Audi bou supervinnige laainetwerk in SA vir e-tron-reeks

Audi Suid-Afrika gaan in samewerking met GridCars 70 elektriese voertuig (EV)-laaiers by 33 nuwe openbare laaistasies oor die hele land aanbring.

Volgens Audi sal dit ʼn nuutjie vir die Suid-Afrikaanse mark wees, met nuwe 150 kW-laaiers wat ʼn Audi e-tron 55 (met ʼn 95 kWh-battery) binne ongeveer 30 minute van 10% tot 90% vol sal kan laai.

Hierdie laaistasies sal vir alle EV-verbruikers, ongeag voertuigeienaarskap, toegang gee tot die jongste moderne laaitegnologie wat in Suid-Afrika beskikbaar is.

“As deel van Audi se voorbekendstellingsplanne en ter voorbereiding vir die koms van die volwaardige e-tron-reeks in die eerste kwartaal van vanjaar, erken die handelsmerk die rol wat dit kan speel om te verseker dat Suid-Afrikaanse verbruikers die geleentheid wat elektriese voertuie bied met gemak kan aangryp,” sê Sascha Sauer, besturende direkteur van Audi Suid-Afrika.

Daar is reeds in Desember met die projek begin en daar word onder meer beplan om vier

150 kW-laaistasies (+/- 340 km in 30 minute) langs groot snelwegroetes soos die N1, N2, N3 en N4 aan te bring. Daar word ook ʼn verdere vyf 80 kW-laaistasies (185 km in 30 minute) langs dié roetes beplan. As deel van Audi se strategie word daar ook 24 laaistasies van 22 kW (+/- 100 km in ongeveer een uur) beplan by openbare leefstyl- en ontspanningsplekke oor die hele land.

“GridCars, wat in 2009 gestig is, bedryf en bestuur die mees uitgebreide netwerk van openbare laaistasies oor die land heen. Hierdie opwindende vennootskap en bykomende belegging met Audi brei nie net die netwerk uit nie, maar bied die geleentheid om dit by te werk met bykomende ultravinnige laaimoontlikhede wat ʼn nuutjie vir ons land is en vir alle EV-bestuurders, ongeag handelsmerk of voertuigmodel,” sê Winstone Jordaan, besturende direkteur by GridCars.

Hierdie netwerk van laaistasies is benewens die laaistasies wat by die tien Audi-e-tron-handelaars geïnstalleer is, wat ʼn bykomende tien 50 kW- tot 75 kW-laaiers met 20 koppelaars sal bied.

Audi se volledige reeks e-tron-modelle sal binne die volgende twee maande by Audi se tien e-tron-handelaars landwyd te koop wees. Dit sluit in die e-tron 55 SUV, e-tron 55 Sportback, e-tron S Sportback, en die reeksleidende e-tron GT en RS e-tron GT.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Kwaai. As mense net onthou om die kar elke dag ‘n bietjie te laai in plaas van wag tot die battery leeg is, dan sal dit nie eens ‘n pyn wees nie. Dis in elk geval beter vir die battery om nie heeltemal leeg te wees voordat hy herlaai word nie. Lithium-ioon battery kan wel 90% gebruik word sonder skade, maar mens will verkieslik nie meer as 80% gebruik as jy wil he hy moet lank hou nie.

Karlahari ·

Gegewe die skandale van “dieselgate” sou mens dink dat VW/Audi meer sensitief sou wees oor partikel vrystelling.
Vir Eskom om 1kW krag op te wek en na punt van verbruik af te voer plaas aansienlik meer besoedeling in die lug as dit wat deur n ekonomiese motor gedoen word. Dus in Suid Afrika gebruik elektriese motors nie skoon energie nie.
En dan praat ons nie eens van die onherstelbare skade wat die myn van steenkool op die omgewing het nie.
Feitlik onmoontlik om te rehabiliteer as gevolg van suur water.
So vir nou? Bly by jou petrol / diesel aangedrewe voertuig.
Sal goed wees as MM n wetenskaplike vergelyking kan doen MET omgewings studies rondom steenkool myne.

Johannes ·

Kan iemand asb my aannames toets – dalk mis ek iets. Volgens my berekenings gaan hierdie tipe elektriese voertuie omtrent R 1.00 / km (of dalk meer) kos. Dit hang natuurlik af watter tegnologie gebruik word om te herlaai. Gridcars se tarief per kw/uur vir ‘n vinnige laaier trek omtrent by R 6.00 per kh/h. Om ‘n bettery van 70 kw/h te laai sal dan R 420.00 kos. En die voetuig ry omtrent 400 km met so ‘n battery. Die beraamde koste is dus vergelykbaar met ‘n klein brandstof gedrewe voertuig wat omtrent 18-20 km/ l gebruik. Nie te sleg vir ‘n luukse voertuig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.