Ontmoet ons wynboere: Daar word vroeg opgestaan op Akkerdal

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om nog artikels te lees. 

Akkerdal-landgoed is in die skilderagtige Franschhoek-vallei geleë, tussen majestueuse berge, met asemrowende vergesigte, eikebome en die standhoudende Bergrivier. Die eienaar, Pieter Hanekom, is ʼn wingerdboukundige en wynmaker. Hy sê wynmaak is deel van die Hanekom-familie se erfenis en kultuur en ʼn wesenlike deel van ʼn sinvolle bestaan.

Met so ‘n uitsig kan boer net ‘n plesier wees.

Die Hanekoms se geskiedenis in Suid-Afrika dateer sover terug as 1714. Sers. Pieter Jurgens Hanekom het as ʼn Duitse soldaat na Suid-Afrika gekom en met twee plase teen Simonsberg by Stellenbosch beloon vir sy uitstekende militêre diens. Soos dit met hom die geval was, was landbou in sy nageslag se bloed en buiten ʼn paar ander plase het die Hanekoms Nuwerus en Bergsig naby Franschhoek in die 1940’s bekom. Vanweë die gewenste klimaat kon die familie hier besonderse wyn produseer.

Pieter het die landgoed naby Franschhoek in 1994 by sy pa gekoop en die name van die twee plase na Akkerdal verander. “Die naam Akkerdal kom van die eeue-oue eikebome wat langs die rivier staan, wat amper net so oud soos die berge is. Akkerdal is ʼn kort en maklike naam, veral vir oorsese besoekers,” sê hy.

Pieter het Akkerdal in ʼn nuwerwetse wynplaas omgetower en tydens die tweede reeks van die gewilde kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou daarmee gespog. Nadat hy die plaas gekoop het, het hy al die ou bosstokke uitgetrek, groente begin plant en tegelyk die grond gerehabiliteer. Daarna het hy met behulp van die wêreldbekende prof. Eben Archer, wat verbonde was aan die Departement Wingerd en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, verskeie oorsese kultivars ingevoer en op sy plaas aangepas, verbeter en vervolmaak.

Vandag maak hy gebruik van grondkartering met ʼn koördinaatnet van 50 by 50 meter, infrarooi foto’s, hommeltuie en ʼn weerstasie wat die windspoed, verdamping, humiditeit, reënval en dag- en nagtemperature meet. Al hierdie data word deur vog- en temperatuursensors op kritieke punte in die grond reg oor sy plaas versamel en na sy rekenaar of app op sy slimtoestel gestuur. Presisielandbou is immers die antwoord vir enige boer wat vooruitstrewend wil wees en beter produkte wil lewer.

“Ek moet bepaal of die koue eenhede per kultivar op plaasvlak in die spesifieke Franschhoek-gebied genoeg is vir egalige bot. Met ander woorde, wanneer al jou druiwe op dieselfde stok gelyk ryp word, beteken dit ʼn egalige oes, met die uitsluitlike doel om gehalte wyn te maak. Ek kan chemikalieë spuit om dieselfde resultaat te kry, maar omdat ek biodinamies boer, gebruik ek nie produkte vir vertraagde bot nie.”

Op Akkerdal word die beste tegnologie ingespan om die optimale oestyd te bepaal.

Pieter glo dat gesonde grond die basis van sy boerdery is en plant elke seisoen multi-spesie dekgewasse met vyf verskillende saadmengsels tussen sy wingerde – ʼn eiesoortige samestelling vir elke grondtipe. Dié dekgewasse dien as kompos met die spesiale taak om die regte mikro-organismes in die grond te stimuleer en veral stikstof in die grond terug te sit.

Sy wynkelder het klein en eenvoudig begin en hy het besluit om dit so te hou om die nalatenskap te laat voortleef. Hy maak steeds gebruik van ʼn tradisionele mandjiepers. Pieter hanteer sy druiwe en wyn so min as moontlik voordat dit gebottel word en hy vertrou slegs op natuurlike gis in die wynmaakproses.

Op Akkerdal word daar op ikoniese rooiwyne en unieke versnitte gefokus. Beperkte volumes word aan Suid-Afrikaners en die res van die wêreld bemark. “Ons glo dat gehalte druiwe die geheim tot voortreflike wyn is,” sê Pieter. “Danksy entoesiasme, toewyding en ʼn besondere passie is dit net logies dat Akkerdal-wyne iets besonders is.”

Pieter het reeds verskeie pryse oor die jare ontvang en twee van sy wyne is onder die #top100SAwines gelys. Hy het ook ʼn klomp toekennings op internasionale kompetisies ontvang. Akkerdal se uitvoerwyne word in lande soos Namibië, Zambië, China, Duitsland en België geniet.

Pieter is ʼn voorstander van familieboerderye en sy boodskap aan ander boere is duidelik: “Jou passie moet reg wees, jou voete op die grond  en elke oggend op jou knieë en vir die Here dankie sê dat jy die voorreg het om te kan boer, want jy boer met Moeder Natuur. Dit bring ʼn mens weer terug aarde toe, na plaasvlak en maak jou weer trots om ʼn familiewynboer te wees.” Moeder Natuur kom baie sterk as tema na vore in sy benadering tot die lewe en sy boerdery.

Pieter Hanekom het rede om trots op sy produkte te wees.

Hy glo ook daarin om proaktief te wees. “In die wynbedryf kan die mark oornag verander. “Ons het dit met die grendelstaat aan die lyf gevoel en ons moes vinnig planne maak, soos om te begin aanlyn bemark. Die klimaat kan net so wispelturig wees. Ons boere moet deurlopend vooruit dink en as jy soggens deur jou wingerde loop moet jy waarneem wat gebeur en jou voorgevoel gebruik. Elke seisoen moet anders hanteer word. Jy moet weet wat jy gaan maak, gaan jy meer of minder wyn maak of gaan jy hierdie seisoen heeltemal oorslaan.”

Pieter bemark ook sy wyne op Twitter en Facebook, (@akkerdal) en Instagram. Sy hutsmerk is #hanekomfamily1714. Hy bemark ook sy wyne onder die hutsmerk #mothernature.

“Jy moet ʼn passie hê en vroeg opstaan, anders is jy maar net nog ʼn boer. As jy anders wil wees, dink buite die boks en doen dit met oorgawe.”

Akkerdal stel drie wyne op www.diewynboer.co.za / www.thewinefarmer.co.za bekend, ʼn Wild Boar 2015 (“Unusual” rooi versnit); ʼn Akkerdal Malbec 2015 en ʼn Kallie’s Dream 2015 – ʼn rooi Rhône-versnit wat as ʼn huldeblyk na sy pa genoem is.

Akkerdal stel drie wyne aanlyn beskikbaar.

Akkerdal gaan binnekort ook drie nuwe wyne bekendstel, ʼn grenache rosé, ʼn semillon (groen druif) en ʼn “Six Clone”-chardonnay wat met ses verskillende kultivareienskappe gaan spog.

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die grendelstaat. Hulle sit met oorskot wyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word voor 2021 se oestyd aanbreek. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, www.diewynboer.co.za / www.thewinefarmer.co.za in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hulle huise wyn kan bestel.

Kyk die video oor ‘n onderhoud met Pieter Hanekom van Akkerdal-landgoed:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.