ʼn Reis van ʼn duisend myl begin met die eerste tree

Daniel Naudé. Selfportret deur Ralph Rosenbauer.

Frankryk het vir Henri Cartier-Bresson, Amerika vir Steve McCurry, Hongarye vir Robert Capa, en Suid-Afrika…

Vir Daniel Naudé.

Afdrukke van sy kuns kan in, onder meer, die J. Paul Getty Museum in Los Angeles en Huis Marseille in Amsterdam besigtig word. Ook in Engeland of Rusland of in die wonings van Paul Allen, medestigter van Microsoft, Sol Kerzner, die Suid-Afrikaanse besigheidsmagnaat, en die Ruperts.

Meer onlangs kan sy boek oor die langhoring-Ankole-beeste, Cattle of the Ages, ook in die tuiste van die Hertog en Hertogin van Sussex gevind word. Dit ná pres. Cyril Ramaphosa, mede-outeur van dié boek, dit aan hulle as geskenk tydens hulle 2019 koninklike toer na Suid-Afrika gegee het.

Maroela Media het in Stellenbosch persoonlik met Naudé ontmoet om uit te vind hoe sy en Ramaphosa se paaie gekruis het om in 2017 Cattle of the Ages te publiseer. Maar dié internasionaal erkende fotograaf se loopbaan is gans te imponerend om net onmiddellik met die deur in die huis te val.

Onder die studieleiding van die kontroversiële strokiesprentkunstenaar en satirikus, Anton Kannemeyer, verwerf Naudé sy BA in visuele kunste in 2007 aan die Universiteit Stellenbosch.

Sy finalejaaruitstalling, wat onder meer bestaan het uit foto’s van die Africanus-hond het groot belangstelling by Michael Stevenson, medestigterslid van die Stevenson galery in Woodstock, gewek. Ná ʼn paar jaar van intensiewe werk op die Africanus-hond, het Stevenson hom aangemoedig om die reeks verder te neem waarna Naudé sy eerste boek, Animal Farm, deur die internasionale prestige-uitgewer, Prestel, in 2012 gepubliseer het.

Vandaar sy reistog om deur fyn waarneming alledaagse voorwerpe met adellikheid te aksentueer.

“Dit is die ding van die onsigbare, goed wat jy nie meer eintlik raaksien nie. En dat kuns eintlik ʼn vorm van ontdekking is. Dít is wat kuns is, jy ontdek iets nuut” vertel Naudé.

In 2011 is hy gekies om aan die inwoningsprogram by die Anderson Ranch in Aspen, Colorado in die Verenigde State van Amerika deel te neem. Dié program bestaan uit 14 kunstenaars van oor die wêreld heen wat die geleentheid gegun word om vir drie maande slegs op sy of haar kunsvorm te fokus.

“Jy raak ontsettend geïnspireerd. Ek ontmoet een van die kunstenaars. Sy stel haarself voor as Pat (Patricia Hannaway) en ek vra wat sy doen. Sy sê sy is hier om te skilder, maar is eintlik ʼn animasiekunstenaar. Ek vra wat animeer sy, waarop sy antwoord sy het Gollum van Lord of the Rings en Wendy van Toy Story ontwerp”.

“Die ervaring het my kuns vergroot. Jy ken net die Kaap en nou ontmoet jy al hierdie mense. Toe wil ek ʼn projek doen op net een dier. Ek kies toe beeste, die oudste makgemaakte dier. Ek wou werk met jukstaposisionering.”

‘Cattle of the Ages’-boekbekendstelling. Daniel Naudé en pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Verskaf deur Daniel Naudé.

In sy boek, Sightings of the Sacred (2016), is dit juis hierdie kontras – van die majestueuse langhoringbeeste van Uganda, die Zebu-bees van Madagaskar, en Indië se geverfde beeste tydens die Mattu Pongal-fees – wat die onderskeie kulture en tradisies rondom dié beeste uitbeeld.

Terwyl Naudé ná Sightings of the Sacred in 2016 aan sy volgende projek van skouduiwe werk, ontvang hy ʼn e-pos.

“Van Cyril af wat sê hy het hierdie Sightings of the Sacred met die beeste gesien en of ek nog die foto’s het. Net so ’n kort e-pos wat eindig met, Regards, Cyril.

“Ek wonder wie is Cyril. Ek kyk na die van. Ramaphosa. En antwoord toe onmiddellik. Ek sê, ja, wat kan ek doen? Hy sê hy het van die Ankole-beeste ingevoer en hy wil weet of ek foto’s kan neem van sy beeste. Ek antwoord ja, of course, any time.” Naudé lag terwyl hy dit vertel.

Ramaphosa, wat in 2016 nog die adjunkpresident was, het toe reeds ʼn besige rooster gevolg. Nadat Naudé verskeie kere die navrae van Ramaphosa probeer opvolg het, kom Ramaphosa nie terug na hom toe nie. Kort voor lank het die ANC ʼn politieke geleentheid op die Beyerskloof-wynplaas net buite Stellenbosch en Naudé besluit hy gaan dit bywoon en ʼn kopie van Sightings of the Sacred saamneem.

“Hy weet nie hoe ek lyk nie, maar hy ken my werk. Ná afloop van die praatjie kon mense na hom toe gaan. Toe loop ek na hom toe, en gee vir hom die boek met die groot majestueuse Ankole-bees voorop. Hy kyk na die boek. Hy haal sy bril af, en trek met sy vinger so oor my naam regs bo in die hoek en vra vir my: ‘Is it you?’ ”

“Ons is toe hooked.”

‘Sightings of the Sacred’. Foto: Verskaf deur Daniel Naudé

Ná maande se intensiewe werk van foto’s neem op Ramaphosa se plaas, Ntaba Nyoni in Mpumalanga, stel Naudé voor hulle stel ʼn boek saam. Daar is besluit hy neem die foto’s en Ramaphosa skryf die teks.

“Ons het verskriklik baie oor die foon gepraat. Hy bel my halftien in die aand en dan praat hy eers vir ʼn uur of twee, so ons verhouding was goed. Dit is nou nog goed.”

Hy doen al Ramaphosa se bemarking en sy stoet se logo’s. Hy dien op die uitvoerende raad van die Ankole-vereniging saam met Ramaphosa, en is ook die voorsitter van die Ankole-beestelersgenootskap van Suid-Afrika. Hy besit ook self van die beeste. Ramaphosa het reeds in 2004, tydens ʼn besoek aan die Ugandese president, Yoweri Museveni, in aanraking met dié besonderse bees gekom. Hierna het hy die eerste Ankole-beesteler in Suid-Afrika geword.

Naudé glo as kunstenaar moet jy krities wees op jouself om elke keer die mark te verras en te stimuleer.

“Jy moet die heeltyd probeer ontwikkel en verbeter.” Hy doen dit ook.

Sy huidige projek behels die gebruik van ʼn mikroskopiese kamera om ʼn reeks insekte af te neem. Die kamera wat uit 12 dele bestaan en waarvan daar slegs drie in die wêreld is, huur hy uit Switzerland. Dié ongelooflike stuk tegnologie stel hom in staat om foto’s van uiterste hoëdefinisie te neem.

“Jy kan nie in die kamer sit as die kamera afneem nie, want dan skud dit. Die kamera neem nagenoeg 1 000 meervoudige skote van een insek. Ek werk nou al vir twee jaar aan agt foto’s. Want jy moet die foto’s bymekaar sit.”

Sommige insekte waarop hy werk is ouer as ʼn eeu en sluit, onder meer, ʼn leeumot, vlieë en bye in. Hy werk nou saam met ʼn doktor van die departement van bewaringsekologie en entomologie van die Universiteit Stellenbosch, by wie hy ook dan dié eeu oue insekte leen.

Naudé brei nie te veel uit oor die nuwe projek wat moontlik middel volgende jaar bekendgestel word nie. Hy voeg darem by dat die konsepidee reeds vas is en dat dit vyf hoof elemente insluit oor waarom die keuse van juis insekte.

Naudé verduidelik: “Kuns is ʼn baie alleending. Dit vat baie uit jou uit. Om alleen te gaan sit en te besluit hierdie is my konsep en idee. Sonder om te weet of iemand daarin gaan belangstel. Die ding van kuns is, jy moet byna outisties-perfeksionisties wees.”

So wanneer besluit jy dat ʼn projek gereed is vir uitstalling?

Naudé antwoord: “Daar is ʼn punt waar jy jouself moet verlos. Jy moet wegloop.”

  • Naudé se werke kan by die Everard Read Gallery in Kaapstad, Johannesburg en London besigtig word. Indien jy hom wil kontak oor een van sy boeke kan jy ʼn e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.