Van dwelmverslaafde tot rolmodel

Mark Jeneker. Foto: BAZ-ART/Instagram

Dit is sewe jaar sedert ʼn man van Mitchells Plain in die Kaap die “skoon” pad gekies het.

Vandag is hy ’n rolmodel, ’n held vir die gemeenskap en die eienaar van sy eie kunsateljee.

Mark Jeneker sê hy was meer as 20 jaar verslaaf aan dwelms, hy was al ’n gevangene in die tronk, maar sewe jaar gelede het hy besluit om sy lewe om te keer.

Dit het Jeneker van Mitchells Plain die dood van albei sy tienerseuns gekos om te besef hy moet sy lewe agtermekaar begin kry en sy verslawing stop.

“Ek was in uiterste pyn. Ek het alles verloor,” sê Jeneker. “Maar my lewe was nie verby nie.”

Sy een seun, Mikyle (16), is in ’n motorongeluk dood. Byna ’n jaar later is sy ander seun, Junaid (18), ontvoer en wreed vermoor. Sy lyk is op Seinheuwel gevind.

Jeneker het al in sy kinderjare ’n passie vir kuns ontwikkel. Hy het terwyl hy sy dwelmverslawing probeer hokslaan het, ’n verfkwas opgetel en begin skilder om sy “gedagtes te kalmeer”.

Toe hy nie die geld vir sy seun, Junaid, se begrafnis gehad het nie, het Jeneker sy kuns verkoop om vir die diens te betaal.

Hy het toe besef dat hy sy talent kon gebruik om terug te gee aan die gemeenskap.

Vir so lank het Jeneker die mag gehad om kinders se lewens te vernietig deur dwelms aan hulle te verkoop. Maar met kuns kan hy hulle inspireer om na hoër hoogtes te streef. So het Jeneker begin om gratis kunsklasse aan skole soos Yellowwood Primary School in Mitchells Plain, aan te bied.

“Dit is my manier om ’n vaardigheid en ’n veilige ruimte in my gemeenskap te bied,” sê Jeneker.

In 2016 is Jeneker verkies as ’n Lead SA-held en drie van sy leerlinge het die goue toekenning tydens die skool se kunskompetisie gewen.

In 2017 het Jeneker die Mark Jeneker-stigting op die been gebring in ’n poging om sy invloed op die gemeenskap uit te brei.

Tot dusver kon Jeneker 15 van sy leerlinge se skilderye verkoop en die totale opbrengs is aan die studente teruggegee in ’n poging om hulle aan te moedig om aan te hou floreer in kuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Mark ons almal maak foute in ons lewens. Glo my …jou 2 seuns sal so trots wees op jou al is hulle nie daar nie. Baie dankie vir jou goeie dade,omgee en getuie.. hou so aan asb…. jy red soveel kinders wat dink daar is geen hoop is nie. Baie dankie x

WIEBO ·

Goed en wel, maar sommer twee onlangse berigte oor dwelmverslaafdes (meisie van Springs ook). Dis nou genoeg vir n ruk dankie!

Karin ·

Stem saam Wiebo, niks spesiaals aan n druggie wat nou nie meer n druggie is nie, dit was jou eie keuse!

leser ·

@wiebo
jys aaklig met jou kommentaar
wat wil jy lees, moord en doodslag ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.