Op die spoor van die pioniers van die Wes-Kaapse berge

Dick Metcalf (92) van Prins Albert is ‘n navorser van dié omgewing se bergpasroetes. (Foto: Verskaf.)

Deur Sarie Marais-Nell

Dick Metcalf van Prins Albert in die Klein-Karoo is ’n navorser van die bergpasroetes wat ossewapioniers in die 1700’s oor die Bolandse berge na die res van die land gevolg het. Op 92 raak hy só opgewonde hieroor dat hy verklaar “hy het nie nou tyd vir omkap nie”.

Metcalf het aanvanklik historiese reisbeskrywings bestudeer, maar toe die hoeveelste geskiedskrywer vertel “then they went up the pass”, het dit hom soveel geïrriteer dat hy in sy ryding geklim en self die detail gaan ondersoek het.

Dalk het dit met sy professionele werk as brugbouer vir die eertydse Murray and Roberts te doen, of dalk met sy pa as bankier, dat detail so belangrik vir hierdie gebore Kapenaar is.

“Aanvanklik was my navorsingsveld baie wyd, maar toe besef ek my eerste 18 lêers dek nog net die Kasteel-tot-Kuilsrivierroete. Daarna het ek my studieveld afgebaken tot bergpasse in die Wes- en Suid-Kaap, plus roetes oor die Roggeveld by Sutherland, want handelsritte oor die Afrika-berge* het sedert 1689 selfs tot in Graaff-Reinet plaasgevind.

“Dan staan ek voor ’n bergreeks en wonder wáár kon daardie outydse wawiele teen hierdie rotse opry.”

Hy het vinnig geleer hoe om logika, kennis van ossewaens en dit wat hy in die omgewing opmerk, te kombineer met belesenheid en Google Earth.

“Elke keer, as mens geduldig is en logieserwys soek, vind ons die roete.”

Metcalf se geoefende oog soek deurentyd na tekens van wind- en watererosie – die verpoeierdheid wat wawiele en beespote veroorsaak het, die verkleuring van leiklip wat deur die wiele oopgery is – en vind ná baie jare se landbouaktiwiteite steeds hierdie onderskeidende tekens.

“Waar wawiele gery het, herstel fynbos en Karoo-plantegroei nooit 100% nie. Weens ’n gebrek aan formeel geboude passe sien ons dikwels tekens hoe waens afgewyk het van ’n eenvormige bergroete – togryers moes self hul rit bepaal.

Metcalf beskryf hierdie as ‘n ordentlike wapad bo-op Duiwelskop buite Wildernis. (Foto: Verskaf.)

Een van Metcalf se kosbaarste ontdekkings was die waaieragtige erosiemerke op die grond waar die ossewaens weer bymekaar moes kom weens omgewingsbeperkings soos riviere, driffies of rotsbanke.

Nou, 300 jaar later, kan hy duidelike merke uitwys waar swaar ysterwiele in die 1700’s teen rotse berguit opgewoel het, en met gebriekte wiele afgekom het.

“Bewyse van ossewaroetes op gelyke terreine vervaag mettertyd, maar ons vind die duidelikste bewyse hiervan teen die berghange. Waar wawiele diep erosieslote veroorsaak het, het verspoelings gevolg. En daar verklap rye bome of fynbos – in teenstelling met die res van die omgewing se natuurlike voorkoms – vir ons die roetes.”

Metcalf moes alles rakende ossewabou en -onderhoud bestudeer; ook hoe weersomstandighede, beskikbare water en weiding op verskillende terreine die trektempo beïnvloed het.

“Veel minder osse sou ’n wa teen ’n helling aftrek – dikwels net twee diere en met ’n boomstam onder die agterwiele of selfs agteraan die wa gebind, vir verbeterde rem-aksie. Die rygoed kon nie dwars teen skuinstes loop nie, dus het die pioniers se ossewaens die kortste, reguitroete bergop en bergaf gevolg, nie ’n geleidelike sigsagpatroon soos moderne bergpasse nie.”

Hierdie inligting koppel hy aan die sogenaamde “pondnootdraai” in die ou Versveldpas buite Piketberg, asook die ou Barkly-pas buite Barkly-Oos; verklikkers dat ossewaens haarnaalddraaie uitgesny het om eerder reguit op- en af te trek.

Elke keer as hy en sy navorsingsvennoot, dr. Judy Maguire (voorheen dosent by die Universiteit van die Witwatersrand [Wits]) ’n historiese roete kan bevestig, brand die inspirasie nog hoër.

Hulle moes soms al ’n derde keer na dieselfde bergreeks terugkeer om feite te verifieer, soos die keer toe sneeu by Vloksberg hul tweede poging kortwiek.

“Eers met die derde besoek kon ons die veronderstelde roete vind deur om 90 grade van die helling te stap – vér weg van die huidige, handgemaakte trekpad wat die boere nog gebruik.

“Uiteindelik bo-op Vloksberg, soek Judy ’n groot klip waarop sy kan sit en notas skryf. Ons kyk rondom ons en besef: hierdie skoongemaakte, kliplose terrein was die pioniers se uitspanplek ná hul tog bergop.

“Soos by talle uitspanplekke het ons hier ’n menigte potstukkies opgetel.”

Tussen al die aktiewe navorsing deur, skryf hy en Judy nou ’n boek hieroor.

“Dié boek moet die feite bewaar, want baie plaaseienaars is onbewus van hierdie historiese bakens op hul plase. Hierdie studie slurp mens maklik in; ek het deesdae skaars tyd vir my houtwerkdraaibank.”

Die waaieragtige patrone wat waspore gelaat het op Duiwelskop buite Wildernis, ‘n ontdekking waaroor Metcalf baie opgewonde raak. (Foto: Verskaf.)

Metcalf se onblusbare energie kom uit sy jongdae, soos geïllustreer uit sy Kersvakansie as 16-jarige: “Kort ná die Tweede Wêreldoorlog, in die arm dae, het ek en ’n maat met gewone fietse uit Kaapstad na Port Elizabeth gery (800 km). Die N2 was nog grondpad en ons het snags tussen die bosse geslaap.

“Ons wou by my broer gaan kuier, en by die vriend se broer. Ná sewe dae bereik ons die Van Stadensrivier en kon ons by kennisse op Yellowwoods Farm uitrus. Twee dae later trap ons Port Elizabeth toe, waar ons moes uitvind my broer is Hermanus toe! My vriend se broer het op sy beurt by sy pa in Brittanje gaan Kersfees vier.

“Planloos ry ons terug na Yellowwoods, waar ons blyplek kry in die pas ontruimde blikhuis waar krygsgevangenes gebly het – toevallig 160 meter vanaf die Pioniers se drif deur die Van Stadensrivier. Ons moes wérk vir ons vakansieverblyf: Soggens 04:00 inval by die melkstalle, waarna kon ons perdry of visvang tot melktyd weer 16:00 aanbreek.”

Dié 92-jarige wewenaar, pa van drie seuns en oupa van ses wat ook vir ’n paar jaar met uitvoerblomme en skaap geboer het, verklaar: “Die inperkingstyd het ons teruggehou; maar nou is ek weer op pad na Middelpos en Tulbagh, daarna Suid-Kaap toe.”

Op soek na besonderhede wat nie noodwendig op Google sigbaar is nie, op soek na ekstase soos die dag toe hulle die Donkerhoekpas buite Genadendal en tekens van ossewawiele oor Duiwelskop buite Wildernis ontdek het – daagliks aan’t soek na weggesteekte skatte soos die varswaterfonteintjie in die Klein Houwhoekpas.

“Dan voel mens weer so gelukkig soos ’n kind.”

  • Jan van Riebeek het in sy joernaalinskrywings die Du Toitskloof- en Hottentots Holland-bergreeks en Cederberge die “Afrika-gebergtes” genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Pragtig. Veel seën en voorspoed met hierdie werk.

Elsabe

So, so kosbaar!

Jsgroen

Baie interessante navorsing. Wonder hoeveel navorsers is bewus van die Engelse fort langs die wapad oor die Witzenberg?