandighede ses maande van die jaar oorsee deur waar hulle hul werk verrig.

Van der Vyver het in 2010 met deeltydse modelwerk begin, maar is vanaf 2014 ʼn voltydse model. Pretorius vertel dat sy op 17-jarige ouderdom deur ʼn modelagentskap raakgesien en reeds vier jaar ʼn voltydse model is.

Pretorius vertel dat elke dag in ʼn model se lewe verskil.

“Elke dag bring sy eie uitdagings en nuwe avonture. Ná ʼn vol dag se werk hou ek daarvan om ʼn gesonde aandete voor te berei en om vriende en familie te bel. ʼn Goeie slaappatroon is vir my belangrik, so ek probeer altyd vroeg bed toe gaan as ek die volgende dag werk.”

Jordan van der Vyver (Foto: Mej. SA Organisasie)

Van der Vyver sê sy hou daarvan om vroeg op te staan op die dag wanneer sy ʼn fotosessie het. Sy doen vooraf oefeninge en dan gaan sy met ʼn skoon vel, hare en naels na waar die sessie plaasvind.

“Die grimeerkunstenaars vat gewoonlik so ʼn uur of twee om my hare en grimering te doen en dan word ek aangetrek. Die eerste skoot vat gewoonlik die langste, maar daarna kry ons ʼn goeie ritme en dan is dit maklik.

“Ons kry ook ʼn tydgleuf vir middagete, waarna ons eers ons hare en grimering laat opknap en dan die sessie afhandel.”

Van der Vyver verwyder dan die grimering en gaan huis of gimnasium toe. Sy hou daarvan om saans kos te maak, te lees en te ontspan. Op dae wanneer sy nie ʼn fotosessie het nie, werk sy steeds aangesien sy potensiële kliënte gaan spreek en inhoud skep vir haar sosialemediaplatforms.

Van der Vyver en Pretorius het al oor die wêreld heen fotosessies gehad, maar Van der Vyver sê haar gunstelingbestemming sal altyd Kaapstad wees. Pretorius sê sy het gereelde kliënte in die klein Portugese dorp Guimaraes en dat dié dorp daarom al vir haar soos ʼn tweede tuiste begin voel.

Chantelle Pretorius (Foto: Mej. SA Organisasie)

Hoewel ander lande talle nuwe ervarings bied, vertel Pretorius dat sy veral Suid-Afrikaanse kos mis wanneer sy oorsee reis.

“Die weer, bekostigbare leefstyl en die kos is wat ek die meeste mis. Ek mis biltong, tuisgemaakte beskuit en ʼn behoorlike biefstuk wanneer ek lank weg is.”

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie vind op 24 Oktober plaas en sal regstreeks op M-Net en Mzanzi Magic uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.