Audi se gewildste model nóú terug

Die Audi Q3. (Foto: Verskaf)

Daar is ʼn wêreldwye neiging in die rigting van die sportnutsvoertuig. Meeste van ons motorjoernaliste kan dit nie heeltemal verstaan nie, want daar is steeds sedanmotors wat lekkerder ry – maar die eindverbruiker hou van hoog ry.

Die eerste Q3 wat Audi in Suid-Afrika bekendgestel het, was vir my effe van ʼn lelike eendjie. Ek was nie oortuig deur die ontwerp nie, maar hy’t in die duisende verkoop – 1,1 miljoen oor die hele wêreld en 9 700 in Suid-Afrika. Dis heel goed.

Audi en die Volkswagen-groep is hard geslaan deur “Dieselgate” en het toe in die jare daarna hul moue opgerol en aan die werk gespring. Audi Suid-Afrika moes hard werk om die handelaarnetwerk by te staan en slim werk om daardie besighede weer winsgewend te maak. Die vervaardiger kan nie ʼn bestaan maak sonder sy handelaarsnetwerk nie, en die een hand was die ander. Daardie uitdagings het aandag geniet.

Die Audi Q3. (Foto: Verskaf)

Volgende was Audi se produkte. Verskeie enjins en ratkaskombinasies moes herontwerp word om aan die nuwe WLTP (Worldwide Harmonized Light vehicle Test Procedure) te voldoen. ʼn Klomp werk is gedoen en uiteindelik begin ons in Suid-Afrika nou die vrugte van daardie werk pluk.

Een van die nuwe generasie produkte wat uiteindelik na vore gekom het en nou in Suid-Afrika beskikbaar is, is die jongste Q3- kompakte sportnutsvoertuig.

Aanvanklik is daar slegs een enjin en ratkaskombinasie beskikbaar – die 35 TFSI. Dit is ʼn 1,4 viersilinderturbopetrolenjin met 110 kW en 250 Nm gepaard met ʼn 6-spoed S-Tronic- dubbelkoppelaarratkas. Audi beweer ʼn brandstofverbruiksyfer van 5,5 ℓ/100 km. Ons kon wel nie volhoubaar naby daardie syfer kom tydens die bekendstelling nie. Ek het 5,2 gehaal in ʼn stuk op die N2 in die Suid-Kaap waar die spoedgrense belaglik is – maar toe ons weer ʼn bult of twee moes klim en kon versnel na 120 km/h het die verbruik dadelik verhoog na 7,2 ℓ/100 km.

Die Audi Q3. (Foto: Verskaf)

Die ontwerp aan die buitekant en die binneruim is waar die reuseverbetering vir my lê. Die Q3 het nou ʼn meer aggressiewe voorkoms met Audi se nuwe lyne. Dit is regtig mooi.

Die binneruim – soos altyd met ʼn Audi – is ongelooflik mooi en die kwaliteit is fantasties. Ek raak maklik gemaklik in ʼn Audi en die sitplekke is gerieflik. ʼn Mens se lyf raak nooit moeg in ʼn Audi nie. Die binneruim spog ook met al die jongste tegnologie, truuks en veiligheidstelsels. Die agterste beenruimte en kattebak is verbasend groot vir dié klas voertuig.

Ons het ʼn paar groot stukke grondpad gery – seker so 80 km altesaam en ek kan met vertroue sê die Q3, al is hy voorwielaangedrewe, kan ʼn grondpad met gemak aandurf. Die wiel- en bandgroottekombinasie in die Q3 is puik – die vering hoef dus nie te hard te werk nie. Daar is ʼn Offroad-rymodus wat die stabiliteitsbeheer se programmering effe aanpas sodat die Q3 veilig van die teer af is. Ons het twee kwaai bultjies geklim waar hy effe gespartel het om vas te trap – maar ons is daar deur sonder enige probleme.

Dié Q3, met sy 35 TFSI-enjin is vir my effe lig in die broek. Vir 95% van Q3-kliënte wat dit gaan gebruik as stadsmotors is hy perfek – maar ek soek ʼn bietjie meer. Gelukkig kom daar volgende jaar ʼn 40 TFSI met ʼn 2,0 viersilinderturbopetrolenjin wat 140 kW en 320 Nm bied. Dis meer in die kol vir my. Verder is dit maklik om die Q3 op te som. Dis mooi, kompak en bied fantastiese gehalte. Die enjin gaan vir meeste mense genoeg wees. Al waaroor ek wonder, is of mense al gewoond is aan waar luukse motors (al is hulle klein) se pryse nou al trek.

Die reeks lyk só:

Audi Q3 35 TFSI StandardR565 000
Audi Q3 35 TFSI AdvancedR585 000
Audi Q3 35 TFSI SlineR599 000

Die reeks word gedek deur Audi se omvattende 5 jaar/100 000 km-instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd spandeer met die Q3 en hom dán met sy mededingers vergelyk – maar vir nou voorspel ek goeie dinge vir Audi met dié outjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Brendon: jy behoort te weet onder watter omstandighede die motor vervaardigers hulle voertuie toets vir ekonomie. Jy sal daardie syfers net behaal op ‘n gelykpad met absoluut geen wind en teen ‘n sekere spoed. Dws die syfers is ‘n verkoops foefie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.