Randburg Mannekoor ‘verryk deur musiek’ 

Die Randburg Mannekoor (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Die Randburg Mannekoor, wat in 1977 deur Cas Pretorius en Marietjie Birkill gestig is, sing steeds uit volle bors.

Pretorius was die eerste bestuurder, terwyl Birkill vir 17 jaar as dirigent opgetree het. Deur die jare het verskeie koorleiers bygedra tot die groei van ledegetalle, repertorium en finansiële onafhanklikheid. Vandag word die koor deur Hugo Kriel bestuur en Bennie Coetzee neem sedert 2013 musikale leiding as dirigent.

Coetzee meen die koor se jarelange gewildheid is te danke aan hulle gebalanseerde repertorium. Musiek wat deur die koor aangebied word, is ʼn variasie van klassieke en meer moderne verwerkings, met die fokus op ligte kontemporêre werke en gewyde stukke.

Coetzee vertel met groot entoesiasme van hul besluit om ʼn paar vrouestemme by die groep in te sluit. Wiida Hamman, een van die vroue wat hierby betrek word, verduidelik soos volg: “Dis ʼn nuwe projek wat die bestuur in 2019 aangepak het om die koor se klank te vernuwe en ʼn wyer repertorium aan gehore te kan bied.”

Die groep vroue wat saam met die Randburg Mannekoor optree (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Tydens die mannekoor se jaarlikse galakonsert wat op 12 Oktober plaasgevind het, het die vroue vir die eerste keer saam met die manne opgetree. Die konsert het uit ʼn verskeidenheid musiekitems bestaan, wat onder meer ook optredes van leerders van Laerskool Fontainebleau ingesluit het.

Die Randburg Mannekoor se optredes wissel van informele konserte by plaaslike kerke en skole, tot deelname aan massakoorsang en internasionale koorfeeste. Een van die koor se talle hoogtepunte is die toer na die Tsjeggiese Republiek in 1996. Tydens hiérdie toer het die koor onder leiding van Dana de Waal, wat van 1994 tot 2001 die koordirigent was, deelgeneem aan die internasionale koorweek en onder meer ʼn draai in Hongarye, Duitsland en Oostenryk gemaak.

Nóg twee hoogtepunte vir die groep het albei in 2018 plaasgevind. Die eerste een is hulle optrede saam met die Nederlandse sangeres Amira Willighagen tydens die Potchefstroomse Mannekoor-fees, en hul deelname aan die World Choir Games toe die koor ʼn silwer sertifikaat in die kategorie vir manskamerkore verwerf het.

As gemeenskapskoor is die groep hoofsaaklik aangewese op ledegeld en inkomste wat deur middel van optredes verkry word. Maar winsgewendheid en stringe pryse is nie die hoofrede waarom lede betrokke bly nie. “Dit is my terapie vir die week”, bevestig een van die lede. Coetzee voeg op sy beurt by: “Dis ʼn ander soort motivering. Die ouens kom omdat hulle daar wíl wees.”

Ná ongeveer vier dekades kom hierdie gemeenskapskoor steeds weekliks by die NG Kerk in Randburg bymekaar om te oefen. Van die lede beskou dit egter nie nét as ʼn werksessie nie, maar ook as ʼn tyd van samesyn tussen broers.

Hugo Kriel, Bennie Coetzee en Fritz Schoeman (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Dit is my hoof-ontspanning. Hulle weet hulle moenie met my sukkel op ʼn Dinsdagaand nie,” sê Fritz Schoeman, wat al vir 34 jaar lid van die koor is, skertsend.

Coetzee sluit aan by Schoeman se siening: “Jy voel partykeer nie lus nie, omdat jy gejaagd is of in die verkeer vassit. Soms daag die ouens ʼn uur laat op, maar niemand mis die oefening nie.”

Wanneer jy so luister na die lede se ervaring en betrokkenheid is dit duidelik dat passie en genade hierdie groep mans saambind. Met hul leuse “Verryking deur musiek” is die Randburg Mannekoor nie net ʼn ligpunt vir die publiek nie, maar ook vir mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.