Audi A1 se prys pla

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Is dit nie vreemd hoe ʼn ding se prys vir ʼn mens dadelik billik óf belaglik is nie! As iemand sê ʼn Lamborghini kos R5 miljoen pla dit my glad nie. Dit het my wel gepla met die Audi A1 wat ek onlangs kon toets. Dit was ʼn pragtige klein buksie. Bloedrooi met ʼn swart dak. Regtig mooi. Maar nie R568 300 mooi nie.

Die Audi A1 is die Volkswagen Polo se tweelingboetie. Die verskil is egter dat die Audi privaat skool toe gestuur is. Hy lyk baie netjieser en sy binneruim is werklik baie beter as dié van ʼn Polo. Hy het ook ʼn ander enjin – maar dit kos nie R240 000 nie.

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Die Audi se ontwerp is regtig netjies. Sy lyne vloei mooi en al die klein bakversierings rond die pakket sportief af. Die binneruim is waar die Audi uitblink. Die sitplekke is lieflik gemaklik en die bestuursposisie puik. Die konsole in die middel is effe na die drywer gedraai en verleen aan die kajuit ʼn bestuurdergefokusde atmosfeer.

Die A1 is propvol gestop met al die luuksste truuks en veiligheidstelsels. Daar is ses lugsakke, vastrap en stabiliteitbeheer, ABS met EBD asook blindekolwaarskuwing. Spoed en klimaatbeheer maak reis op die langpad ʼn droom. My gunsteling van die Audi’s is beslis die digitale instrumente wat ʼn magdom inligting kan vertoon, nes jy dit wil hê.

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Dit bring my by een van my ander kwale wat ek met die Audi het. Dit is nou die tweede produk waarin ek die vervaardiger se nuwe 1.5-viersilinderturbopetrolenjin ervaar. Ek is nie gek na die enjin nie. Hy voel vir my effe versmoor. Hy is tevrede om rustig rond te ploeter, onder 4 000 r/min – selfs lekker lig op brandstof. Indien jy wil verbysteek of bietjie vinniger ry en die versneller grond toe trap, dan voel die enjin ongelukkig. Hy wil nie luier en opbou bó in die toerestrek nie. As motorliefhebber is dit vir my hartseer. Daar is ʼn verduideliking en dit is uitlaatgasse. VW het hard pak gekry in die sogenaamde Dieselgate-skandaal, en dié meneer is een van sy nuwe ultraskoon-enjins. Enjins wat hier by 7 000 r/min toer, sukkel om deesdae uitlaatgastoetse deur te kom. Nietemin. Die 1.5-turboviersilinder bied 110 kW en 250 Nm. Genoeg om die A1 van stilstand af 100 km/h te laat bereik in 7.7 sekondes en aan te hou tot 222 km/h. Dis regtig goed … maar dit vóél nie goed nie.

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Op die pad voel die A1 lekker luuks. Sy ritgehalte is effe hard weens die laeprofielbande wat oor die 18”-wiele getrek is. Padhouvermoë is in die kol vir ʼn klein sportiewe luikrugmotor.

Die Audi A1 veroorsaak ʼn tweestryd in my. Dis regtig ʼn mooi tjor – maar R568 300 is te veel. ʼn Mens kan ʼn Volkswagen Polo GTI koop vir R400 000 met beter verrigting van sy 2.0-viersilinderturbopetrolenjin en wat amper so mooi soos die Audi is. Maar, dis nie ʼn Audi nie. Dis ʼn jammerte vir Audi dat hy geen voertuie uit Suid-Afrika uitvoer nie; hy het dus geen uitvoerkrediete soos VW nie en kry die volle 44% pak slae by Jan Taks op sy invoere.

Die reeks lyk só:

Audi A1 Sportback 30TFSI85 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 kmR378 500
Audi A1 Sportback 30TFSI Advanced line85 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 kmR392 500
Audi A1 Sportback 30TFSI S line85 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 kmR407 500
Audi A1 Sportback 35TFSI110 kW/250 Nm5.1 ℓ/100 kmR448 500
Audi A1 Sportback 35TFSI Advanced line110 kW/250 Nm5.1 ℓ/100 kmR462 500
Audi A1 Sportback 35TFSI S line110 kW/250 Nm5.1 ℓ/100 kmR477 500
Audi A1 Sportback 40TFSI S line147 kW/320 Nm6.0 ℓ/100 kmR488 000

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die basisprys van die A1 Sportback 35TFSI Advanced line sonder CO2-belasting is R443 900 en dié toetseenheid het ekstras van R136 000 op.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Swift Sport 1.4T outo103 kW/230 Nm6.1 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R337 900
Abarth 500 1.4T outo107 kW/180 Nm5.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R353 200
Volkswagen Polo GTI147 kW/320 Nm5.9 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R398 400
Renault Clio RS18 F1162 kW/260 Nm5.9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/30 000 km- diensplan

R459 900
MINI Cooper S 5-deur outo141 kW/280 Nm5.4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R494 180

Die Audi A1 sit heel op sy eie in die premium-segment. BMW se 1-reeks en Mercedes-Benz se A-klas is eerder ʼn A3-mededinger. Ek’t dus na ander meer sportiewe klein luikrûe gekyk. Suzuki se Swift Sport is wragtig ʼn winskoop – maar sy binneruim-gehalte nie op die Audi se vlak nie. Die Abarth is pragtig maar piepklein en het net twee deure. Die Polo GTI bly ʼn fantastiese mededinger. Die Renault is baie na aan die einde van sy leeftyd en ʼn nuwe model sal binnekort sy buiging maak. Ek voel nog ʼn ware mededinger vir die A1 in terme van ontwerp, luukshede en mode is die MINI. Kies dié wat vir jou mooi is – gaan toetsbestuur hulle en kies die een wat met jou hart én sak praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Die berig oor die A1 laat my dink aan ‘n gevalle studie so paar jaar terug oor motor voertuig gloeilampe, spesifiek VW en Audi. Die gloeilampe word in Duitsland vervaardig en na vervaardiging gaan hulle skool toe (ek gebruik Brendon se storie lyn). Die een klomp gloeilampe kry die die fabriek se verpakking, die ander groep kry VW se verpakking en die laaste groep kry Audi se verpakking. Die verkoop prys van die gloeiamp met die fabriek se verpakking is R5.78, VW se prys R78.00 en Audi se prys R121.00. Al was die gloeilampe by verskillende skole, staat skool, semi staat skool en dan privaat skool doen hulle presies dieselfde funksie en is dieselde kwaliteit. Is die vervaardigers nie besig om die verbruiker uit te buit nie.
Lekker ry en laat die ligte skyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.