Pretoria-meisie jaag modeldrome in Groot Appel na

Karmen van Veenhuyzen is onlangs gekies om SA vanjaar by die International Modeling and Talent Association Convention (IMTA) in New York te verteenwoordig. (Foto: Hannes Danzfuss/ Danzfuss Photography)

As kind het sy haar toekoms aanvanklik op die teaterplanke gesien, maar nou lê haar drome op die loopplanke van die internasionale modewêreld.

Die 20-jarige Suid-Afrikaanse model Karmen van Veenhuyzen is onlangs gekies om Suid-Afrika vanjaar by die International Modeling and Talent Association Convention (IMTA) in New York te verteenwoordig.

Die IMTA is ’n lidmaatskaporganisasie wat bestaan ​​uit die wêreld se beste en suksesvolste opleiding- en ontwikkelingsentrums vir diegene wat naam in die vermaaklikheidsbedryf wil maak. Hul bied jaarliks twee konferensies aan – een in New York en een in Los Angeles – wat bestaan ​​uit model-, toneel-, sang-, dans- en liedjieskryfkompetisies, asook werkwinkels en seminare wat deur honderde agente en kenners in die vermaaklikheidsbedryf beoordeel en aangebied word.

Die 20-jarige het reeds van kleintyd af ʼn liefde vir die kunste gehad. (Foto: Anneke Kleynhans/By Grace Photography)

Modelagente gebruik dus ook dié geleentheid om nuwe talent vir die internasionale mode- en vermaaklikheidsbedryf te werf en deelnemers moet eers oudisies voor ʼn uitgesoekte paneel kenners aflê om deel te neem.

Van Veenhuyzen sê dat haar deelname aan dié geleentheid egter “per ongeluk” gebeur het.

Dié borrelende blondekop het in 2020 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) gematrikuleer en het in 2021 ʼn oorbruggingsjaar gedoen met die doel om as au pair in die VSA te gaan werk. Covid-19 het egter haar planne in die wiele gery en sy het by ʼn kleuterskool gewerk toe sy deur die talentagentskap 33&Me op Instagram ontdek en genader is.

In minder as twee jaar het haar modelloopbaan behoorlik vlam gevat. Sy werk tans hoofsaaklik as advertensie- en loopplankmodel en was ook reeds te sien in ʼn advertensie vir die versekeringsreus Discovery en as ʼn ekstra in die kykNET-sepie Binnelanders.

Sy vertel sy het reeds van kleintyd af ʼn liefde vir die kunste gehad en neem sedert haar laerskooldae aan drama-optredes, operettes en eisteddfods deel. Hoewel drama nie meer haar hoofpassie is nie, gebruik sy steeds die vaardighede wat sy daaruit geleer het in haar modelwerk.

Die oud-Affie vertel dat sy egter huiwerig was toe haar agentskap haar in September verlede jaar genader het om aan die IMTA-oudisies deel te neem.

Van Veenhuyzen tydens oudisies vir die IMTA-kompetisie. (Foto: Hannes Danzfuss/ Danzfuss Photography)

“Aan die begin van 2021 het ek niks van modelwerk af geweet nie. Ek moes al die basiese goed vinnig onder die knie kry en onder meer leer hoe om in hakke te loop, om my postuur te verbeter en hoe om voor die kamera te poseer. Ek het net gevoel dat ek nog nie ervare genoeg vir dié groot geleentheid was nie en boonop doen baie mense meer as een keer oudisies voordat ’n IMTA-lid hulle nooi om die konvensie by te woon.”

Sy het egter verniet getwyfel en is tydens die eerste ronde nie net teruggenooi vir die finale ronde van die oudisies nie, maar het ook die sertifikaat vir “beste kommersiële model van die dag” ontvang.

Van Veenhuyzen het ook in die finale ronde die Amerikaanse beoordeellaars, onder andere Joey Hunter, voormalige president van Ford Modelle, die sanger Nate Butler en Broadway-veteraan, J. Elaine Marcos, betower en pak in Julie vanjaar haar tassies vir die stad wat nooit slaap nie.

Hoewel sy nou al gemakliker voor die kamera is, glo sy dat daar altyd ruimte vir verbetering is en sy sien daarna uit om deur dié ervaring verder te groei en meer oor internasionale tendense in die vermaaklikheidsbedryf te leer. Sy hoop dat die IMTA-konvensie vir haar deure in model- en televisiewerk kan oopmaak.

Die oud-Affie se droom is om eendag haar eie televisiereeks te hê. (Foto: Nicolette Botha Photography)

“My droom is om eendag my eie televisiereeks te hê en televisieaanbieding is ook ʼn afdeling in dié kompetisie; so ek kry regtig nou die kans om my drome uit te leef.”

Natuurlik word geen droom sonder harde werk en opofferings bewaarheid nie en die modewêreld word veral geken aan teleurstelling, kompetisie en druk. “Dit is belangrik om op jouself en jou eie drome te fokus eerder as om jou reis met iemand anders sʼn te vergelyk. Daar is baie dae wat ek huil, wat ek nie goed genoeg voel nie en nie gemotiveerd is nie, maar ek het geleer om dít wat my uniek maak, lief te hê,” sê Van Veenhuyzen.

Sy vertel verder dat die voormalige Mej. Suid-Afrika, Mej. Heelal en nou model, Demi-Leigh Tebow, se sterk geloof en gesindheid haar grootste inspirasie is en dat sy deur haar eie loopbaan vir jong meisies wil inspireer om hard te werk en hul eie drome na te jaag.

“My loopbaan is bewyse daarvan dat as iets die Here se wil is, dit sal geskied en dat Sy tyd nie noodwendig ons s’n nie. Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat nou al oor my pad gekom het, maar sien nog meer uit na dié wat nog kom.

“As jou drome jou nie bang maak nie, is hulle nie groot genoeg nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.