Polisievrou lewer diens van Vrystaat tot VN

Riana by kinders in Aldein-vlugtelingkamp waar sy ‘n kind se vreugde ervaar het oor ‘n biejie water wat sy met hom gedeel het. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Reeds op twaalfjarige ouderdom het Riana aan almal wat wou luister vertel dat sy eendag by die polisiediens gaan aansluit. En sy het. Haar behoefte om ʼn verskil te maak het haar op ver paaie gevat. Vandag lê Riana Paneras se voetspore veel wyer as net in Suid-Afrika.

Klim die leer

Dit is vanjaar veertig jaar sedert sy as die eerste vrouespeurder in die Vrystaat aangestel is; die begin van ʼn uitsonderlike loopbaan.

Riana het haar opleiding voltooi in ʼn tyd wat vroue in die polisiediens nog nie dieselfde bevorderingsgeleenthede as mans geniet het nie.

“In die middel sewentigerjare is ʼn teleks uitgestuur waarin kommer oor die feit uitgespreek is dat al hoe meer vroue hulle eksamens slaag,” vertel sy. “Die boodskap het verder daarop gewys dat, as die tendens toegelaat word, vroue meer senior posisies as mans sou beklee. Verder is gemeen dat vroue fisies en psigologies nie oor die vermoë vir sodanige poste beskik nie. Dit het meegebring dat mans en vroue in aparte strome vir bevordering geplaas is.”

Riana het haar egter nie hierdeur laat afskrik nie. In die beginjare het sy in die finansiële afdeling ʼn draai gemaak, opleiding in wettereg en polisieadministrasie gegee, ʼn pos in openbare betrekkinge by die polisiemuseum beklee en ook uitstallings by skoue hanteer.

Op haar versoek is sy in die vroeë 1990’s na ʼn polisiestasie uitgeplaas en word sy in 1993 as adjunkstasiebevelvoerder by Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein aangestel. Aan die einde van daardie jaar moes sy die skoene van waarnemende stasiebevelvoerder volstaan.

“Met die rang van luitenant-kolonel kon ek, as vrou, egter nie as bevelvoerder van die grootste stasie in die Vrystaat aangestel word nie,” vertel sy. “Ek en ʼn manlike luitenant-kolonel van personeelbestuur is geruil en só het ek distrikshoof vir personeelbestuur geword. Dit het ʼn positiewe uitkoms op my latere loopbaan gehad.” In 2005 word sy wel as stasiebevelvoerder van Parkweg-polisiestasie aangestel en daarna as bevelvoerder van die polisiestasie in Bloemspruit.

“Bloemspruit was een van my lekkerste ervarings,” sê sy. “Ons het ʼn geweldige tekort aan personeel gehad. Die paaie was onbegaanbaar en ons moes met vierwielmotorfietse ry om die inwoners te bereik. Samewerking met die gemeenskap was aanvanklik min. Binne ses maande kon ons egter gemeenskaps- en sektorpolisiëring vestig en was daar tweeduisend vrywilligers en tweehonderd reserviste beskikbaar.”

Hiervoor is Riana met ʼn prys vir dienslewering beloon en het sy ook die bynaam van Malerato verdien, wat “ma van liefde” beteken.

Oor die grense

Riana Paneras in 2013 by die VN Polisie. Sy was toe polisiekommissaris van UNAMID. (Foto: Verskaf)

In 2010 word Riana deur die Suid-Afrikaanse polisiediens vir ʼn pos in die Verenigde Nasies se vredesmissie in Dafur, Soedan genomineer. So word sy as die adjunkpolisiekommissaris vir die Afrika Verenigde Nasies Vredesmissie aangestel. Haar werksmag bestaan uit seweduisend polisielede van ses en vyftig lande; ʼn aanduiding van haar goeie menseverhoudinge.

Na haar kontrak verstryk het, moes sy na Suid-Afrika terugkeer. Ongeag van die feit dat die SAPD drie kandidate vir ʼn volgende termyn vir die pos benoem het, versoek die VN Riana om weer aansoek te doen en keer sy na Soedan as polisiekommissaris vir die Verenigde Nasies in ʼn vredesmissie terug; die eerste vrou in die pos.

Aan die einde van 2015 groet Riana die polisiediens en sluit by die Instituut van Sekerheidstudies aan nadat hulle vir haar ʼn pos in Addis Abeba aangebied het. Haar taak was om die Afrika-unie (AU) te help met die skryf van ʼn beleid en opleidingsprogramme vir vredesoperasies. Dit sluit navorsing en konflikbestuur vir sodanige operasies in. Hier dien sy ook op die AU adviesgroep oor polisiestrategie.

Riana beklee tans ʼn direkteurspos by die Verenigde Nasies se kantoor in Addis Abeba vir die AU. Haar pos behels die fasilitering van die samewerkingsverhouding tussen die Verenigde Nasies en AU. Konflikbestuur sorteer ook onder haar.

“Die Westerse wêreld sien dinge anders en wil soms hulle sienswyses op Afrika afdwing,” sê sy. “Dit is nie werkbaar in die Afrika-kultuur nie. Hulpbronne word ook dikwels buite Afrika aangewend en nie gebruik om die Afrika-massas se toekoms te verbeter nie. Leiers en maatskappye buite Afrika word dan daardeur verryk.”

Om ʼn verskil te maak

Gesels jy met Riana is dit gou duidelik dat sy werklik ʼn verskil wil maak. Sy wys daarop dat ʼn land soos Dafur, wat in oorlog is, se polisiëring en regstelsel tot niet gaan. Die Vredesmissie moet help om die polisie op te bou, te mentor, beleid te skryf en opleiding te verskaf.

“In Dafur is twee en ʼn half miljoen persone in binnelandse vlugtelingkampe. Ons leer hulle van gemeenskapspolisiëring in hierdie kampe. Ons help verhoudinge bou en die groepe met die oog op versoening bymekaarbring.”

Sy verwys ook na ʼn vlugtelingkamp in Ferobaranga in Soedan waar weinig geriewe was. “Die skool se dak was soos ʼn sif met geen meubels, skryfbehoeftes of water naby nie. Daar was ook geen polisiestasie nie,” sê sy. “Ek kon geld by die Vredesmissie vir ʼn boorgat, gemeenskapsaal en kamertjie vir die polisie kry. Gesprekke met die weermag en polisie het gehelp om die skool en meubels te herstel. Daarna het ek geld onder die lede by hoofkantoor ingesamel om skryfbehoeftes, rugsakke, boeke en sporttoerusting aan te koop. Binne twee maande het die oorhandiging per helikopter plaasgevind.”

Volgens die inwoners se kultuur mag ʼn man geen intieme kontak met ʼn vrou hê wat nie naby familie is nie. In hierdie geval het die kamphoof egter vir Riana met ʼn dankie-drukkie verras. Vir Riana was dit ʼn goedvoeloomblik.

Wonder jy hoe sy dit regkry dat die mense haar vertrou, wys sy daarop dat dit vir haar belangrik is om nie vir die mense te sê wat hul nodig het nie, maar wel te vrá wat hul behoeftes is. Sy doen dit ook met ʼn opregte hart.

(Foto: Verskaf)

Ervarings

Natuurlik mis sy haar familie en land. “Ook varkvleis, pap en wors,” voeg sy by.

Die ongelooflike kultuur- en reiservarings oor die jare is iets wat geld nie kan koop nie.

“Egipte is die mooiste land. Dit het ʼn atmosfeer wat nie beskryf kan word nie,” vertel sy. “Suid-Korea is die skoonste. Elke inwoner maak voor sy eie plek skoon. Dis ook hier waar ek die eerste elektroniese toilette gesien het.”

Riana beskryf Tanzanië as ʼn rustige land, maar Ethiopië met sy kerke uit die elfde eeu wat uit klip gebeitel is, het haar hart gesteel.

Wat sou haar boodskap aan ons landsburgers dan wees?

“Ons moet ophou om na verskille te kyk en eerder op ooreenkomste fokus,” antwoord sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos

Wat ‘n uitsonderlike persoon. Geen diskriminasie, glasplafon, “curved balls” en dies meer kon haar onderkry nie. Definitief ‘n les vir ons almal – leef die Elfde Gebod.

AW

Die Medalje ‘Ribbon’ moet net drie in n ry wees vir vroue volgens die SAPS Regulasie ….. waar dit vir die mand vier is.

Of het dit verander ?

Ongeag,

Ekke ken U nie, tog mag U van krag tot krag gaan.

Bitter min wat deesdae 40 jaar of meer Diens in die polisie het.

Meeste dalk 35, of tussen in 35 en 40 jaar.

Strandloper

Dankie daar is nog mense soos jy. Dit is tog waarna ons almal streef diep binne ons. Ons kort meer sulke goeie nuus

Trotse Boervrou

Sy laat my dink aan ‘n hedendaagse moeder Teresa. Sy verdien werklik erkenning vir haar gesindheid teenoor haar beroep en veral haar dryfkrag om ‘n verskil in hierdie ongenaakbare wêreld te maak.

Madeleine

Wel gedaan!