’n Nuwe lewe ná ’n positiewe status

Barbara Kingsley (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Vrees kan nie verander word nie, maar ons persepsie daarvan kan…

Barbara Kingsley het nooit verwag hoe vyf woorde deur haar dokter haar lewe kon verander nie. Vandag erken sy dat dit nie haar MIV-status is wat verander het nie, maar die manier waarop sy verkies om dit te sien. Dit is ’n ingesteldheid wat sy uitbrei na alle aspekte van haar lewe en ’n omvattende rewolusie in haar lewe soos sy dit ken, veroorsaak het.

Die oomblik van waarheid

Dit is Desember 2000 en Barbara het besoek afgelê by haar dokter. Die uitspraak – “Dis positief, ek is jammer”.

Daardie vyf woorde uitgespreek deur haar dokter het onmiddellik haar hele lewe vir altyd verander. Sy het met onbegrip geluister hoe haar hele lewe, soos sy dit geken het, letterlik voor haar oë verbygeflits en verdwyn het. Vrees het met yskoue kloue stadig teen haar nek afgekruip en geleidelik deur haar liggaam versprei, haar wese verswelg.

“Alle gevoel het my liggaam verlaat. Tyd het gaan stilstaan. Ek kon sien hoe my dokter se mond beweeg, maar ek kon nie ’n enkele woord hoor wat sy gesê het nie. Die stilte was oorverdowend. Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het my wêreld weer begin draai, maar dié slag in stadige aksie. Ek het siek gevoel tot op die krop van my maag, aangegryp deur uiterste vrees soos wat ek nog nooit in my lewe ervaar het nie en wat ek nooit gedink het ek sou ervaar nie. Tot vandag toe.”

Alles het verander. Vir altyd

Aan die buitekant van die spreekkamer se deur, is Barbara begroet deur die buitewêreld waar niks verander het nie. Tog, alles hét verander.

Hierdie vyf woorde wat op my skouers kom rus het, het pas my lewe kom verwoes en ek het met absolute sekerheid geweet van vandag af kon my lewe nooit weer dieselfde wees nie. Dieselfde warm son het my wange gesoen, net soos ’n paar oomblikke vantevore en ek het by myself gedink, wat gaan ek nou doen?

Barbara Kingsley het in Desember 2000 MIV positief getoets. Dit het totaal en al as ’n skok vir haar gekom en die diagnose was heeltemal onverwags. Vir die volgende agt jaar het sy geleef in ’n plek wat sy ’n oppervlakkige aanvaarding of selfs ontkenning noem.

“Ek was redelik gemaklik om MIV positief te wees (of so het ek gedink), mits ek nie siek word nie. Ek het gedink ek het alles uitgewerk, maar in werklikheid was ek bloot beheer deur vrees.”

Sy het geen idee gehad wat antiretrovirale terapie (ART) sou doen nie en het niemand gehad wat haar kon aanraai wat om te doen of waarheen om te gaan nie. Haar familie en ’n paar vriende wat sy wel ingelig het, het haar ondersteun, maar niemand kon werklik haar hand vat en sê wat om te doen nie.

As gevolg hiervan is sy byna dood. Haar CD4-telling (wat bepaal hoe hoog of laag jou immuniteit is) het geval tot slegs 86 en sy het baie siek geword. Uitputting het haar vriend geword en eenvoudige daaglikse take het onoorkomelike hindernisse geword.

Eerlikwaar, ek het geglo dat ek sou sterf. Maar ek het verkies om te baklei. Ek het so hard baklei vir my lewe – ek het geen ander opsie gehad nie as om my grootste vrees, dat ek uiteindelik eendag so siek sou word dat ek sterf, trompop te loop.”

Barbara het geen idee gehad hoe maklik dit eintlik vermy kon word nie. Sy het dit beslis nie toe geweet nie, maar weet dit vandag.

Nuutgevonde krag

Die oomblik toe sy begin het met haar ART, het sy beter geword en gevolglik ’n nuwe innerlike krag gevind wat sy nie eens geweet het sy besit nie.

“Ek het hoog bo my omstandighede uitgestyg en daaroor begin praat. Met hierdie nuutgevonde energie en innerlike krag wat ek ontdek het, het ek in 2008 na die Comrades Marathon op televisie gekyk. Uit die bloute is ’n brandende begeerte gebore om te hardloop. Nie die Comrades nie (iemand kan dit mos nie sommer net doen nie), maar net om te hardloop.”

Ongeag die feit dat sy nog nooit vantevore gehardloop het en ook nie ’n natuurlike hardloopvermoë gehad het nie, het sy stadig begin met 5 km op ’n slag.

“Van beswaarlik in staat wees om 100 m te kon loop toe ek siek was, tot om 5 km te kon hardloop, was ’n wonderwerk vir my. Ek het van krag tot krag gegaan en uiteindelik my eerste Comrades in 2013 suksesvol voltooi. Ek het deelgeneem as ’n openlike MIV-positiewe atleet as bewys wat gedoen kan word. Om oor die eindstreep te hardloop, sal vir altyd een van die mees ongelooflike oomblikke in my lewe bly.”

Marathonne

Barbara Kingsley (Foto: Verskaf)

Deel van haar hardloopreis was om geaffilieer te wees aan ’n niewinsgewende organisasie (NGO), gestig deur my heldin, Evelina Tshabalala, ook ’n langafstandatleet en MIV-positiewe individu.

Die NGO maak staat op die enorme invloed van MIV-positiewe rolmodelle en die platform vir hulle om te praat oor ’n positiewe leefwyse met die virus.

“Een van die inisiatiewe was om deel te wees van die ultramarathon-span, wat ek vir ’n paar jaar gedoen het. Vyf van ons, almal MIV-positief, het openlik deelgeneem aan groot en ultra marathonne in ’n poging om hoop en bewusmaking te bring.” (Om ’n paar te noem: City to City 50 km, Comrades 89 km, Soweto 42 km, Two Oceans Ultra 56 km.)

Daar is ’n ongelooflike vrees vir dié virus en dit kos mense letterlik hul lewens. Baie het geen idee wat ART’s doen nie of hoe maklik dit in werklikheid is om die virus te beheer nie. Die virus kan nie verander word nie, maar ons kan definitief die persepsie daaromtrent verander. En sodra ons daarin slaag, word ’n las gelig en lewens gered.

“Ek ondersteun die duisende mense wat met my in verbinding tree, verduidelik die belangrikheid en rol van ART, gee inligting oor die virus in die algemeen, voed mense daarin op en spoor hulle aan om te begin met behandeling en daarop te bly.”

Sommige van dié mense was op behandeling, maar het gestop. Barbara moedig hulle aan om te begin met die behandeling én daarop te bly en elkeen het. Die krag van onvoorwaardelike liefde en ondersteuning is merkwaardig. Tye het verander, behandeling is hoogs gevorderd en wanneer dit reg gebruik word (dus direk ná diagnose), is MIV nie oordraagbaar na ander nie en sal hulle nie siek word nie.

“Dis is hoe ons voortgaan om daagliks ons buitengewone lewens te leef. Baie mense kom na my en sê, ‘Ek het my broer of seun verloor as gevolg van Vigs; ek wens hy het jou geken’.”

Bewusmaking

Barbara werk by ’n groot regsfirma as ’n regsassistent in eiendomsreg, maar om bewusmaking te kweek en lewens te verander, is haar passie.

“Ek ondersteun nie net ander nie, ek is ook ’n motiveringspreker en deel my reis – nie net vanuit ’n oorlewingsaspek nie, maar ook hoe om vrees te oorkom. Dikwels is dit nie net mense wie se lewens geraak is deur MIV nie, maar mense wat ’n hindernis in hul lewens moet oorkom, wat geïnspireerd en gemotiveerd is, en dít is basies van toepassing op elkeen van ons.”

Barbara sê in die verlede was die feit dat sy met MIV leef, ’n groot bron van kommer en dit het baie haakplekke veroorsaak. Maar dit het haar ook vele seëninge op haar pad gebring.

“In baie aspekte was MIV ’n katalisator vir ’n merkwaardige transformasie in my lewe, en as gevolg daarvan, die lewe van talle ander. Ek leef en sal voortgaan om my lewe te leef as my outentieke self – vreesloos en onapologeties.”

Ingesteldheid

Soos Barbara haar lewe met ons deel, reflekteer sy op haar reis waar sy byna twee dekades met MIV leef.

Ek erken dat dit nie my MIV-status is wat verander het nie, maar die manier waarop ek verkies om dit te sien. Dit is ’n ingesteldheid wat uitkring na alle aspekte van my lewe en ’n omvattende rewolusie in my lewe, soos ek dit geken het, veroorsaak het. Ek is bewus van die buitengewone ingesteldheid (mind power) wat elkeen van ons besit en wat ons die vryheid en vaardigheid gee om die realiteit wat ons kies, te skep.

Ons het meer beheer oor elke aspek van ons lewe as wat ons besef. Eenvoudig gestel, wat ons kies om op te fokus, lok meer daarvan.

Die kwaliteit van ons lewe word bepaal deur die kwaliteit van ons gedagtes. Elke enkele een van ons het die vermoë om dit te doen.”

Barbara word nie langer oorheers deur vrees of ’n gebrek aan selfvertroue nie en dit is uiters bevrydend. Ons realiteit is wat ons kies en dit is met hierdie houding dat sy by die wegspringlyn van drie Comrades-marathonne gestaan het, op Suid-Afrikaanse televisie en radio verskyn het, in tydskrifte, koerante en selfs in die lewensoriënteringhandboek in die Suid-Afrikaanse skoolleerplan.

Sy lewer praatjies by klinieke, townships, hospitale, korporatiewe funksies, dwelmrehabiliteringsentrums, skuilings vir haweloses en mishandelde vrouens. Sy deel haar storie van oorlewing en transformasie met dokters en verpleegsters van oor die hele wêreld en deel die verhoog met kundiges (onder andere, professors en wetenskaplikes van die Universiteit van Rome, Thailand en die Vk.) by ’n werksessie van die WêreldMIV/Vigs-konferensie wat in 2016 in Durban gehou is. Dit deur die meisie wat nie skool klaargemaak het nie.

Dit is met hierdie ingesteldheid dat sy al gedans het op die maanligstrande van Zanzibar en geswem het saam met die dolfyne van Ponta do Ouro in Mosambiek. Sy het geduik saam met witdoodshaaie in Gansbaai, geskermsweef vanaf die berghange in Kaapstad, saam met leeus in Zimbabwe gestap, haar voetspore op die strande van Mauritius gelos, die sonsondergange van Koi Samui in Thailand omhels en die majestueuse toerisme-aantreklikhede in Singapoer ontdek.

Ek kyk dikwels terug op my lewe en kan nie glo dit is mý lewe nie. My vermoëns het nie verander nie, ék het. Ek het soveel drome en doelwitte bewaarheid en skep voortdurend nuwes.

“Uiteindelik is dit nie waarna ons kyk nie, maar wat ons verkies om te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.