Audi se buksie is mooi en luuks

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Daar is drie groot Duitse luukse handelsmerke in Suid-Afrika – Audi, BMW en Mercedes-Benz. ʼn Mens kan ʼn Brit, Jaguar; ʼn Japannees, Lexus; en ʼn Sweed, Volvo, daarby insluit. Iets wat net twee van daai vervaardigers het, is ʼn klein luukse motortjie. Ek praat van ʼn B-segment supermini. Dit is die Audi A1 en Mini se Cooper.

Ek hoor mense dan vra: Hoekom wil mens só ʼn klein tjor hê? Dis eenvoudig. Baie mense woon in stede en het geen behoefte aan ʼn groot motor nie. Daai einste persoon is moontlik redelik suksesvol en wil ʼn lekkerder ryding hê. Die Audi A1 is die perfekte oplossing.

Die splinternuwe Audi A1 word in Suid-Afrika met drie enjins en drie spesifikasievlakke bekendgestel. Daar is ʼn 30 TFSI – dit is ʼn 1,0 driesilinderturbopetrolenjin. Die enjin bied 85 kW en 200 Nm. Ek het al met dié enjin in VW se Golf gery – en dis ʼn puik enjin. Volgende is die 35 TFSI – dit is ʼn 1,5 viersilinderturbopetrolenjin wat 110 kW en 250 Nm bied. Ek dink dié enjin gaan die meeste verkoop.

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Vir dié wat ʼn bietjie meer poeier soek is daar die 40 TFSI. Dit is ʼn 2,0 viersilinderturbopetrolenjin wat 147 kW en 320 Nm bied. Al drie enjins stoot hul krag deur Audi se 7-spoed dubbelkoppelaarratkas.

By die bekendstelling het ons die 35 en 40 TFSI modelle gery. Die 35 voel heel voldoende op die pad, maar die 40 is verbasend rats. Die 30 is beskikbaar in al drie spesifikasievlakke, die 35 in al drie en die reeksleidende 40 slegs in S-line.

Die Audi A1. Foto: Verskaf

Audi se kwaliteit en materiale aan die binneruim was nog altyd puik. Die A1 bly getrou aan Audi as handelsmerk. Die kajuit is nou effe om die bestuurder gefokus en alles is lieflik ergonomies uitgelê. Waar die A1 vir my uitblink is in sy ontwerp. Dit is vir my ʼn asemrowend mooi klein buksie. Die A1 is nou slegs in vier deur Sportbackbakstyl beskikbaar. Beenruimte vir agterste passasiers is ook nie te versmaai nie.

Op die pad voel die A1 soos ʼn luukse Duitse voertuig. Vering is hard genoeg om sportiewe bestuurstyle aan te hits, sonder om ongemaklik en ondeund te raak. Padhouvermoë is puik vir dié klas voertuig.

Die is maklik om die A1 op te som. Dit is ʼn pragtige, luukse buksie. Daar is ʼn enjin vir elke smaak, behalwe diesel. Die enigste lokval is Audi se opsielys. ʼn Mens kan maklik R150 000 by die prys voeg as jy klomp opsies kies.

Die reeks lyk só:

Audi A1 Sportback 30 TFSI85 kW/ 200 Nm4.8 ℓ/ 100 kmR359 900
Audi A1 Sportback 30 TFSI Advanced line85 kW/ 200 Nm4.8 ℓ/ 100 kmR373 900
Audi A1 Sportback 30 TFSI S line85 kW/ 200 Nm4.8 ℓ/ 100 kmR388 900
Audi A1 Sportback 35 TFSI110 kW/ 250 Nm5.1 ℓ/ 100 kmR429 900
Audi A1 Sportback 35 TFSI Advanced line110 kW/ 250 Nm5.1 ℓ/ 100 kmR443 900
Audi A1 Sportback 35 TFSI S line110 kW/ 250 Nm5.1 ℓ/ 100 kmR458 900
Audi A1 Sportback 40 TFSI S line147 kW/ 320 Nm6 ℓ/ 100 kmR488 000

Die reeks word gedek deur ʼn een jaar/ onbeperkte kilometer waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die A1 bestee en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

x-Audi ·

Of skaf vir jou ‘n Polo GTi aan teen R362K. (Korting beskikbaar by seker handelaars)

Johan ·

Nuwe A1 is pragtig! Ek hoop die nuwe A1 met S-line se suspensie is sagter as die vorige A1 s’n. Die vorige A1 met S-line suspensie was so ferm / hard, dit was marteling! Een uur op die snelweg en jou lyf is seer…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.