Alfa Romeo se Tonale laat nie juis tone omkrul

Ek eet, slaap en drink motors vandat ek ʼn laaitie is. Ek kan dit nie verduidelik nie, maar soms – met seker motors – het ek werklik ʼn soort liefdesverhouding met daai karre. Jy het al daardie uitdrukkings gehoor: Hy is ʼn petrolkop … of, daar vloei petrol deur sy are.

Sommige … nee wag. Die meeste motormense sê om ʼn ware “petrolkop” te wees, moes jy al ʼn Alfa Romeo besit het. Ek het nog nooit nie. Dan ook, seg hulle, moet jy ʼn (onverklaarbare) liefde vir alle Alfas hê. Ek het nie, veral nie dié een nie – en dit is vreemd, want die meeste van die motormanne met wie ek praat, hou sommer baie van die kar. Nou hoe nou?

Die motor in kruisverhoor is die nuwe Alfa Romeo Tonale. Of “Toenail”, soos talle spottenderwys opmerk. Dit is bitter mooi in bloedrooi, maar die voertuig wat ek getoets het, was ʼn allervreemde groen.

Goed, ek kan verby die kleur kyk en dan probeer vasstel: Sal ek my eie een koop? Sou dit wel in rooi wees?

Die binneruim is mooi, veral die sitplekke. Die instrumente agter die stuur is pure Alfa en ek hou daarvan. Die raakskerm op die paneelbord vir die inligtingstelsel is effens klein, maar ʼn mens kan sekerlik daarmee saamleef (behalwe dat sommige van die skrif bitter klein en haas onleesbaar) is.

Dit bring my by twee heeltemal teenstrydige gevolgtrekkings.

ʼn Alfa Romeo is ʼn motormens se kar: vol passie en emosie. Daarom is die stuur in die Tonale vlymskerp gekalibreer; skerper as sommige sportmotors wat ek al onder hande gehad het.

Daar is ʼn 1.5-viersilinderturbopetrolenjin wat 118 kW en 240 Nm bied. Na my mening is dit nie sportmotoragtig nie. Alfa sê boonop dat die Tonale ʼn hibried is. Dit beskik dalk oor die tegnologie, maar ʼn 0.8 kWh-battery kan die motor net aan- en afskakel. Verder is dit ʼn mors van tyd en energie en hulle kon die hele hibriede stelsel weggelaat en gewig bespaar het.

En dan sou hulle dálk die kar teen ʼn billike prys kon bekendstel.

Op die pad is die “Toon-nael” se ritgehalte goed, mits die oppervlak puik is. Indien jy egter op Gauteng se verskonings vir ʼn pad ry, is die ritgehalte stamperig. Dit sorg wel vir fantastiese padhouvermoë; iets wat jy amper nooit nodig het nie, want die enjin is beslis nie ʼn vuurvreter nie.

(Foto: Verskaf)

Uit ʼn veiligheidsoogpunt het die Tonale die volle suite met elke denkbare stelsel om jou en jou gesin veilig te hou. Minstens is dít ʼn veer in die hoed.

Ter opsomming: In ʼn rateltaai mark en teen dáái prys, is daar na my mening veel beter opsies.

 

Die reeks lyk só:

Alfa Romeo Tonale 1.5T Hybrid TiR754 900
Alfa Romeo Tonale 1.5T Hybrid SpecialeR815 900
Alfa Romeo Tonale 1.5T Hybrid VeloceR835 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Volvo XC40 B4 Plus Bright145kW/300 Nm7.3 l/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR777 900
BMW X1 sDrive 18d xLine110 kW/360 Nm5 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/00 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R815 617
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 162 kW 4Motion R-Line162 kW/350 Nm8.3 l/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R819 800
Lexus UX 250h EX135 kW/188 Nm4.5 l/100 km7 jaar/105 000 km- voertuigwaarborg en omvattende instandhoudingsplan

8 jaar/195 000 km- batterywaarborg

 

R857 900

Tussen hierdie mededingers kan jy besluit of jy iets lig op brandstof wil hê in die BMW en Lexus, óf ʼn vuurvreter in die Tiguan. Elkeen van dié voertuie is vir my ʼn beter opsie as die Tonale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques ·

Hoe kan ‘n SUV ooit ‘n Alfa Romeo wees. ‘n Alfa Romeo is ‘n koepee (GT/V), Spider of sedan (berlina). Niks anders nie. As Alfa wil motors verkoop, bou weer motors wat die verbeelding aangryp en die emosies opjaag. Om te bou wat mode is werk nie vir ‘n maak soos Alfa Romeo nie.

SomeOne ·

ek stem dalk baie met jou saam, van kleins af ‘n petrol kop, maar alfa kan dalk in italië liefde maak, maar hulle het nog nie geleer “karre” maak nie, (domkies kan ook karre trek, moedswillig domkies, dis ‘n dom keuse om ‘n alfa te besit, “friend for life”)
hulle was seker een van die eerstes wat (twin cam) enjins gebou het, maar daar het dit gebly, as jy daai enjin nie oppiep nie, begin hy nie meer skelm rook nie
prys gewys is daar baie ander motors om van te kies, wat grootte, stillering, ontwerp – verandering van bakwerk-, ens. alles insluit
in 1965 het my broer ‘n alfa besit en resies gaan jaag, gou van dit onslae geraak, bakwerk lyk nog net soos daardie tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.