Suid-Afrikaner dans Las Vegas aan die brand

Gerrie de Wet in aksie op die dansvloer. Foto: Verskaf.

Deur Yolanda Wessels

Gerrie de Wet, ’n gebore Wes-Rander, dans die afgelope ses jaar al Amerika aan die brand.

Dié talentvolle, 28-jarige volbloed-Suid-Afrikaner het verskeie suksesse agter sy naam en het nog baie drome vir hom en sy pragtige Amerikaanse vrou.

Gerrie se dansloopbaan het op die jong ouderdom van slegs nege begin.

“Marissa Vorster het my gevra om saam met haar te dans. Dié jong dame was baie ernstig hieroor, ék aan die ander kant het geen begeerte gehad om te dans nie. Jy weet mos, seuns dans nie! Ek wou dit net agter die rug kry en sê ek het dit gedoen en probeer.”

Ná dié ervaring het hy Brandon Eilers, ʼn dansafrigter in Randfontein, genader.

“Ek het deelgeneem aan my eerste kompetisie waar ek rock ‘n roll gedoen én gewen het. Ek het besef dat ek eintlik ʼn liefde vir dans gehad het en nie te sleg was nie. Ek het dit nogtans maar stilgehou, want op skool is ek baie gespot oor my dansery. Ek het dit maar tussen die trane deur geïgnoreer.”

Ná dié wen het die dansgogga Gerrie behoorlik gebyt en kom ons sê maar die res is geskiedenis.

Hy het aangesluit by Dance Zone, ʼn vrystyldansstudio. Cindy Foggitt het hom onder haar vlerk geneem en sy selfvertroue begin bou tot wat dit vandag is. Hy het vir ʼn paar jaar vrystyl gedoen, maar het ʼn behoefte ontwikkel om ook ander tipes danse te doen.

“Op 12-jarige ouderdom het Latyns/Ballroom my belangstelling geprikkel. Ek en my eerste dansmaat, Tarian van Niekerk, het goed gevaar in danskompetisies en sodoende het ek ʼn naam vir myself begin maak. Met die hulp van my afrigter, Stella Bath Upton en Dave Campbell het ek ná skool ʼn oudisie gedoen by die National School of the Arts.”

Hier het hy begin met kontemporêr, African, ballet en Spaanse danse, maar sy grootste liefde was steeds Latyns/Ballroom. Hulle het Suid-Afrika in Parys en Engeland begin verteenwoordig. Toe Gerrie 19 was, het hy ʼn oudisie gedoen vir So You Think You Can Dance South Africa.

“Dit was ʼn stresvolle proses, maar ek het deurgedruk en die Top16 gehaal vir die direkte uitsendings op SABC. Dit was ʼn ongelooflike ervaring!”

So You Think You Can Dance, het Gerrie aangesluit by die Corenergy Dance Centre, waar Rafick Hoosain en Lorcia Cooper hom die kans gegee het om te blom. Rafick Hoosain was verantwoordelik vir die Latynse danse en Lorcia Cooper van die televisieprogram Scandal op eTV, was verantwoordelik vir die kontemporêre danse.

“Marcella Solimeo, wat onlangs Dancing with the Stars SA gewen het, het my dansmaat geword. Rafick het vir ons ʼn oudisie gekry vir die program, Burn The Floor. ʼn Dag later het hulle ons gekontak en gesê dat hulle ons Tampa Florida VSA toe wou stuur vir die vertoning daar.”

Hulle het inderhaas ingepak en oorgevlieg Amerika toe, waar hulle vir drie maande Burn The Floor gedoen het. Daarna het hulle teruggekeer na Suid-Afrika om te begin met voorbereidings om Suid-Afrika in 2013 in Blackpool, Engeland te gaan verteenwoordig.

“Hierdie was my keerpunt – ek het aan genoeg kompetisies deelgeneem en ʼn liefde vir die verhoog ontwikkel. Ek het teruggekeer na Amerika en die Burn the Floor-vertoning gaan doen op die Noorweegse toerskepe. Dit was op een van die grootste skepe ter wêreld, die Norwegian Breakaway wat uit New York gevaar het na Bermuda en die Karibiese Eilande.”

In 2013 het Gerrie ʼn asemrowende vrou ontmoet wat ook op die skip gewerk het. Holly Laurent was ʼn danser/sangeres/aktrise en betrokke by die musiekblyspel Rock of Ages.

“Ek was dadelik mal oor haar en ons het begin uitgaan. Ná ons skeepskontrakte voltooi is, het Holly ʼn kontrak gekry om Rock of Ages in The Strip, Las Vegas te doen. Ek het saamgegaan en ons het vir byna twee jaar in Las Vegas gebly, waar ek by die VZ Dance Studio dansopleiding gegee het.”

Gerrie sê dit was groot pret om die dansers te leer. Hy en Holly het verloof geraak en weer op die Noorweegse toerskepe gaan werk waar hy dié slag Burn The Floor en Rock of Ages gedoen het.

“Ek en Holly is in 2016 getroud. In 2018 het ons besluit om Las Vegas ons forever home te maak. Ek het weer by die VZ Dance Studio dansklasse gaan gee en doen ook die choreografie vir vertonings in Las Vegas. Holly werk tans aan ʼn vertoning, Coyote Ugly op die strip. Ons is gelukkig hier en het boonop ons eerste huis gekoop.”

Een van die leerders wat Gerrie onder hande geneem het, was Bailey Munoz. Hy het Latyns/Ballroom-danslesse benodig om deel te neem aan So You Think You Can Dance America.

“Ons hier by die VZ Dance Studio het hom afgerig en hy het Seisoen 16 gewen! Dit was awesome!

Suid-Afrika bly my land en ek is en sal altyd trots Suid-Afrikaans bly. Maar ons is gelukkig hier en ek en Holly wil nog baie doen in Las Vegas. Ons wil eendag graag ons eie show hê op The Strip waar ons kan sê dis ons s’n.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.