Daar is net ’n ander tipe opgewondenheid wanneer jy agter die stuur van ’n Alfa inklim. En die Stelvio is geen uitsondering nie – met sy onmiskenbare Italiaanse ontwerp laat hy behoorlik die koppe draai.
Ek het ’n voertuig gesoek om vroulief ʼn bietjie te bederf met ’n naweek weg, toe besluit Alfa daar is nie ’n beter voertuig vir die taak as sy Stelvio nie. So vat ons toe weer einde November die pad Dullstroom toe vir vroulief se 30ste verjaarsdag.
Ons was ook vroeër vanjaar in Dullstroom en toe moes BMW se sportiewe 330iS die paaie vol slaggate die stryd aansê. Hierdie keer was dit egter ’n ander storie – daar was nie ’n slaggat in sig nie – al sou die Stelvio beslis korte mette met ’n paar gate kon maak.
Op die N4 het die Stelvio, ’n middelslagsportnuts, die geleentheid gehad om behoorlik sy slag te wys. Die Stelvio kom met aktiewe spoedbeheer, wat beteken dat hy self rem en weer versnel om in pas met die verkeer te bly – so jy kan eintlik net rustig agteroor sit en kyk hoe die kilometers verby vlieg. Van 0-100 km/h vat ʼn blitsige 5,7 sekondes en die Stelvio kan 230 km/h voluit haal. Om ’n ander motor verby te steek, is moeiteloos en kan baie vinnig en veilig gedoen word. Die Stelvio se padhouvermoë is voorwaar indrukwekkend.
Dullstroom was in ’n digte miskombers toegevou toe ons dit binnery en dit het ’n sprokiesagtige gevoel aan dié klein dorpie in Mpumalanga gegee. Die Stelvio is vernoem na Italië se ikoniese Stelviopas met sy tientalle haarnaalddraaie en vir oomblikke kon mens jouself amper verbeel dat jy in een of ander klein Italiaanse dorpie rondry.
Vroulief is swanger met ons tweede baba en ek wou dus seker maak sy is gemaklik vir die rit van sowat twee en ’n half uur tussen Pretoria en Dullstroom. En die Stelvio het nie teleurgestel nie. Die binneruim is luuks en bied verhitte leersitplekke, panoramiese sondak, dubbelsone kilmaatbeheer, ’n 8,8 duim-raakskerminligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto, ’n draadlose laaimat en ’n sportiewe verhitte leerstuurwiel.
Onder die Stelvio se kap skuil ʼn lekker 2.0-viersilinderturbopetrolenjin wat ʼn allemintige 206 kW en 400 Nm bied. Daai krag word aan al vier wiele gestoot deur ʼn puik 8-spoed-ZF-wringkragomsitter- outomatiese ratkas.
ʼn Mens voel uiters vinnig baie gemaklik in die Stelvio en dis amper asof jy in ’n weelderige en veilige kokon toegevou word. Veiligheidsgewys het die Stelvio ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer – die lot. Op die pad is daar aktiewe veiligheidstelsels soos noodremhulp en blindekolwaarskuwing.
Ná ons lieflike naweek weg moes ek gou ’n draai in die Noord-Kaap maak. Ek is te bly dat ek die Stelvio se sleutels eers die volgende Vrydag moes teruggee – dus klou ek vas aan die sleutels en doen die 1 500 km‑trippie met die Alfa. Weereens is die reis uiters gemaklik afgelê.
Dit is maklik om die Stelvio op te som. Hy is bitter mooi, uiters luuks en kom volledig toegerus met alles wat jy in ’n motor sal wil hê. Teen R1 159 900 sal jy verwag dat ’n motor regtig moet uithaal en wys en die Stelvio stel nie teleur nie. Die moeilikste deel gaan wees om die kleur te kies.
Die reeks lyk só:
Alfa Romeo Stelvio 2.0T Super Q4 | 206 kW/400 Nm | 0‑100 km/h 5,7 sek Topspoed 230 km/h | 7 l/100 km | R1 159 900 |
Alfa Romeo Stelvio Quadrifoglio Q4 | 375 kW/600 Nm | 0‑100 km/h 3,8 sek 283 km/h | 9 l/100 km | R1 749 900 |
Die kompetisie lyk só:
Volvo XC60 B5 AWD Inscription | 183 kW/350 Nm | 0‑100 km/h 6,9 sek Topspoed 180 km/h | 5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R926 200 |
Jaguar E-Pace P250 AWD R-Dynamic S | 184 kW/365 Nm | 0‑100 km/h 7,5 sek Topspoed 229 km/h | 5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R967 858 |
Mercedes-Benz GLC300 4Matic | 200 +e kW/370 Nm | 0‑100 km/h 6,2 sek Topspoed 240 km/h | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 026 214 |
Porsche Macan | 195 kW/400 Nm | 0‑100 km/h 6,2 sek Topspoed 232 km/h | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 3 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 050 000 |
BMW X3 xDrive30d M Sport | 195 kW/620 Nm | 0‑100 km/h 5,8 sek Topspoed 240 km/h | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 210 764 |
joe, daar skrik ek my boeglam toe ek die prys sien !..
Jip ek ook….
Moet ‘n lekker mptor wees om te bestuur maar daai prys! Hoekom al die jare was Alfa’s nog soe duur in SA
Wat van `n 6spoed handrat model, Alfa? Vir daardie van ons met die emosionele ouderdom van 21 en soos ‘n renjaer van ouds wil voel