Amper weer tyd vir Honda Quest

Honda bied al vir ’n paar jaar die Honda Quest True Adventure aan.

Hierdie kompetisie is egter anders as ander avontuurkompetisies. Met die Honda Quest ry jy nie met jou eie motorfiets nie. Trouens, jy hoef nie eers ’n motorfiets te besit nie, net ’n motorfietslisensie en ’n brandende begeerte vir avontuur. En, om dit nog meer aantreklik te maak, ry die wenner weg met die motorfiets waarmee hy of sy deelgeneem het.

Die Honda Quest is nie ’n wedren of ’n tydren nie, dit is ’n avontuur waar jy dalk net verbaas sal wees oor jou eie deursettingsvermoë en aanpasbaarheid.

Deelnemers word vooraf gekeur, en Honda soek diegene wat onafhanklik kan funksioneer, en tog hul mededeelnemers in ag kan neem. Soos reeds genoem, hoef jy nie ’n geharde avontuurmotorfiets-entoesias te wees om deel te neem nie. As jy hou van die idee om ver van die geykte roetes af te wyk, en dit op Honda se legendariese Africa Twin, dan is die Honda Quest dalk vir jou.

Om die boodskap wyer te versprei, het Honda die Road to Quest van stapel gestuur. Honda beplan om verskeie handelaars deur die land te besoek met vier volledig toegeruste Africa Twins. Hier kan jy dan die Africa Twin eerstehands ervaar met ’n toetsrit.

Nie net kan jy die fiets gaan toetsbestuur nie, maar daar sal ook later gevorderde sessies aangebied word op sleutelplekke soos ADA vir Honda se klante in Gauteng. Jy sal ook die geleentheid kry om vorige Quest-deelnemers te ontmoet wat hul Honda Quest-ervarings deel.

Die Road to Quest skop op 15 Augustus by Honda Wing (Bikers Warehouse) in Randburg af. Die eerste geleentheid vir Honda-klante vind op 3 September by ADA plaas.

Vir verdere inligting oor die toetsritte en hoe om in te skryf, volg gerus Honda Wing SA op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.