’n Huis van hoop vir meisies

Foto ter illustrasie. (Foto:
Diego San/Unsplash)

Deur Maretha Botes

Na beraming is daar meer as tienduisend kinderprostitute in Johannesburg en dié syfer is aan die styg. Khanyi Motsa en haar span by Home of Hope help om dié kinders se toekoms van hopeloos na hoop te verander.

Hulle visie is eenvoudig: Om kinderhandel in Suid-Afrika stop te sit en die kultuur van uitbuiting en geweld wat kinders van ʼn toekoms ontneem, te beëindig. Om dié wat hierdie tipe mishandeling oorleef ʼn veilige hawe te gee, hul menslikheid te herstel en die geleentheid op ʼn lewe vol liefde en hoop te gee, is vir Khanyi topprioriteit.

Home of Hope for Girls het twee huise in die voorstede van Johannesburg waar hulle altesaam tagtig meisies huisves. Die meisies kom uit verskillende situasies, en die meeste van hulle is op een of ander manier misbruik. In baie gevalle is die meisies steeds in gevaar, al is hulle in die tehuis, en daarom word hulle identiteit, sowel as presies waar die huise geleë is, nie bekend gemaak nie.

Khanyi se oë het agtien jaar terug oopgegaan vir die seer en onreg wat soveel kinders moet verduur. Sy het besef hoe min die publiek van kinderhandel, sekshandel en die misbruik van kinders af weet toe sy self ooggetuie van ʼn situasie van kindermisbruik geword het. Dit is wat haar ondersoek laat begin instel het.

Op ʼn dag toe Khanyi by haar woonstelvenster oor Hillbrow se strate uitkyk, was sy verbyster oor ʼn klompie dogtertjies wat by ʼn verkeerslig saamgedrom het. Met hulle einaklere, vuil hare en witskurwe lyfies was dié patetiese gesig een van die hartseerste goed wat sy nog ooit gesien het. Sy het uitgestap en hulle gaan groet. Khanyi onthou hoe sy in daardie kinders se moeë oë gekyk het. Al wat sy gesê het, is: “Julle is só pragtig. As julle ooit lus het vir ʼn koppie tee, hoef julle slegs aan my deur te kom klop.”

Dankie-briefies aan die “Home of hope” in Johannesburg. (Foto: www.homeofhopeforgirls.org.za)

ʼn Veiligheidswag by die woonstelgebou waar Khanyi gebly het, het aan haar vertel dat die meisies prostitute is en dwelms namens hulle “pimps” verkoop. Nie lank hierna nie het twee van die kinders onseker voor die woonstelgebou vir haar gewag. ʼn Dag daarna was daar vier, en so het hulle vermeerder. Nie een van die kinders was van dieselfde dorp of stad nie en hulle het uit verskillende provinsies gekom, onder meer Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo. In ʼn stadium het sy sestien kinders in haar klein woonstelletjie gehad. Die wete dat hierdie kinders onder valse voorwendsels van hul families af weggeneem is om deur volwassenes verniel en mishandel te word, was wat haar gedryf het. Sy verduidelik dat wat sy gedoen het allermins veilig was. Daar is soveel wat verkeerd kon gaan, maar sy weet die Here se hand was oor haar. Sy het “in die hole waar die kinders aangehou is” ingestap, vir die mans (“pimps”) gesê hulle moet terugneem wat hulle s’n was (gewoonlik maar dwelms wat die meisies onder hulle klere versteek het om te verkoop), en toe die dogters daar uitgeneem.

“Kriminele betaal agente om die kinders in alle provinsies te werf – enige dorp. Hulle teikens is gewoonlik weeskinders of kinders uit baie arm gemeenskappe. Die kinders word dan met blink stories oor goeie skole en ʼn opvoeding in die stad gewerf. Natuurlik alles leuens,” sê Khanyi.

Sodra die kinders eers saam met die agente, gewoonlik ʼn man en vrou, in die kar is, word hulle nooit weer gesien nie. Hulle ID’s word afgeneem om identifikasie en ʼn wegkomkans te bemoeilik, en die ID’s word dan dikwels op die swart mark verkwansel.

As hulle dan eers deur hulle nuwe “eienaars besit word”, word hulle as prostitute uitverhuur, misbruik en gedwing om dwelms te verkoop.

“Mense het al vir my gesê ek was dom, en het sonder besigheidsin opgetree, maar daar was nie nog tyd om te dink en behoorlik te beplan nie. Ek moes inspring en net dóén, want die kinders was in groot nood.” Sy het ʼn komitee gestig en Home of Hope for Girls het die lig gesien. In 2011 het First National Bank vir hulle ʼn huis geskenk, en ʼn tweede huis is onlangs deur ʼn entrepreneur geskenk.

Hoewel Khanyi en haar span se eerste prioriteit is om die meisies wat by hulle beland met hul families te herenig, is dit in min van die gevalle weens verskeie redes moontlik. “Dan hou ons hulle hier by ons en gee vir hulle ʼn huis, ʼn familie, liefde en ondersteuning,” sê Khanyi.

Oortreders word in die meeste gevalle aan die polisie oorhandig en regstappe word geneem. Khanyi vertel van twee gevalle waar sogenaamde “pimps” onderskeidelik 28 en 23 jaar tronkstraf opgelê is.

Meer as agtduisend meisies het die afgelope agtien jaar hulle lewens by Home of Hope teruggekry. (Foto: www.homeofhopeforgirls.org.za)

ʼn Span vrywilligers, individue en maatskappye was tot dusver Home of Hope se primêre bron van ondersteuning en het Khanyi gehelp om duisende kinders se lewens te verander. Die voltydse versorgers is met vaardighede toegerus om na die meisies se fisiese en emosionele behoeftes om te sien.

Meer as agtduisend meisies het die afgelope agtien jaar hulle lewens by Home of Hope teruggekry. Van hulle het verder na matriek met beurse en skenkings gaan studeer, en die wat nié gaan studeer het nie, het werk gekry en is selfonderhoudend.

“Dit is vir ons baie, baie belangrik om die kinders toe te rus om selfonderhoudend te wees sodat hulle hulself nooit weer in ʼn benarde situasie vind waar hulle nodig het om iets soos sekswerk te doen nie,” sê Khanyi. “Ons leer hulle van persoonlike grense en respek vir hulself en vir ander, hoe om vir hul lyfies te sorg, en wat dit beteken om skoon te wees. Ons leer hulle om verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar.”

Die grootste uitdagings vir Khanyi en haar span is befondsing. Baie dae gaan dit broekskeur, en weet hulle nie waar die volgende dag se brood vandaan sal kom nie. Die Covid-19-pandemie het boonop baie dinge verander en nog ʼn spul uitdagings oor hulle pad gebring. Baie borge moes onttrek omdat hulle self nie meer die mas kon opkom nie. Khanyi en haar span moes noodgedwonge die meisies tuis onderrig. Daar is maar oral gate wat daagliks toegestop moet word, en dis vir Khanyi moeilik om uit te sonder wat hulle die nodigste het.

As jy graag meer wil weet, of kontak wil maak, kan jy gerus by www.homeofhopeforgirls.org.za gaan loer. Jy kan ook met Khanyi by [email protected] kontak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Wie is die kriminele is dit SA mense of buitelandse immigrante soos die Nigeriërs en somaliers wat die land se mense terroriseer, en hierdie hele ondenkbare sitsuasie kan weer voor die polisie se deur gesit word oor hulle onvermoë/onbereidwiligheid om hulle werk te doen.