Outisme: Van krabbel tot kuns

Alrisa Nell. (Foto: Verskaf.)

Deur Elize Perrin

Vir ons is dit net ’n gekrabbel. Vir Alrisa Nell is dit kuns, want sy ken die hart van die kunstenaars. Sy het die moeilike voorreg gehad om vir 27 jaar ’n uitdagende pad saam met haar seun, Robert, te stap en so outisme van naderby te leer ken.

Die begin

Nie net is Robert in 1985 drie maande te vroeg gebore nie, maar moes reeds uit moederskoot veg vir oorlewing. Buiten sy longe wat nie ten volle onwikkel het nie, het sy hart met tye ophou klop en van sy organe het begin versaak.

“Hy was ’n vegtertjie en het aanhou veg om te bly leef,” vertel Alrisa. Reeds op drie maande is gevind dat hy blind is. ’n Hartstilstand tydens ’n latere operasie om pypies in sy ore te plaas, het veroorsaak dat hy nie meer woordjies kon sê nie. Sy interaksie was dus baie stadiger. Laagfunksionerende outisme is ook by Robert gediagnoseer.

“Robert het die ligpunt van ons lewens geword,” sê Alrisa. “Met ’n ouer broer en drie sussies het hy geweldig baie liefde, aanraking en geselsies ontvang wat hom laat blom het.”

Verdere betrokkenheid

Die gesin se betrokkenheid met outisme het verder versprei. Almarie, een van Robert se susters, het kleuterskoolonderwys studeer waarna sy ’n draai in Engeland gaan maak het. Hier het sy by ’n skool vir outistiese kinders betrokke geraak.

“Sy het so ontsettend goed met die kinders gewerk, dat sy later as adjunkhoof aangestel is,” vertel Alrisa trots.

Ná haar huwelik het Almarie en haar gesin hulle in Namibië gaan vestig waar sy die behoefte aan spesiale onderrig opgemerk het.

“Die kinders moes in hoofstroomskole opgeneem word, waar hulle gou uitgeval het,” sê Alrisa. “Op versoek het Almarie begin om kinders by hul kleuterskool te evalueer om te bepaal watter tipe hulp hul nodig het. Sy het dan sommer self gehelp. Later het sy meisies begin oplei om met die kinders te werk.”

Dit alles het gelei tot die stigting van die Stepping Stone privaat skooltjie in 2015. Tans is daar 23 leerders en nog 15 op ’n waglys. Ongelukkig is dit ’n duur projek en die meeste leerders is afhanklik van borge. Drome het nie grense nie en Almarie en haar span is hard aan die woeker om ’n skool te bou wat aan al die behoeftes van die leerders voldoen.

“Die erf is reeds gekoop en die planne is goedgekeur,” vertel Alrisa.

‘n Skets wat sy uit outistiese leerders se gekrabbel gemaak het. (Foto: Verskaf.)

Skoonheid van binne

Alrisa is ’n ma met ’n hart vir kuns en kinders met outisme. Sy het Almarie versoek om van die leerders se tekeninge aan haar te stuur. In elk van die gekrabbel het Alrisa ’n kunswerk gesien.

“Ek het lankal met die gedagte gespeel om iets vir kinders te doen wat nie in hoofstroomskole opgeneem kan word nie,” vertel sy. “Omdat ons as gesin die mooi binne ons seun beleef het, ten spyte van sy gestremde liggaam en gees, wou ek ook die kosbare skat in kinders met (veral) outisme, aan die wêreld wys.”

Alrisa het die kinders se gekrabbel gehou en ’n kunswerk daarop gebou. Haar groot droom is om dit as kaartjies beskikbaar te stel en so te help met geldinsameling vir leerders met outisme. Die idee is om aan die een kant die leerder se oorspronklike gekrabbel te behou en langsaan haar skets.

“Ek wil dit dan in ’n dekoratiewe houer verpak van topkwaliteit, want dit verteenwoordig vir my die kwaliteit wat in elke kind vasgevang is,” verduidelik sy. “Dit is dan my droom om dit die Beauty in a Box Campaign te noem.”

Alrisa wys daarop dat mense so maklik kan dink dat hulle geen spesiale kwaliteite het nie.

“Omdat ons almal na God se beeld geskape is, is daar ’n skat binne in elkeen van ons,” sê sy. “Ons moet dit net ontdek.”

Sy noem dat dit vir haar belangrik is om iets met betekenis te skep. “Toe ek deur die werk van die Stepping Stone-leerders blaai, het daar ’n opgewondeheid in my hart gekom,” vertel sy. “Ek het op daardie oomblik beleef hoe bevoorreg ek is om deur God se bril na elke mens agter die prentjie te kyk en die skoonheid binne elkeen raak te sien.”

Finansies vir die projek is ’n uitdaging.

“Ek vertrou en het vrede,” sê sy. “Ek het dit in die Here se hand geplaas.

Alrisa hou die kinders se gekrabbel en bou ‘n kunswerk daarop. (Foto: Verskaf.)

Outisme

“Ek wil ’n verskil in mense se lewe maak,” sê sy. “Anders as my kind, lyk baie kinders met outisme normaal. Hulle is wel in hul eie wêreld vasgevang as gevolg van vrees vir die vreemde, of vir mense of vir enige verandering van die gewone.”

“Ons weet outisme kom nie oor ons pad met aanwysings nie,” sê sy. “Dit kom met genade wat God vir ons gee om dit te hanteer.”

Sy noem dat die pad met outisme nie altyd geteer is nie en dat geweldige uitdagings aan gesinne gestel word; uitdagings wat ander mense nie noodwendig verstaan nie. Sy het dit in haar eie gesin ook beleef. Daar was tye in haar ander kinders se tienerjare wat hul soms skaam was vir Robert oor die bewegings en geluide wat hy gemaak het.

Sy sou graag wou sien dat daar ’n groter bewusmaking onder die gewone publiek moet plaasvind. Ouers van kinders met outisme hoor dikwels opmerkings soos dat die kind net ’n pak slae kort.

Aan ouers met outistiese kinders sou sy graag wou sê om nie hul kinders weg te steek nie.

“Doen dinge saam. Betrek die hele familie,” sê sy.

“Vandag sou ek wat wou gee om net weer Robert se kenmerkende fluitjie, wat hy vir homself aangeleer het, te hoor. Of sy uitbundige lag vir wie weet wat. Hy was die lig in ons lewe en sy nalatenskap leef voort in ons harte. Ek dra graag die Beauty in a Box veldtog aan ons outistiese seun op.

“En ek salueer elkeen betrokke by outisme,” sluit sy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Madelene ·

Alrisa, dankie dat jy verwoord wat baie naby aan my hart is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.