Tereza Troskie-Herbst, die skoonheid wat ’n goeie fee vir ander is

Bennie en Tereza (Foto verskaf)

Glans en drama. Dis waarmee mense die skone Tereza Troskie-Herbst (53), wat in 1999/2000 as Mev. Suid-Afrika en in 2002 as Mev. Wêreld (Internasionaal) gekroon is, assosieer. Dit gebeur so dikwels dat mooi vroue op hul baadjies getakseer word. Maar vir hierdie Bloemfonteiner oor wie al jare lank geskryf, geskinder en gegis word, gaan dit oor veel meer as haar voorkoms. Haar vriende en ondersteuners beskryf haar as “ʼn lojale vriendin, iemand wat graag gee en ʼn vrou met ʼn hart van goud.”

Tereza was nog altyd in die nuus. As die miljardêr-sakeman, Boet Troskie, se vrou met hul opspraakwekkende egskeiding, met haar tweede huwelik met die jonger Bennie Herbst (42) en met die tragiese kort lewe van die egpaar se babaseuntjie wat net 6 dae geleef het en deur middel van ʼn surrogaatma gebore is.

Dis egter minder bekend dat Tereza deur middel van haar Dream Girl SA-skoonheidskompetisie na weeshuise, diere-welsynsorganisasies en diere in nood uitreik en dat sy haar vir entrepreneurskap onder jong mense beywer.

Met die Miss Dream Girl SA-kompetisie, ʼn niewinsgewende organisasie wat op twee bene staan en waarvan Tereza die uitvoerende direkteur is, bedryf sy ook haar eie liefdadigheidsorganisasie. Die doel van die kompetisie is om ʼn entrepreneursgees aan te moedig omdat die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika so hoog is.

Geld word ook vanjaar vir die Reddersburg-kinderhuis ingesamel, asook vir ʼn diere-liefdadigheidsorganisasie genaamd Huis Toe wat huise vir honde kry.

Daarbenewens is hulle ook aktief betrokke om jong mense met entrepreneursvaardighede te help en vir hulle beurse te kry, sodat hulle op hul beurt weer ʼn verskil in die samelewing kan maak. Een van die meisies wat vanjaar vir die kompetisie ingeskryf het, het op eie inisiatief beurse vir drie matrikulante van die Reddersburg-kinderhuis begin onderhandel.

Tereza sê die probleem is dat sodra kinderhuiskinders 18 jaar oud is, hulle die weeshuis moet verlaat. Party beland dan letterlik op straat. Vanjaar het drie van die kinders 18 geword en hulle het vir al drie ʼn toekoms beding. Een is baie handvaardig en gaan Johannesburg toe waar hy by ʼn ingenieursmaatskappy gaan werk. Vir die tweede kind, en enigste meisie, het hulle vir ʼn jaar lank ʼn betaalde leerlingvakmanskap gekry, waarna daar vir haar studies betaal sal word. Die ander seun wil graag ʼn wiskundeonderwyser word. Sy punte is goed genoeg om universiteit toe te gaan en Tereza-hulle is tans besig om hom in ʼn universiteit te probeer kry.

Tereza Troskie-Herbst (Foto verskaf)

Haar kompetisie benadruk entrepreneurskap. Sy sê: “Jong vroue vertolk ʼn belangrike rol in maatskappye. Hulle is ons toekoms.” Daarom wil sy die jeug bemagtig.

Die kompetisie gaan meer oor goedhartigheid as skoonheid en is dus nie jou gewone skoonheidskompetisie nie.

ʼn Maatskappy in Johannesburg het ook geldelike ondersteuning verskaf sodat nog 25 meisies vir Dream Girl SA kon inskryf.

Tereza vertel: ”Die kompetisie is daarop gemik om jong meisies, van enige ouderdom, hulle volle potensiaal te laat besef en die kennis en selfvertroue te ontwikkel wat hulle vir ingeligte vaardighede benodig om hul sodoende te bemagtig.

“Daar is ook prettige elemente rondom skoonheid. Verder word hulle aangemoedig om ʼn gesonde en gebalanseerde leefstyl te volg.”

 Dis haar wens om jong meisies te inspireer om selfversekerd te wees en om hul drome deur opvoeding, inligtingsessies, mentorskap en slypskole te bewaarheid. Die wenner, wat in Oktober tydens ʼn gala-aand in die Harry Oppenheimer-teater in Welkom aangewys word, sal ʼn jaar lank as ambassadeur vir Dream Girl SA optree.

Ondanks haar treffende voorkoms, was skoonheidskompetisies nooit deel van Tereza se toekomsplanne nie. Maar nadat ʼn fotograaf van ʼn Sondagkoerant haar gevra het of hy foto’s van haar kan neem en dié foto’s vir modelagentskappe gewys en vir skoonheidskompetisies ingeskryf het, was daar geen keer aan haar nie. Deure het vir haar oopgegaan, sy het geleenthede aangegryp en sy het op televisie verskyn en praatjies begin lewer.

Teen die tyd dat sy vir Mev. Suid-Afrika ingeskryf het, het sy reeds 22 skoonheidskompetisies gewen.

Dit was by die beoordeling van Mej. Noord-Kaap dat sy Boet Troskie ontmoet het wat ʼn beoordelaar by die kompetisie was. In 1995 is hulle getroud. Goud, pêrels en ʼn sleep van 5 m lank was deel van die sprokie.

In 1998 is haar lieflingseun, Jamie, gebore. Intussen het Tereza ʼn bekende gas- en sakevrou geword. Jamie is oral saam – selfs op die loopplank was hy op sy ma se heup. Die huwelik het egter vyf jaar later op die rotse beland.

Dream Girl SA is ‘n kompetisie inpireer om hul drome deur opvoeding, inligtingsessies, mentorskap en slypskole te bewaarheid. (Foto verskaf)

Bennie was destyds ʼn familievriend en het ʼn meisie gehad. Tereza het selfs vir hom gehelp “om na haar te vry”, lag sy. Maar na haar egskeiding het hulle begin kuier. Na ʼn verhouding van 12 jaar en ʼn verlowing van 3 jaar is hulle in 2014 getroud. Hulle het saam vir Jamie grootgemaak en is ʼn hegte gesin.

Ongelukkig het groot verdriet op hulle gewag. Tereza het verskeie miskrame gehad en op 48 is haar baarmoeder verwyder omdat dokters vermoed het dat kwaadaardige selle tot servikale kanker kon lei. Tereza beweer dat nadat die operasie gedoen is en die uitslae van haar histologieverslag teruggekom het, sy moes hoor dat sy nooit abnormale selle gehad het nie en dat die operasie nooit nodig was nie. Dit is later op ʼn televisieprogram deur middel van prokureurs ontken.

Haar droom om vir Bennie ʼn biologiese kind te gee was verpletter. Maar toe kry hulle ʼn surrogaatma.

Die vreugdevure het hoog gebrand en hulle het gestraal van geluk toe klein Jayden-Ben 6 jaar gelede gebore is. Hul gesin was volledig.

Maar ses dae later het ʼn tragedie hulle getref. Die volmaakte baba het onverklaarbaar weens asfiksie gesterf – ʼn toestand wat niemand kon keer nie.

Almal was gebroke. ʼn Roerende begrafnis, vanuit ʼn stampvol kerk en met roubeklaers van heinde en ver, het gevolg. Jayden-Ben is in ʼn klein wit kissie begrawe.

Oor surrogaatskap, deel Tereza dat dit nooit ʼn maklike pad is nie. Jy beleef botsende emosies. Aan die een kant is jy diep dankbaar teenoor die surrogaatma, maar aan die ander kant is jy jaloers want jy wil jou baba so graag self dra.

Sy sê dit nie, maar niks is so helend as wanneer jy jou eie pyn in welwillendheid en energie teenoor jou medemens begin uitstort nie.

Nou werk Teresa en die deelnemers kliphard om die lewe vir die kinders in die Reddersburg-kinderhuis makliker te maak.

Die deelnemers het reeds landswyd talle produkte ingesamel en by die kinderhuis afgelaai. Een weldoener het 8 100 maskers aan hulle geborg en ʼn ander dosyne kolwyntjies.

Al die kinders van die kinderhuis gaan by die gala-aand teenwoordig wees om hul skenkings te ontvang − met die glansryke Tereza, wat sal sorg dat alles glad verloop, aan die stuur. Die skoonheid wat deesdae ʼn goeie fee is.

Oor gebeure in die verlede is sy filosofies. ʼn Mens leer uit jou foute, sê sy. “ʼn Koningin bou haar kasteel met die klippe waarmee sy gegooi word.”

Besoek Dream Girl SA vir meer inligting oor die kompetisie.

Jamie, Tereza en Bennie. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Dankie aan haar vir die werk wat sy doen – weldoeners is skaars en haar bydrae gaan nie onvoorsiens verby nie.

Pieter ·

Ongelukkig is van die feite ivm met die kinders en die kinders onwaar en vals.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Pieter

Baie dankie dat jy dit onder ons aandag by Maroela Media gebring het. Kan jy dalk meer inligting verskaf oor watter feite vals of onwaar is, asb.? As jy dit nie hier in die kommentaarafdeling verder wil of kan bespreek nie, is jy baie welkom om vir my ‘n e-pos te stuur na [email protected].
Ons sal dit baie graag verder wil opvolg en die regte feite verskaf.

Hoor graag van jou!

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

Miena ·

Hoe so Pieter? Jy kan mos nie net n statement maak en dit net so los nie… vertel meer . Ons is mos nou nuuskierig en wil ook weet wat is die waarheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.