Alfa se Stelvio verwar

Die wêreld is tans behep met sportnutse. Vir sekere behoeftes verstaan ek dit heeltemal. Dit is vir my byvoorbeeld lekkerder om my woonwa met ʼn sportnuts óf ʼn bakkie te sleep. Die meeste mense sê dit is vir die grondvryhoogte, veelsydigheid en die vermoë om grondpaaie te trotseer.

Ek het onlangs die bekendstelling van twee Alfa’s bygewoon: die fantastiese Giulia en die Stelvio. Die Stelvio word op die Giulia se platform gebou wat ʼn goeie beginpunt is, maar dis ook hier waar dinge vir my begin skeefloop. Die Stelvio is inderdaad mooi … maar hoekom ʼn sportnuts?

Ek is vas oortuig dat kopers van ʼn Stelvio waarskynlik nie te veel grondpad met hom gaan ry nie. Sy kattebak is nie so groot soos die Giulia s’n nie, en hy is aansienlik duurder. Hy kan wel ʼn indrukwekkende 2,3 ton sleep, maar ek glo nie té veel Stelvio-eienaars is groot woonwa-manne nie.

Ons sit dan in werklikheid met ʼn sportmotor aangesien hy meer as 200 kW het en 100 km/h kan haal in ʼn blitsige 5,7 sekondes en 230 km/h voluit kan haal. Dis indrukwekkend, maar die Giulia kan ook 100 km/h in 5,7 sekondes en 240 km/h voluit haal. Hy is ook ligter op brandstof, sit lekkerder, ry sagter en sy padhouvermoë voel beter.

Wanneer mens dan vir eers die Giulia vergeet en net na die Stelvio kyk, begin mens egter dink watter ander sportnutsvoertuig jy vir R1,15 miljoen kan kry: ʼn BMW X3, ʼn Jaguar E-Pace, ʼn Lexus NX óf RX, ʼn Mercedes-Benz GLC, ʼn Prado of selfs ʼn Porsche Macan! Dit is almal bitter sterk mededingers. Dit bring my by die Macan. Dit voel soos ʼn fantastiese ryding ondanks die feit dat dit ʼn sportnutsvoertuig is. Die Stelvio voel asof hy ʼn treetjie agteruit is van die Giulia.

Die Stelvio se ontwerp is bitter mooi ondanks sy ander tekortkominge. Dit is ʼn Alfa Romeo en dus uniek. Die binneruim se bougehalte is goed en die materiale luuks. Ek is nie gaande oor die bestuursposisie nie – ʼn ou eienskap van die Italianers wat hulle gelukkig in die Giulia reggestel het.

Onder die Stelvio se kap skuil ʼn lekker 2.0-viersilinderturbopetrolenjin wat ʼn allemintige 206 kW en 400 Nm bied. Daai krag word aan al vier wiele gestoot deur ʼn puik 8-spoed-ZF-wringkragomsitter- outomatiese ratkas.

Veiligheidsgewys het die Stelvio ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer – die lot. Op die pad is daar aktiewe veiligheidstelsels soos noodremhulp, blindekolwaarskuwing en aanpasbare spoedkontrole.

Op die pad toer die Stelvio goed, maar hy is steeds nie vir my so goed soos sy sedan-boetie nie. Padhouvermoë is voorwaar indrukwekkend, onnodig goed vir ʼn sportnutsvoertuig.

Dit is bitter maklik om die Stelvio op te som: Ek is nie oortuig nie. Ek kies die Giulia maklik bó sy mededingers, maar nie die Stelvio nie. Daai gaatjie word deur die Macan gevul.

Die reeks lyk só:

Alfa Romeo Stelvio 2.0T Super Q4206 kW/400 Nm0–100 km/h

5,7 sek

Topspoed

230 km/h

7 l/100 kmR1 159 900
Alfa Romeo Stelvio Quadrifoglio Q4375 kW/600 Nm0–100 km/h

3,8 sek

283 km/h

9 l/100 kmR1 749 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd saam met die Stelvio deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.