Adrenalien bruis by Toyota se GR-beker

Foto: Verskaf.

Toyota is besig om diep spore in verskeie motorsportsoorte te trap. Dit is geen geheim dat die Hilux waarmee Nasser Al-Attiyah al ʼn paar keer die Dakar-tydren gewen het hier in Suid-Afrika deur Toyota Gazoo Racing South Africa gebou is nie.

Toyota Suid-Afrika neem ook deel in die GTC-dissipline, maar – dis hul jongste GR Yaris wat almal aan die gons het. Daar is sewe tjorries wat eers die media se toetsmotors was. Dié einste sewe motortjies is gevat en  ʼn paar plakkers is opgesit – semi-gladde bande, beter remblokkies, ʼn rolstaaf en die sitplekke is verwyder – dis dit. Siem sala biem – en Toyota sit met sewe renmotors.

Wie gaan dié motortjies bestuur – maar terselfdertyd enorme dekking genereer? Die media! ʼn Blink plan. Sewe joernaliste is gekies:

Ashley Oldfield (Cars.co.za)

Jeanette Kok-Kritzinger (Wiele2Wiele)

Lerato Matebese (TopGear)

Mark Jones (The Citizen)

Sean Nurse (AutoTrader)

Thomas Falkiner (Sunday Times)

Die sewende kar word gedeel tussen werknemers binne Toyota wat hul staal wil wys. In die eerste rondte by Killarney ʼn paar weke gelede het Ashley Oldfield koning gekraai. Deon Joubert het vir Sean Nurse ingestaan. Nurse was afwesig weens familie verpligtinge.

Onlangse rondtes by Zwartkops was ʼn reusesukses. Die eerste resies se begin is bietjie deurmekaar gekrap. Dit is veronderstel om ʼn bewegende begin te wees in plaas van stilstaan op die pylvak en vir die groen lig te wag.

Sean Nurse het in die eerste wedren sy eerste oorwinning opgeraap, en die tweede wedren het Ashley Oldfield weer in die eerste plek gesien – mét ʼn stukkende vierde rat!

Die volgende wedren vind op 26, 27 & 28 Mei op die Aldo Scribante-renbaan buite Port Elizabeth plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.