Audi se A4 vernuwe en nou ook gekoppel

Die Audi A4. (Foto: Verskaf)

Die hele wêreld gons deesdae oor internet-gekoppelde motors wat ʼn ingeboude simkaart in het en dan altyd aan die internet gekoppel is. Dit bring ʼn magdom moontlikhede vir die toekoms.

In dié stadium is daar motors met navigasiestelsel intydse inligting verskaf. Sou ʼn mens in ʼn botsing betrokke wees, skakel die voertuig self die nooddienste en verskaf belangrike inligting soos hoe erg die botsing is. ʼn Mens kan nou ʼn app op jou foon aflaai, en belangrike inligting sien soos jou brandstofvlak en reikafstand. ʼn Funksie waarvan ek baie hou, is dat jy ʼn bestemming op die app op jou foon kan soek en die aanwysings stuur na die motor toe voor jy vertrek… slim.

Nog ʼn puik funksie is die integrasie van Google Earth met Audi se eie navigasiestelsel. As ʼn mens die navigasiestelsel gebruik, sien mens ʼn satellietprentjie van die aarde in plaas van ʼn gewone kaart. Die raakskerm is 10.1” en die resolusie is puik.

Gewoonlik as ʼn model vernuwe word, is dit ʼn paar klein veranderings aan die ligte en dies meer. Dié A4 het ʼn bietjie meer as net plastiese chirurgie gehad. Onder die vel begin die nuwe A4 nou hibridiese tegnologie bevat. Dit is ʼn 12 V-stelsel wat energie herwin om die aansitter en bykomstighede soos die ligte, ruitveërs en so aan te laat werk. Daar is reeds turbopetrolenjins beskikbaar in die A4-reeks. Kraglewering sal tussen 110 kW en 260 kW wees. Alle A4-modelle het outomatiese ratkaste.

ʼn Dieselenjin sal by die reeks gevoeg word in die eerste kwartaal van 2021. Die A4-reeksleier kom in die vorm van die puik Audi S4. Hy word deur ʼn V6-turbopetrolenjin aangedryf wat 260 kW en 500 Nm lewer. Dit neem 4,7 sekondes van 0 – 100 km/h en die S4 is beperk tot 250 km/h.

Ons sal binnekort tyd met die A4 deurbring en kan dan ʼn beter idee gee van hoe die opknappings voel op die pad. Die A4 is ook nou een van die bekostigbaarste mededingers in sy segment.

Die reeks lyk só:

Audi A4 35 TFSI Standard110 kW/270 NmR644 000
Audi A4 35 TFSI Advanced110 kW/270 NmR663 000
Audi A4 40 TFSI Standard140 kW/320 NmR681 500
Audi A4 40 TFSI Advanced140 kW/320 NmR700 500
Audi A4 40 TFSI S Line140 kW/320 NmR726 500
Audi S4260 kW/500 NmR944 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Sy mededingers lyk só:

Alfa Romeo Giulia 2.0T147 kW/330 Nm5,9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R620 557
BMW 318i115 kW/250 Nm6,3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R667 724
Mercedes-Benz C180115 kW/250 Nm6,5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R696 360
Lexus IS 300 EX180 kW/350 Nm7,5 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR747 800
Jaguar XE P250S184 kW/365 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR790 162

Dié mededingers is elkeen die goedkoopste model beskikbaar in hul reekse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.