Audi A4 – ’n luukse sedan

ʼn Paar dekades terug was Audi basies opgetofte Volkwagens. Die twee handelsmerke is steeds familie, en já, daar word tegnologie gedeel, maar Audi het homself sedert die middel negentigerjare as ʼn volhoubare luukse handelsmerk gevestig.

Ek was in die vroeë 2000’s versot op Audi. Dié A4 het my herinner aan hoekom. Hier sit ons met ʼn D-segment- luukse sedanmotor. Daar is ʼn 2.0-viersilinderturbodieselenjin met ʼn lieflike outomatiese ratkas, sitplek vir vyf en ʼn reusekattebak. Dié eienskappe is waarmee die meeste van ons grootgeword het. Daar was nie dinge soos kompakte sportnutse en kruismodelle nie. As mens in die A4 klim en die eerste paar kilometer ry, besef jy dadelik hoekom.

Die A4 se ontwerp is voorwaar netjies. Soos ʼn mooi pak. Die binneruim is pragtig uitgelê sonder fieterjasies – net puik gehalte en ʼn mooi, eenvoudige ontwerp. Dié A4 het verskeie slim tegnologieë ingebou. Die motor is permanent deur middel van ʼn simkaart aan die internet gekoppel en kan dus oor die lug sagteware aflaai en bywerk. Hy kan ook werklike verkeersinligting na die navigasiestelsel aflaai – slim.

Die weergawe wat ons onder hande gehad het, was die Audi A4 40 TFSI S line. Hy word aangedryf deur ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin wat 140 kW en 320 Nm bied. Audi se S-tronic-ratkas werk seepglad en die nuwe hibridiese tegnologie spaar batterykrag en help met die aan- en afskakel in swaar verkeer.

Op die pad is waar dié Audi sy staal wys. Dit is heerlik gemaklik. Die rit is soepel, al ry hy op pragtige 19″-wiele. Padhouvermoë is puik en die algehele ervaring is voorwaar lekker. Die A4 voel so lig op sy voete, soos ʼn ballerina. Dit laat mens dadelik twyfel in die groter, swaarder sportnutsvoertuie.

Audi se A4 is baie maklik om op te som. Dié wat ʼn Audi al ervaar het, weet. Dit is ʼn lieflike voertuig wat niks het om vir enigiemand te bewys nie … Indien jy tans in die mark is vir ʼn luukse motor – moenie dadelik net ʼn SNV koop nie, gaan toetsbestuur ʼn A4 … jy sal moontlik aangenaam verras wees.

Die reeks lyk só:

Audi A4 35 TFSI S tronic110 kW/270 NmR644 000
Audi A4 35 TFSI Advanced S tronic110 kW/270 NmR663 000
Audi A4 40 TFSI S tronic140 kW/320 NmR681 500
Audi A4 40 TFSI Advanced S tronic140 kW/320 NmR700 500
Audi A4 40 TFSI S line S tronic140 kW/320 NmR726 500
Audi S4 TFSI quattro tiptronic260 kW/500 NmR944 500

Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Mercedes-Benz C200150 kW/300 Nm6.8 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R757 200
BMW 320i Sport Line135 kW/300 Nm6.3 l/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R757 762
Jaguar XE P250 SE184 kW/365 Nm6.3 l/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR810 124
Lexus IS 300h EX164 kW/221 +e Nm5.2 l/100 km7 jaar/105 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR841 300
Alfa Giulia 2.0T Veloce206 kW/400 Nm5.9 l/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR869 900

Tussen dié mededingers gaan dit grootliks oor smaak. Die Audi is die mees bekostigbare keuse – en die Alfa se krag kan teen die prys nie geïgnoreer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Heinrich ·

Hierdie karre ry verskriklik lekker. Hoop hulle het daardie ‘seepgladde’ ratkas al verbeter, die ‘DSG’ ratkaste hou mos maar nie lank nie en kan jou in die steek laat in die middel van die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.