’n Weggooitafel vir Kersfees

V.l.n.r. staan Oupa, Tara, Blommie en Dula. (Foto: Eunice Stoltz)

Onder die welige akasias langs ’n besige N1, rigting Kaapstad, sit Natplaas se Blommie, Dula, Tara en Oupa. Links is die Fort Ikapa Militêre Basis. Regs die eens besige Monte Vista-treinstasie. In die verte is Tafelberg, liggies bedek met sy wolkekleed, asof gereed vir die Kersfeesmaaltyd en feesvieringe.

Afhanklik van aalmoese van motoriste wat soms stilhou om kospakkies op Kersdag uit te deel, weet die inwoners van Natplaas gewoonlik nie wat op hulle Kerstafel gaan wees nie. Maar dat daar samesyn op Kersdag gaan wees, dít is seker.

Samesyn, of saamwees, is iets wat elke permanente inwoner van Natplaas ken. Al verg dit ook dat jy jou enigste of laaste met die buurman langs jou deel.

“Ons moet,” verduidelik Tara, wat reeds sewe jaar as hawelose op Natplaas woon.

“As sy honger is – sy wys na Blommie – dan gaan ek nie vir haar nee sê nie. Ons sal vra ‘het jy nie vir my ’n ui daarso nie, my pot maak’ie vol’ie’. Ons help mekaar.”

Dis einste Tara wat ook besig is om ’n tafel vir Kersfees gereed te kry. Sy het per toeval op dié tafel afgekom toe sy met haar trollie in woonbuurte loop skarrel het. Iemand wou dit weggooi.

“Ek is besig met ’n houttafel by waar ons almal kan sit en saamwees” vertel Tara. “Ek is besig om dit af te skuur, ek kort nog varnish om dit mooi te maak, dit mag dalk ’n ruk neem om te kry.

“Ons is gewoonlik hier vir Kersfees. Gewoonlik chill ons onder die bome en hê ’n dop saam of so, en wag op die Here se Hand. Die karre stop hierso.”

Tara se Kersfeestafel. (Foto: Eunice Stoltz)

Ons droom saam oor vanjaar se Kersfeestafel…

As hulle self kon besluit wat op die tafel moet wees, wat sou hulle kies?

Blommie is eerste om te antwoord: “Enige iets, jong, ons kan nie nog uitsoek nie”. Dan is dit haar man, Dula, wat byvoeg: “Alles, net wat daar moet wees”.

Maar as julle sélf kon kies?

Dan praat hulle gelyk van “tong en koue vleise, lanklaas sulke goed geëet. En dessert, terte en so…”

Opgewondenheid begin posvat en ons sien al meer uit na dié Kersete. Maar wat van geskenke, as julle self kon kies?

Oupa is eerste om met ’n breë glimlag te antwoord: “Enige iets!” Tara stem saam en sê “enige iets is beter as niks”.

Dit is Dula wat ná ’n ruk wel iets spesifieks noem. Nie baie geld of ’n huis nie. Nee.

“’n Bakkie, dan kan ek my eie jobs gaan doen”, want Dula is ’n verwer, en ook ’n motiveringspreker meen hy, en begin lewenslesse oordra.

Oupa maak gereed om vir sy familie in Elsiesrivier te gaan kuier. (Foto: Eunice Stoltz)

Dan val Tara hom in die rede. Sy en Blommie weet nou wat hulle vir Kersfees wil hê. Blommie soek ’n kraan vir water – nie gratis nie, hulle sal betaal om water uit die kraan te kry, dis beter as om nou daarvoor te moet vra. Háár wens is ’n identiteitsdokument – ’n noodsaaklike iets wat hulle in staat sal stel om aansoek vir ’n toelaag te doen. Ongelukkig is hul dokumente in ’n brand vernietig toe wetstoepassers hul tente afgebrand het in ’n poging om hulle van die grond te verwyder.

Maar ’n trollie of ’n fiets sal ook van groot hulp wees, voeg Tara by.

Is vanjaar anders as verlede jaar?

“Natuurlik!” meen Tara logies.

Dis Dula wat verduidelik: “As gevolg van die korona is daar nie geld of inkomste nie. Selfs al gaan skarrel ons, is daar min. Ons word ook deur buurtwagte gekeer asof ons iets wil steel. Ons wil net skarrel. Verlede jaar was daar darem twee dae per week wat ek kon verf, dan is dit ’n ietsie wat ek vir my kinders ook kan stuur.

“Verlede jaar was goed, ons het selfs ’n Kersfeesboom gehad,” vertel Dula.

“Verlede jaar het mense gestop en gevra of ons bereid sal wees om dié werk of daai werk te doen, en ons is. Ons sal enige iets doen, van vroeg tot laat. Maar dié jaar is daar net niks,” sê Tara, wat ook byvoeg sy stuur geld vir haar twee dogtertjies in Elsiesrivier.

Blommie en Dula se woning. (Foto: Eunice Stoltz)

Vir byna ’n dekade is Natplaas ’n heenkome vir dié wat geen het nie. Die grond behoort aan die weermag. Hulle is glo nice en wil elders beter behuising vir die inwoners soek. Maar hulle soek al glo vir jare. Daar is geen toegang tot water of elektrisiteit op Natplaas nie. Miskien nog water, wanneer die winterreën die grond in ’n rivier omskep; jeens die naam, Natplaas.

Maar dit is amper Kersfees, vir baie bring dié tyd nuwe hoop.

Sien julle ’n uitkoms?

Dula gee ’n oortuigende “ja!”.

Tara voeg by: “Ja, dit kan steeds gebeur. Ons het nog geen koronagevalle gehad nie. So die Here is steeds met ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.