2021 was fantastiese jaar vir motorbedryf

2020 was weens die Covid-19-pandemie en gevolglike inperkings ʼn bitter slegte jaar vir die motorbedryf.

Opeenhopings by hawens, die voortslepende tekort aan vraghouers én die wêreldwye mikroskyfie-tekort het die motorbedryf op sy knieë gedwing.

Die bedryf het egter sy staal gewys en alle segmente – passasier‑ én handelsvoertuie – het in 2021 sterk gegroei teenoor 2020. Daar is in totaal 464 122 nuwe voertuie in Suid-Afrika verkoop, ʼn groei van 22,1% teenoor 2020. Uitvoer het met 8,8% gegroei tot 295 268 eenhede teenoor 2020 se 271 288.

ʼn Segment wat interessant gaan wees om dop te hou, is nuwe energie-voertuie, wat elektriese, inprophibried‑elektriese en gewone hibriede voertuie insluit. Dié segment het met 127,3% gegroei tot 650 eenhede.

Toyota het in Desember weer koning gekraai met 5 603 eenhede, Volkswagen tweede met 4 882 en Hyundai derde met 2 705. Suzuki staan sterk in vierde plek met 2 040 eenhede en Renault vyfde met 1 758. Kia is kort op hul hakke met 1 715 eenhede. Nissan verbaas steeds met 1 356 eenhede – te danke aan die Magnite en Navara. Ford bloei in die plaaslike mark met 1 240 eenhede, maar het veld gewen met die uitvoer van 5 117 eenhede terwyl hulle begin voorberei vir die nuwe Ranger en hul aanleg in Silverton wat ʼn groot gedaanteverwisseling ondergaan.

Die vyf groot uitvoerders is Toyota eerste met 5 968 eenhede, Ford met 5 117, Mercedes-Benz met 3 622 gevolg deur Volkswagen met 3 293. BMW is in die vyfde plek wat uitvoer betref met 2 622 eenhede.

Nuwelinge in die mark wat daarin kon slaag om hul staal te wys, is Toyota se Corolla Cross met 1 752 eenhede wat in Desember verkoop is en Peugeot wat 38 Landtreks verkoop het, 24 meer as wat Mazda van sy BT-50’s kon verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Ons was gedurende Desember 2021 by VW se AutoPavilion waar oud en jonk dit geniet het. Opmerkilik is die VW produkte bekend in Nelson Mandela Metropool en dit het my nogal tuis laat voel tussen al die VW’s. Onlangs is ‘n goekoper elektriese motor in SA bekend gestel teen R230K deur Eleksa, genaamd City Bug, volgens ‘n kenner is dit ‘n dorpsmotor (nie vir die stad). Maksimum spoed van 60km/h en 100km afstand op ‘n volgelaaide battery. Ek hoop van harte ons kry iets beter in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.