Van skaam tot spontaan met die hulp van kulkuns

Regardt Laubscher (Foto: Facebook)

Regardt Laubscher, ʼn kulkunstenaar van Durbanville in die Wes-Kaap, was aanvanklik baie skaam om voor mense te praat, maar kulkuns het hom iets gegee om oor te praat en nou kan hy nie ophou nie.

Laubscher (37) skerts dat sy vrou hom partykeer moet stilmaak, omdat hy deesdae haar ore van haar kop af praat nadat hy sy stem met kulkuns gevind het.

Laubscher is al vir sowat 15 jaar ʼn voltydse kulkunstenaar nadat hy op 16 ʼn boek oor kaart-truuks gelees het.

Ná skool het sy ouers hom aangemoedig om te gaan studeer vir ʼn “regte werk”, eerder as om ʼn kulkunstenaar word. Daarom het hy hom as sjef bekwaam. Maar nadat hy kwalifiseer het, en steeds nie die kulkuns kon los nie, het hy dié beroep op 22 begin en nooit weer teruggekyk nie.

Regardt Laubscher (Foto: Facebook)

“Ek kon glad nie voor die tyd met mense praat nie, ek was doodbang daarvoor. Kulkuns het my iets gegee om oor te praat waarvan ek regtig hou. Om ʼn goeie kulkunstenaar te wees móét jy met mense kan kommunikeer en dit is ʼn vaardigheid wat ek moes aanleer.”

“Dit het my persoonlikheid baie laat groei. Kulkuns het my al baie meer geleer en gegee as wat ek ooit vir dit kan teruggee,” sê hy.

Laubscher sê die Covid-19-pandemie het die kulkunsbedryf, net soos enige ander vermaakbedryf, swaar getref. Waar hy gewoonlik sowat 40 vertonings per maand gedoen het, kon hy dit glad nie meer doen nie.

Maar die pandemie het ook gehelp om sy uitkyk op die bedryf te vernuwe en hy het vinnig ʼn plan gemaak om aanlyn vertonings aan te bied.

“Ek het aanvanklik gedink my vertonings verg dit te veel om interaktief te wees, so ek kan nie voor ʼn kamera met die gehoor praat nie, maar die wêreld het regtig daarvoor oopgegaan,” sê hy.

“Nou kan ek in die oggend ʼn vertoning in die Seychelle doen, in die middag een in Johannesburg en die aand een in Kaapstad. Ek sou dit nooit van tevore kon doen nie.”

Hy vertel dat hy aanvanklik baie foute gemaak het en geleer het soos wat hy aangaan, maar dat hy nou gemaklik is daarmee om voor die kamera steeds met sy gehoor ʼn konneksie te vorm.

Regardt Laubscher (Foto: Facebook)

Deesdae kan hy weer optree voor mense, maar met die aanlyn vertonings wat so goed doen, doen hy nou ʼn mengsel van albei.

Laubscher sê kulkuns is ʼn uitsonderlike beroep omdat dit nie vir hom voel of hy al ʼn dag in sy lewe gewerk het nie.

“Jy moet wel bereid wees om jou naam gat te maak en vir jouself te lag, want dis die enigste manier waarop jy sal leer.”

Hy sê die belangrikste ding wat mense kan doen wat ook kulkunstenaars wil word, is om soveel as moontlik op te tree.

“Toe ek begin het, het my hande so gebewe en ek was heeltyd op my senuwees. Maar elke keer as iemand aan ons deur geklop het, moes hulle eers kulkuns sien – ek het vir almal opgetree. En later was ek baie gemaklik daarmee.”

“ʼn Kulkunstenaar moet altyd die gemaklikste ou in die vertrek wees. Jou mensekennis is ook baie belangrik, en om te leer wanneer om vinniger en stadiger te praat om jou aanbieding nét reg te kry.”

Vir meer inligting besoek Laubscher te Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.