As ʼn nuwe motor nie so nuut lyk nie

kar-koop

Foto: Liftable.com

Dit is nie maklik om ʼn nuwe motor te koop nie. Dit is duur en ʼn mens moet mooi nadink voordat jy besluit. Maar wat gebeur as jy mooi verduidelik wat jy wil hê en jy koop steeds ʼn kat in die sak? Ina Opperman verduidelik wat ʼn leser se regte is met ʼn “nuwe” motor wat hom nie soos een gedra nie.

Een van ons lesers kla oor ʼn nuwe voertuig wat sy gekoop het wat gladnie soos ʼn nuwe een lyk en werk nie. Sy het gekla en gevra dat die handelaar die voertuig terugneem, maar die handelaar weier. Sy sê sy wou in Augustus ʼn motor koop wat nie sommer langs die pad sal gaan staan nie en waarvoor onderdele geredelik beskikbaar is.

Nadat sy die motor ontvang het, het sy agtergekom die “leer”-sitplekke is só erg gebrand in die son,  dat die “leer” al afdop en die seil uitsteek. ʼn Mens kan ook duidelik sien waar die motor se bakwerk aan die regterkant deur die domkrag beskadig is, die agterlig is stukkend en toegeplak en die knop van die rathefboom lyk erger as die van haar vorige voertuig wat sy tien jaar lank gebruik het.

Die onderstel is ook hier en daar swart gesprei, terwyl ander dele ligte kolle wys. Voor in die enjin kan ʼn mens duidelik sien waar aan die motor gewerk is en skade aan die verfwerk is sommer met die hand reggemaak. Die oorspronklike afstandbeheer is vervang met ʼn goedkoop sentrale sluitstelsel wat nie werk nie. Die leser het dit laat verwyder en ʼn alarmstelsel en ʼn rathefboomslot laat installeer.

Sy sê die motor rook ook vreeslik as sy dit aanskakel, maar die dienssentrum sê dit is normaal vir ʼn nuwe motor. Om alles te kroon het die motor in die middel van die verkeer gestaak en moes dit ingesleep word, nadat sy nog net 1 400 km gery het. Die motor staan nou al vyf weke by die handelaar se werkswinkel, terwyl die handelaar wag vir onderdele wat ingevoer moet word.

“Ek beskou die motor nie meer as betroubaar nie aangesien dit vol foute is en die onderdele nie geredelik beskikbaar is nie. Ek wag nou al vyf weke terwyl ek die motor nodig het vir my onderneming.”

Toe sy die motor gekoop het, wou sy ʼn diensplan koop, maar die handelaar het daarop aangedring dat sy ʼn motorplan koop wat alle herstelwerk dek en dit is nou vir haar duidelik waarom. Sy wou die motor teruggee, maar die handelaar het gesê haar motor is in die werkswinkel en hy moet die geleentheid gegun word om die probleme aan die voertuig op te los.

Die leser glo egter die motor is onder valse voorwendsels aan haar verkoop. Sy het ʼn ander werkswinkel gevra om die motor na te gaan en ʼn verslag oor die probleme met die motor saam te stel. Sy het ook op die handelaar se webtuiste gekla en ʼn verteenwoordiger het haar gebel, maar sedertdien is haar probleem nie opgelos nie.

Sy het selfs by die bank wat die finansiering vir die motor gedoen het, gaan kla, maar net dieselfde antwoord van die handelaar gekry, wat bygevoeg het dat die vervanging van die motor nie ʼn opsie is nie, maar dat die probleme reggestel sal word.

Die leser se regte

Lesers sal onthou dat ons vorige aritkel, oor versweë waarborge, verwys het na artikel 56 (1) van die Wet op Verbruikersbeskerming wat bepaal daar is ʼn versweë waarborg in elke verbruikerstransaksie dat die produk voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, wat die gehalte van elke produk wat jy koop, waarborg en dat dit ook veilig is, doen wat dit veronderstel is om te doen, goed werk, geen defekte het nie en ʼn redelike tyd sal hou.

Jy het die reg om produkte volgens artikel 56 binne ses maande terug te gee en die handelaar moet dit herstel, vervang of jou geld terugbetaal. Indien die probleem nie binne drie maande reggestel nie word nie of jy ontdek ʼn verdere gebrek, defek of onveilige kenmerk, moet die handelaar die produk vervang of jou geld terug betaal.

Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming moet die leser in dié geval die handelaar dus tyd gee om die motor te herstel, maar sy het ook regte in terme van artikel 29 en 41 van die Wet op Verbruikersbeskerming, wat handel oor die algemene standaarde vir die bemarking van goedere of dienste en valse, misleidende of bedrieglike voorstellings.

Artikels 29 en 41 bepaal ʼn handelaar mag nie goedere of dienste bemark wat redelik waarskynlik ʼn vals of misleidende voorstelling daarvan is nie, onder meer met betrekking tot die aard, eienskappe, voordele of gebruik nie.

Met betrekking tot die bemarking van goedere of dienste, mag die verskaffer onder meer nie direk of indirek ʼn valse, misleidende of bedrieglike voorstelling oor ʼn wesenlike feit maak nie. Die handelaar mag ook nie valslik voorgee dat die nodige diens-, onderhouds- of herstelfasiliteite of onderdele geredelik binne of vir ʼn redelike tydperk beskikbaar is as dit nie die geval is nie.

Wat nou?

Lesers wat met motorprobleme sukkel en nie die klagte met die handelaar opgelos kry nie, kan ʼn klagte indien by die Ombudsman vir die Motorbedryf (MIOSA). MIOSA is geakkrediteer as ʼn alternatiewe dispuutresolusieskema in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming. Lidmaatskap van MIOSA is verpligtend en voldoening aan die Suid-Afrikaanse Bedryfskode vir die Motorbedryf is ook verpligtend vir alle lede. MIOSA se kontakbesonderhede en klagtevorms is beskikbaar by www.miosa.co.za.

  • Ina Opperman is ʼn lid van MIOSA se advieskomitee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton - KLD ·

Hoe neem ‘n mens ‘n “nuwe” motor in ontvangs sonder om hierdie klaarblyklike ooglopende foute nie raak te sien nie?

Laeveld ·

Dieselfde het onlangs met my oorgekom. Die probleem is net dat die sogenaamde handelaar is ‘n groot naam. en alhowel hulle die voertuig terug geneem het, wag ek nog vir die voertuig se aflos by die bank gefinaliseer word.

Laeveld ·

Ek het dieselfde oorgekom, maar gelukig vir my het als binne 2 dae gebeur vandat ek die voertuig gekry het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.