Suster Julie Moore: Elke mens kan net só lank sterk wees

Suster Julie Moore. (Foto: Verskaf)

Deur Sarie Marais-Nell

Wanneer Julie Moore inligtingspraatjies oor geestesgesondheid lewer, moedig sy mense aan om gesonde lewensgewoontes te kweek, om medikasie vir geestesongesteldhede te neem, en om oor jou psigiatriese probleme te praat.

Omdat hierdie 30-jarige blondine self groot lewensuitdagings moes oorwin en omdat sy self haar eie raad volg, glo ʼn mens haar. Sy vertel haar storie:

“Ek het ná vier seuns as laatlamsussie op ʼn plaas buite Maclear in die Oos-Kaap my opwagting gemaak. Ons gesin is lief vir buitelugavonture en deel ʼn goeie humorsin.

“Toe ek in my matriekjaar vir Vaughan Jenkielsohn ontmoet, was hy my trouman – ʼn 19-jarige wildbewaarder. Terwyl ek my as mediese suster by die Universiteit van die Vrystaat bekwaam het, het Vaughan nadergetrek; sy familie woon buite Clarens.”

Julie was 21 toe Vaughan met leukemie gediagnoseer word. Komplikasies het veroorsaak dat hy bedlêend en al hoe meer van versorging afhanklik geraak het. “Tydens my gemeenskapsjaar (praktiese jaar by ʼn opleidingshospitaal) het ek en Vaughan se familie toegewyd saamgewerk om hom te versorg. Ek was snags hiper-ingestel op elke beweging en elke geluid wat hy gemaak het.

“As ʼn wegbreek het my broer John my in Desember 2013 kom oplaai. Op pad huis toe het ons grappies gemaak en na die staptog saam met ons ouers oor ʼn bergryke deel van die Oos-Kaap uitgesien.”

Niemand kon voorspel watter tragedie die gesin sou tref toe ʼn aggressiewe swartwildebees uit die niet op die stappers afgestorm en hulle verwoed begin aanval het nie. Die dier se horing het John se lies-aar oopgekloof en aangehou om hulle met sy horings en pote aan te val.

Terwyl Mike (Julie se pa) en die vroue alles moontlik gedoen het om John te probeer help, word Mike toe in ʼn wilde aanval wat langer as ʼn uur geduur het self ernstig beseer. Die mans het dapper teruggeveg en vreemdweg kalm gebly, vasberade om die vroue te beskerm.

Julie se pogings om die dier van haar broer en pa weg te trek, het veroorsaak dat sy self skophoue op haar ken, wang- en bobeen gekry het. Later het sy haar trui van haar beseerde been afgehaal en probeer om die dier daarmee te blinddoek. “In plaas van vlug, het die besete wildebees sy aanvalle net vererger.”

Nog later het Julie vir hulp gebel. Die polisiekantoor was onseker of hulle kon help, en daarom bel sy toe haar broer in Oos-Londen. Hy kon dadelik reël dat naburige boere hulle gaan help.

ʼn Tweede swartwildebees het aangestorm gekom. Terwyl die eerste bees steeds besig was om die mans verwoed te karnuffel, val die tweede dier toe vir Julie aan. Julie het in ʼn stadium gemaak of sy reeds dood is deur plat te lê, maar dit het die dier nie gestop nie.

Dit wat as ontspanning en ondersteuning aan mekaar moes dien, het in ʼn tragedie geëindig wat John én Mike se lewens geëis het.

“My pa en John wou my en my ma beskerm. Hulle het só hard geveg ter wille van ons.” Weens die trauma van hul sterftes en operasies aan Julie se wangbeen, het dit etlike maande geduur voordat sy eers later in 2014 weer haar gemeenskapsjaar kon aanpak. Met ʼn titaniumherboude wangbeen kon sy weer gedeeltelik begin om Vaughan se familie met sy verpleging te ondersteun.

Na haar voltooide gemeenskapsjaar het Julie ʼn sabbatsjaar geneem voordat sy ʼn kontrakpos by die Golden Gateway Hospice in Bethlehem aanvaar het.

Laat in 2015 verskuif sy toe Boland toe en begin gedurende Maart 2016 in Worcester werk, met Vaughan wat in die winter van daardie jaar sterf.

Julie Moore en Kleinjan Marais wat ‘n paramedikus en brandweerman is, is nou verloof. (Foto: Verskaf)

“Ek het geglo ‘this is it’, dis my lewe, tot ek ʼn jaar na Vaughan se dood vir Kleinjan Marais ontmoet. Hy het in Augustus 2017 by die Worcester Mediclinic waar ek werk met ʼn reusebos pienk rose ingestap. ‘Vir Vrouemaand’, het hy gesê en begin rose uitdeel. Dit was sowaar dié man aan wie my kollegas my wou voorstel! Ons het dadelik gekliek.

“Kleinjan is ʼn toegewyde paramedikus en brandweerman; jonger as ek, maar ʼn ware wyse siel. Beide van ons het later in Paarl gaan werk en toe Kleinjan in Desember 2020 ʼn pos in Darling kry, het ek vroeg vanjaar as gemeenskapsuster in Malmesbury begin werk – my eerste permanente aanstelling in vyf jaar.”

Dit is toe dat haar liggaam allerlei vreemde simptome begin wys het. Sy was in ʼn gelukkige verhouding, sy het haar werk by Sinethemba Swartland NPO geniet en ʼn gesonde, aktiewe leefstyl gevolg – wat kon tog die fout wees?

“Na vyf jaar se locumwerk (dit beteken elke paar maande aanpassings in ʼn nuwe omgewing), die hartseer van ʼn lewe sonder my pa en John, Vaughan se sterwensroete en hofsake rondom die aggressiewe swartwildebeeste het my liggaam my duidelik begin vertel dat ek uitbrand; dat geestes- en fisiese gesondheid ewe belangrik is.

“Elke mens kan net só lank aanhou sterk wees. Iewers sál jou liggaam waarskuwingsimptome begin wys. Dan moet jy balans vind, en indien nodig, ook medikasie om ʼn gesonde liggaam en geestestoestand te verseker.

“Niemand kan kies wat in sy lewe gebeur nie, maar elkeen kan kies hoe hy daarop reageer.”

Intense lewenswysheid op 30.

Wat het haar tydens die moeilike jare deurgedra?

“My geloof. Die manier waarop ons familie laer trek wanneer dinge swaar gaan, al woon ons ver van mekaar af. My ma se positiewe lewenshouding. Ons gesin se humorsin. ʼn Uitstekende berader ná die wildebees-aanval. My vriendinne – een van hulle het vir my die waardevolle boek A Purpose Driven Life gegee; ʼn ander vriendin het ʼn moeilike Paasnaweek met gloei-in-die-donker paaseiers opgevrolik.

“Intussen het ek geleer: Elkeen van ons reis net een keer deur hierdie lewe; ons moet die meeste daarvan maak. Beleef jou omgewing voluit. Trek jou skoene uit, klim die boom, gaan stap, gryp Moeder Natuur as waardevolle terapeut aan. Neem jou vitamiene. Praat oor jou geestesprobleme.

“Ek en Kleinjan het pas verloof geraak; kan een mens só gelukkig wees?

“Uiteindelik het ek nou my ‘happy ending’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Trotse Boervrou

Julie, jy is ‘n absolute ster wat skitter. Dankie dat jy jou lewensverhaal met ons deel. Met soveel hartseer het jy nog steeds voortgegaan en maak jy die beste van die lewe. Jy is ‘n pragtige mens en ‘n inspirasie vir baie. Mag elke treë van jou pad vorentoe geseënd wees. Kleinjan, pas hierdie juweel mooi op!

koos

Verpleegpersoneel sal almal eendag reguit Hemel toe gaan want hulle het klaar hel op aarde gehad. Seënwense vir jou Julie.

Strandloper

Weereens n bewys n vrou is ons almal se behoud met hul deernis en lyding in alle opsigte. Moet jul nooit as vanself spreekend aanvaar nie hulle is die gom wat alles bymekaar hou!