’n Kykie agter die gordyn van ’n internskapjaar

Dr. Ellen-marie Trautmann wou nog altyd help om swaarkry te verlig. (Foto: Verskaf)

Die graduandi uit die Atterbury Trust se 20 jaar oue beursprogram laat ’n mens glo in die toekoms van Suid-Afrika, en dit is altyd bevredigend om dié hardwerkende jong mense se eerste treë in die arbeidsmark dop te hou. Maar as jy medies geswot het, soos dr. Ellen-Marie Trautmann, wat regdeur haar ses jaar van studie ’n A-gemiddeld gehandhaaf het, is daar nog ’n paadjie om klaar te stap voor jy kwalifiseer.

Ons het gaan hoor hoe dit met dié presteerder gaan waar sy besig is met haar eerste internskapjaar in die Noord-Kaap se grootste hospitaal, die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley, en het ʼn moeë maar passievolle jong dokter aangetref.

Die grootste aanpassing tussen student- en dokter-wees is die lang ure, verduidelik sy. Want tussenin die gewone “kantoorure” by die hospitaal, het die interndokters in die eerste drie maande ook hul sjirurgie-rotasie gedoen, wat ’n gemiddeld van sewe nagskofte per maand beteken.

“Dan is mens langer as 30 uur op ’n slag op jou voete,” vertel Trautmann.

“Ek het ’n paar wonderlike pasiënte gehad wat soggens ná my skof dwarsdeur my moegheid kon sien en hul eie pyn eenkant sou skuif om te vra of ek oukei is. Mens probeer om hulle soveel tyd en aandag te gee as wat hulle verdien, al is jy uitgemergel! Dit is regtig moeilik. Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) keur nie sulke lang ure amptelik goed nie, maar die riglyne word ongelukkig geïgnoreer as daar nie genoeg personeel is nie.”

Trautmann vertel sy was van kleins af bewus van ander se swaarkry en die verskil tussen dié wat het, en dié wat nié het nie.

“Ek onthou toe ek tien jaar oud was, het ek die ‘planne’ geteken vir die kinderhuis wat ek eendag sou bou. Ek dra daardie gevoel van ongeregtigheid van kleins af saam met my.”

Namate sy grootgeword het, het sy besluit dat medies ’n goeie manier sou wees om haar intellektuele vermoëns in te span terwyl sy terselfdertyd haar hartsbegeerte vervul om ander se swaarkry te verlig. As dokter sou dit haar ook geloofwaardigheid en invloed gee om groter positiewe veranderinge binne die gemeenskap te kon aanbring.

“Maar dis ’n lang pad en ek reken die moeilikste jare lê voor my met hierdie internskap en die gemeenskapsdiensjaar.”

Was sy al ooit spyt oor haar beroepskeuse? Trautmann dink, en antwoord dan uit haar hart uit. “Soms, ja. Dis meestal wonderlik om met my pasiënte te werk, maar dit kan baie oorweldigend wees. Dit beproef mens se geestelike, fisieke en emosionele uithouvermoë soos min ander beroepe. Dit is nie die moeilike pasiënte, of siektes, of dood wat dit so moeilik maak nie – dis ongelukkig die wanfunksionele stelsel en beperkte hulpbronne wat keer dat jy jou werk met jou pasiënte doeltreffend kan doen.

“Die mediese beroep sou meer heilsaam gewees het as die personeel nie oorwerk en uitgebuit was nie, en as dokters net soveel vir hul eie en hul kollegas se welstand omgegee het as vir hul pasiënte s’n. Wat ongelukkig gebeur, is dat baie dokters koud, hard en hiërargies word.”

Haar manier om gemotiveerd te bly, sê sy, is om te fokus op haar langtermyn-doelwit, om binne gemeenskappe te werk en om veranderinge aan te bring wat meer as een mens op ’n slag aanraak.

“Ek wil help om siekte te voorkom deur opvoeding en veranderinge aan die maatskaplike omgewing, eerder as om net oneindige rye siek mense te behandel,” verduidelik sy. Hiervoor hoop sy om eendag familiegesondheid te beoefen, binne openbare gesondheid of as ’n gespesialiseerde algemene praktisyn.

“Palliatiewe sorg, waar mens met terminale gevalle werk, is ook ’n baie spesiale veld, en na aan my hart,” sê sy.

“Die gunstelingdeel van my werk is die persoonlike wisselwerking met pasiënte; om hul dag beter te maak met ’n glimlag, ’n gedeelde grappie, ’n gesprek wat wys dat ek hul omstandighede verstaan, of deur vir hulle antwoorde en oplossings te gee. Dis ’n unieke posisie om in te wees, en dit verg baie vertroue om sulke verhoudings te bou.”

As Trautmann nie pasiënte versorg nie, skryf sy ook stories oor haweloses vir die George Herald, ’n uitvloeisel van ’n gemeenskapsprojek in haar finale studiejaar.

“Ek wil die ongemaklike waarheid wys dat baie mense net een ongeluk weg is van haweloosheid, en dat baie van ons nie só anders is as daardie hawelose persoon wat jy dalk as minderwaardig beskou nie. Ook, dat dit belangrik is om aan haweloses ’n stem te gee in ’n samelewing wat so graag sy eie oplossings afdwing op ander sonder om te luister na die behoeftes van die groep wat hy sogenaamd wil bystaan.”

  • Klik hier om Trautmann se jongste gevallestudie vir die George Herald te lees. Om meer te wete te kom oor Atterbury Trust se beursfonds, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.