Panthera Africa – daar is krag in eenheid

Vrywilligers is die lewensbloed Panthera Africa Big Cat Sanctuary. Hier maak ‘n vrywilliger die groot katte se waterbakke skoon onder die wakende oog van ‘n leeuwyfie. (Foto: Panthera Africa Big Cat Sanctuary/Facebook)

Deur Yolanda Wessels

Panthera Africa is ’n 40 hektaar-niewinsgewende reddingsentrum, geleë naby die prentjiemooi Stanford in die Wes-Kaap. Dit is in 2014 gestig deur Cathrine S. Nyquist en Lizaene Cornwall.

Toe Cathrine, gebore en getoë in Noorweë, Suid-Afrika in 2011 besoek het, sou sy nooit kon dink dat hierdie land haar tuiste sou word, sy haar droom sou uitleef en boonop haar lewensmaat sou ontmoet nie. Cathrine het die loopbaanleer in haar land geklim en sou by haar (wat sy gedink het) droomwerk as ’n makelaar by een van die grootste eiendomsagentskappe in Oslo begin werk het. Nadat sy besoek afgelê het in Suid-Afrika, het haar hart egter ’n ander storie vertel.

Cathrine het Lizaene in 2011 in die Vrystaat ontmoet toe sy by ’n fasiliteit waar interaksie met leeuwelpies toegelaat word, as vrywilliger gewerk het. Daar is gesê dat die leeus, tiere, jagluiperds, rooikatte en luiperds wat hulle help grootmaak het, geteel is om die genepoel te vergroot en dat hulle gerehabiliteer en vrygelaat gaan word. Dit was alles behalwe die waarheid. Cathrine en Lizaene het snuf in die neus gekry toe hulle die diere moes verskuif na ’n ander fasiliteit. Hulle het uitgevind dat die diere na jagplase gegaan het waar hulle heel moontlik geskiet sou word en die beendere sou deel uitmaak van die leeubeendere-industrie. Dit was die keerpunt en Cathrine en Lizaene het daar en dan besluit om hul eie ware reddingsentrum van stapel te stuur en hul lewens voortaan te wei aan diere wat hul harte gesteel het.

Haar en Lizaene se vriendskap het aanhou groei en sy het ’n besluit geneem om haar passie om diere te help, te volg. Sy het na Noorweë teruggevlieg, haar goed gepak en in Mei 2012 na Suid-Afrika teruggekeer. Ná sewe maande se verblyf het Cathrine besluit om vir goed in Suid-Afrika te bly.

“Die besoek aan Suid-Afrika en my besluit om hier te bly, was die beste keuse wat ek kon maak. Ek het besef dat dit my roeping is om groot katte te beskerm en te versorg.”

In September 2013 het Cathrine en Lizaene besluit om ’n veilige hawe te begin om diere te red. Hulle wou ook graag die boodskap versprei en bewusmaking kweek oor geblikte leeu-handel, teelplase en die vertroeteling van welpies wat uiteindelik na jagplase verskuif word.

Panthera Africa (die naam is afgelei van die vier pantheras: Panthera leo – leeu, Panthera pardus – luiperd, Panthera onca – jaguar en Panthera tigris – tier) sou as ’n reddingsentrum en bewusmakings- en opvoedkundige platform dien. Dit sou die permanente tuiste word vir groot katte wat gered word.

Dit was ’n opdraande stryd om ’n ware reddingsentrum te begin – ’n pad met baie finansiële en emosionele uitdagings. Ná agtien maande het hulle uiteindelik alles gehad wat hulle benodig het – permitte, ’n perseel en om hul diere te gaan red wat na die jagplase gegaan het. Hulle kon daarin slaag om veertien van die diere te red wat hulle help grootmaak het. Dit is hier waar hulle ook uitgevind het dat hul geliefde leeuwyfie, Shani, en ’n tier, Aries, doodgemaak is vir hul liggaamsdele en beendere.

Cathrine and Lizaene was oorkom met hartseer en verlies soos nog nooit vantevore nie en was op die punt om hoop op te gee op hul droom. Natuurlik is hulle vandag baie dankbaar dat hul aanhou veg en aanhou probeer het, ondanks die soms oorheersende moeilike tye.

Een van Panthera Africa Big Cat Sanctuary se groot katte kry mediese sorg. (Foto: Panthera Africa Big Cat Sanctuary/Facebook)

Deur harde werk en deursettingsvermoë het hulle op 3 April 2015 amptelik vir die publiek geopen en hul huisves tans 26 diere wat gered is van mishandeling en onaanvaarbare omstandighede. Die span by Panthera Africa het ’n holistiese benadering tot hul diere en glo in dierekommunikasie, asook dat geen teling moet plaasvind nie.

“Daar word ook absoluut geen interaksie tussen toeriste en ons diere toegelaat nie, maar ons ag dit uiters belangrik dat die besoekers elke dier se persoonlike verhaal hoor en hulle nie net in hul kampe sien en ’n foto neem nie. Dis belangrik dat mense korrek ingelig word en bewus gemaak word oor wat werklik in die leeubedryf plaasvind.”

Die uitbreek van Covid-19 in 2020 het hulle sterk herinner aan die moeilike dae toe hulle die sentrum wou open. Dit het, soos met soveel ander besighede en industrieë ’n enorme impak gemaak op hulle, die personeel en op die fasiliteit. Met die aankondiging dat inperking op 27 Maart ingestel is, het hulle letterlik oornag 90% van hul inkomste verloor. Met die sluiting van internasionale grense, kon hul vrywilligers nie uitreik om hulle te help nie en die finansiële las het groot kommer veroorsaak wat die toekoms vir hul diere ingehou het. Dit was ’n beproewende tyd waar dit moeilik was om lone te betaal en as gevolg van die gebrek van kosskenkings, was hulle uiters bekommerd.

Sonder donkerte sal daar geen lig wees nie en hulle moes diep delf sodat vrees nie verder die oorhand kon kry nie. Panthera Africa is nie net ’n veilige hawe vir diere nie, maar ook vir die mense wat daar woon en hul lewe toewy aan die versorging van die groot katte om hul die bes moontlike lewe te gee.

Soggens se meditasie is noodsaaklik vir geestelike en fisieke gesondheid en help hulle om ’n positiewe ingesteldheid deur die dag te dra.

“Die virus het ons geleer hoe om op die goeie te fokus, selfs al is omstandighede onseker. Ons laat nie toe dat vrees die oorhand kry nie en verwelkom dit dat ons personeel hul bekommernisse met ons deel sodat almal saamwerk op alle gebiede. Ons neem dit ook nooit vanselfsprekend nie, ons diere is 26 wesens van die lig waarmee ons ’n lewe en huis deel. Hulle leer ons geduld en stamina en gee ons daagliks die geskenk van wonderwerke.”

Cathrine en Lizaene is hul getroue ondersteuners innig dankbaar.

“Hulle ondersteun en help ons met donasies en alhoewel finansiële ondersteuning noodsaaklik is, vul hul liefde, energie, geloof, motivering en deursettingsvermoë ons in hierdie moeilike tye. Sonder hul ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het om ons diere te versorg nie. Soos ons slagspreuk lees: ‘In Unity There Is Strength’.”

Vanjaar het Cathrine ’n “legkaart” begin bou – nie sommer net enige legkaart nie, maar ’n spieëlbeeld van haar lewe. Elke stuk van die legkaart is ewe belangrik, ongeag van die kleur, vorm of grootte. Elke stukkie moet noukeurig en vanuit elke perspektief ondersoek word voordat jy kan slaag.

“Met ’n bewuste keuse hou ek aan om verskillende alternatiewe te probeer totdat ek uiteindelik die hele prentjie voor my het.”

Pardus. (Foto: Panthera Africa Big Cat Sanctuary / Facebook)

Aan die begin is daar foute en verskillende roetes. Sy maak ’n keuse tussen watter stukke om te kies, ondersoek dit, raai soms. Sommige legkaartstukke is maklik om te vind en dit is dadelik duidelik waar hulle hoort. Sommige stukke voel onmiddellik verkeerd. Ander stukke lyk uit plek uit en dit voel soms onmoontlik om eers te probeer dink waar hulle sal inpas.

“As ek regtig mooi kyk, dan weet ek hier binne-in myself of ’n stuk sal pas of nie, al probeer ek steeds seker maak. Soms probeer ek ’n legkaartstuk maak pas en al probeer ek hoe hard, hy wil net nie daar pas nie. Wanneer ek later die regte plekkie vir hom kry, kom die prentjie ewe skielik na vore en dan verstaan ek skielik hoekom dit nooit wou pas nie en verstaan ek waarom dit nie die regte plek was en dit onduidelik was tot nou toe. Ek het net tyd nodig gehad om die groter prentjie te sien en perspektief daarop te kry om die perfekte plekkie te kry. Soms benodig ek meer lig om die fyner detail te sien. Dit is dan wanneer ek besef my eie skaduwee veroorsaak beperkings vir myself. Ek het net nodig om eenkant toe te staan sodat die lig kan skyn en skielik sien ek al die detail mooi duidelik en ’n nuwe perspektief veroorsaak dat ek weer kan begin.”

Stukkie vir stukkie voltooi sy haar lewenslegkaart en die groter prentjie verskyn voor haar. En daardie een stukkie wat sy sommer weet nog voordat sy probeer, is die regte een en val perfek in sy plekkie. Natuurlik is daar steeds foute, maar sy hou aan probeer en tree vir tree om als bymekaar te kry om die geheelbeeld te vorm. Dan weet sy dadelik sy is op die regte pad om hierdie reis te voltooi.

Laat ons almal die verskillende, pragtige legkaartstukke in ons lewe aanvaar. Elkeen van hulle is daar om ons lewensreis mee te voltooi en om ’n pragtige prentjie te maak vir ons almal, selfs al kan ons dit eers later sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.