Alles wat ʼn oulike buksie moet wees

As ek dink wat die resep vir ʼn oulike klein luikrug is, is dit eintlik eenvoudig. ʼn Oulike ontwerp, goeie spesifikasievlak, billike ruimte en ʼn lekker kattebak. Indien jy daai vereistes kan afmerk, het jy ʼn wenner. Die Citroën C3 is presies só ʼn wenner.

Die opgeknapte C3 is werklik oulik. Die C3 beloof glad nie om sportief te wees nie – eerder gemaklik; en die sitplekke in die C3 is presies dít. Die AirBump op die deure wys dat die C3 ʼn lekker stadsbuksie kan wees.

Om dinge binne die kajuit gemaklik te hou in die stad is daar outomatiese klimaatbeheer, ʼn raakskerminligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, asook spoedkontrole en ʼn selfverduisterende truspieëltjie. Vir daai knap gaatjies is daar ʼn truratkamera.

Die C3 word aangedryf deur ʼn turboaangejaagde 1.2-driesilinderpetrolenjin wat 81 kW en 205 Nm bied. Boonop neem 0–100 km/h slegs ʼn ratse 9,4 sekondes en hy sal aanhou snol tot ʼn indrukwekkende 194 km/h. Indien ʼn mens nie die C3 se topspoed probeer bereik nie, kan hy 6 l/100 km handhaaf – heel goed.

Op die pad blink Citroën se C3 veral uit. Die ritgehalte is voorwaar lekker soepel en sag – indrukwekkend aangesien daar nie vreeslik bakrol is weens die sagter vering nie. Die C3 bied ʼn sterk veiligheidsvlak met ses lugsakke, ABS met EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer.

Die C3 is werklik maklik om op te som. Ek’t self al drie besit. Ek sou in ʼn oogwink dié weergawe van die C3 vir myself koop. Daar is reeds 1 miljoen van dié C3’s in Europa verkoop – en altesaam 4,5 miljoen – voorwaar ʼn prestasie.

Die reeks lyk só:

Citroën C3 1.2 Feel60 kW/118 Nm5,7 l/100 kmR269 900
Citroën C3 1.2 Shine81 kW/205 Nm6 l/100 kmR324 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 3 jaar/60 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.