Natasha Mazzone: Vuurvretervrou van die DA

Natasha Mazzone. Foto: Facebook

Suid-Afrika onthou haar as die blonde vuurvretervrou wat op TV kaalvuis onder minister Lynne Brown ingeklim net ná laasgenoemde moes bontstaan oor beweerde korrupsie en staatskaping. Nou is Natasha Mazzone aangewys as die Demokratiese Alliansie se hoofsweep. Pierre Massyn wou namens Maroela Media meer weet van hierdie vreeslose politikus met die sterk Italiaanse bande.

MM: Hoe voel jy oor jou aanstelling as hoofsweep van die DA?

Mazzone: Dis ʼn enorme eer. Dis ook ʼn massiewe verantwoordelikheid. Ek staan op die skouers van reuse en ek durf nie faal nie.

MM: Het jy vertroue in die DA dat julle nog ʼn rol kan speel in Suid-Afrikaanse politiek ná die onlangse skommelinge en die reeks bedankings?

Mazzone: Ek het meer vertroue in die DA as ooit vantevore, dat ons die enigste party is wat Suid-Afrika uit die patetiese toestand kan uitlei waarin ons onsself tans bevind en saam ʼn suksesvolle en veilige land waarin ons almal woon, kan  verseker. Geen mens is groter as die party nie. Ek is trots daarop dat my party homself ondersoek en ons leiers aanspreeklik hou. Dit bewys volwassenheid in demokrasie en dit versterk slegs ons organisasie.

MM: Is dit jou ambisie om DA-leier te word?

Mazzone: Dis geen geheim dat ek in die leierskap van die DA wil wees nie, en ek bevind my tans daarin. Ek hoef nie die leier te wees om ʼn waardevolle bydrae te maak nie. Ek ondersteun John Steenhuisen 100% as leier. Hy is die regte persoon vir die werk.

MM: Suid-Afrika het jou soos ʼn tierkatwyfie sien baklei in die politiek. Hoe voel jy daaroor? Dink jy jy verdien hierdie beskrywing?

Mazzone: Ek is vir seker geen verlepte blommetjie nie! Ek is ʼn sterk en vasberade karakter, vurig patrioties en passievol oor wat ek doen. Ek sal géén korrupsie duld nie en sal dit met alle mag tot my beskikking beveg. Ek skrik nie maklik nie en sal vreesloos baklei as my land aan risiko’s blootgestel word.

MM: Hoe reageer jy op mense wat sê die DA is ʼn wit party?

Mazzone: Ek reageer deur om my rond te kyk en mense van alle rasse te sien. Ek kyk na die provinsiale leiers en let op dat daar agt van kleur is en een wit. Ons is verreweg die mees gediversifiseerde party in die land.

MM: Maar as die DA ʼn wit leier kry, hoe kan julle hoop om swart stemme te trek?

Mazzone: Ons moet as ʼn demokrasie leer dat die kleur van jou vel nie bepaal wie jy kan verteenwoordig nie. Ek glo nie die kleur van die leier bepaal die stemme nie; dis ons beleid en hoe ons dit kommunikeer wat saak maak.

MM: Hoe het jy in die politiek beland?

Mazzone: Ek het altyd in politiek belanggestel en is deur my ouers aangemoedig om my strewe om my land te dien, na te volg. Op Tukkies was ek op die studenteraad en ook speaker van die raad.

Mazzone: Jy is van Italiaanse herkoms. Vertel my meer daarvan.

Mazzone: My familie kom van ʼn dorpie Pietrastornina in die provinsie Avellino, 60 kilometer na die binneland van Napels in Italië. Ek het nog verreweg die meeste van my familie in Italië en ek is baie trots op my erfenis hoewel ek trots Suid-Afrikaans is.

Ek is die jongste van drie kinders, ʼn laatlammetjie, 10 jaar jonger as my boetie Fortunato en my sussie Maria. Ek is absoluut versot op hulle. Ons is  ʼn hegte gesin en praat daagliks met mekaar. My ouers, Giovanni en Valerie is beide immigrante en ek en my boetie en sussies is eerstegeslag-Suid-Afrikaners.

Ek is in Pretoria gebore en het daar grootgeword. Ek is eers na die Sunnyside Primary School en toe na The Glen High School. Daarna het ek regte aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) studeer, maar nie klaargemaak nie. My pa is ʼn chef en was die eienaar van Villa San Giovanni in Pretoria en by die Carousel. Later het hy en my broer die Ritrovo Ristorante begin.

Toe my pa aftree, het hy ʼn onderneming met die naam BICCS begin wat in brood, roomyskoek, croissants, koffie en toebroodjies gespesialiseer het. My broer besit Forti Grill & Bar by Times Square Casino en sit die familietradisie voort. Hy is die intelligentste persoon wat ek ken, ʼn wonderlike kok, het die ongelooflikste stem en is baie beskermend teenoor my. My ma, Valerie, is tuisteskepper en sorg vir ouers en hulle gesinne. Sy is die grootste omgeemens wat ek ooit geken het, en die wêreld sal ʼn beter plek wees as daar meer mense soos sy was.

MM: Die hele Suid-Afrika het gesien hoe jy sekere ministers laat bontstaan het tydens die ondersoeke na staatskaping en die Eskom-debakel. Was dit die moeite werd? Het enigiets goed daaruit voortgespruit?

Mazzone: Dit was absoluut die moeite werd, ons het staatskaping blootgelê en Zuma se meelopers ontmasker. Ons het klagtes aanhangig gemaak en hulle word nou ondersoek. Die wiele van die gereg draai stadig, maar hulle draai.

MM: Het die stand van sake volgens jou verander nadat mnr. Ramaphosa as president oorgeneem het?

Mazzone: Daar het ongelukkig nie veel verander nie. Die ANC is  ʼn verdeelde party. Cyril Ramaphosa het doodeenvoudig nie die mag om hierdie toedrag van sake te verander nie.

MM: Het jy respek vir Cyril Ramaphosa as persoon?

Mazzone: My ondervinding van hom is dat hy my altyd met respek behandel het. Dit sny na weerskante toe. Ek stem nie saam met baie van die goed wat hy doen nie, maar hy tree minstens in die parlement respekvol op.

MM: Praat jy nog met Lynne Brown (gewese minister van openbare ondernemings wat deur Mazzone geroskam is)? Praat sy met jou? Is sy ooit aan die kaak gestel vir korrupsie? Of was sy nie korrup nie?

Mazzone: Ek praat glad nie met Lynne Brown nie en ek hoop die volgende keer dat ek met haar praat, sal dit in die hof wees wanneer sy verhoor word vir haar rol in staatskaping.

MM: Het jy na die Bokke se Wêreldbeker-oorwinning gekyk? Watter rol kan ons oorwinning te opsigte van nasiebou en genesing vir Suid-Afrika speel?

Mazzone: Ek het nog nooit in my lewe sulke trots ondervind nie. Die trane van vreugde het teen my wange afgerol. Watter wonderlike toesprake deur ons kaptein en die afrigter!  Ek was opnuut daaraan herinner hoekom ek doen wat ek doen en hoe ons sonder enige twyfel saam sterker is.

MM: Het jy hoop vir ons land?

Mazzone: Ek het massiewe hoop vir ons land. Suid-Afrikaners is dapper, vriendelik en vasbyters. Ek sien daagliks wat my kollegas doen. Ek weet ons sal deurtrek!

MM: As jy vir een maand president kon wees, wat sal jy doen?

Mazzone: Ek sal Eskom onmiddellik in twee entiteite verdeel en stede hul elektrisiteit van privaat verskaffers aankoop. Ek SAL verkoop, die onafhanklikheid van die Reserwebank herbevestig en Shabir Sheik se mediese parool nietig verklaar.

MM: Sou jy die doodstraf herinstel?

Mazzone: Ek sou nie.

MM: Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

Mazzone: Ek is lief vir kook en onthaal. Ek is totaal gek oor diere en ons gesinstroeteldier, ʼn skatlike Skotse terrier wat ons Angie McAzzone noem, kry baie van my aandag

MM: Beplan jy om eendag te bedaar en kinders te hê?

Mazzone: Ek is met ʼn wonderlike man en mede-DA LP Kevin Mileham getroud. Hy is my hartklop. Ek het nie kinders nie, en sal ook nie hê nie. Ek is die tante van drie nefies en twee niggies, wat ek met my broer en sussie deel. Daar is nie ʼn manier wat ek my eie kinders liewer as hulle sal hê nie. Hulle gee my vreugde en liefde wat onbeskryflik is en ek is ʼn gelukkige vrou om hulle in my lewe te mag hê.

MM: En wat is Natasha Mazzone se gunstelingdis?

Mazzone: Spaghetti-Napolitana soos net Papa Mazzone dit kan maak!

MM: Beste fliek wat jy ooit gesien het?

Mazzone: Life is Beautiful (La Vita e Belle).

MM: Beste oomblik in politiek?

Mazzone: My SONA-toespraak in 2018 toe ek in die parlement gesing het.

MM: Slegste oomblik?

Mazzone: Die eerste gewelddadige bakleiery in die parlement. Tande het letterlik oor die vloer gevlieg!

MM: Wat is die beste waardes wat jy ooit in jou lewe aangeleer het?

Mazzone: Praat altyd die waarheid, selfs al staan jy alleen. Ons het almal  ʼn storie om te vertel en niemand kan daardie reg van ons wegneem nie.

MM: Jou beste reisbestemming?

Mazzone: Thailand.

MM: Jou boodskap aan Suid-Afrika en sy mense?

Mazzone: Daar is niks in Suid-Afrika verkeerd wat ons nie kan regmaak met dit wat reg is nie. Ons hét dit!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Speedguard ·

Jy is ‘n yster, jy was die eerste persoon in die hele parlement wat lanks Gordan gaan staan het toe die eff hom begin bekruip het in die parlement al is hy nie deel van jou party nie, nie een “man” van sy eie party het die guts gehad om dit te doen nie dit wys jy is ‘n mens wat omgee vir ander ongeag….doen so voort!

Derick ·

Die nuwe YSTERVROU van die wereld en sy is van Suid Afrika.

Michiel ·

Desondanks haar postieve punte, nie onbeskaamd pro-Afrikaans.
My stem bly daarom by die Vryheidsfront Plus wat sonder twyfel #selfbestuur voorstaan.

Die toekomst van SA en Afrikaners is ‘n konfederale republiek. Vir Afrikaners ‘n lappieskombersland soos Boputhatswana ooit was.

Borrelbek ·

O ja, alles gaan mos regkom, so sê die lib. En toe glo ek dit.

Ja-Ne ·

@Borrelbek – wat het JY vandag gedoen om SA ‘n beter plek te maak, behalwe om op jou sleutelbord te tokkel en ander mense sleg te sê?

Anoniem ·

Sterkte – hou aan wat Jy doen want waarheid sal altyd oorwin !

JohanR ·

Selfs daai agtste wonder van die wereld ou Patricia de Lille, ‘n lekker paar warm klappe gegee terwyl die nog probeer het om burgermeester van Kaapstad te wees!! Respek!

Swanna ·

Ongelukig is jy by die verkeerde party want soos jy sê as ek, mag aanhaal, jy staan op die skouers van reuse. Laat een reus omval dan wil ek nie sien waar jy te lande gaan kom nie. Soek vir jou ‘n ander party want jy is ‘n vuurvreter en Ja-ne jy is nie veel beter as borrelbek nie.

KrokodilBotha ·

Sterkte met julle een suid afrika vir almal. Jy en jou party kan my tien rand wed dit sal nooit gebeur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.