Audi se nuwe besigheidsklas

(Foto: Verskaf)

Audi het gister hul nuwe A- en S6-modelle aan die Suid-Afrikaanse media bekendgestel. In ʼn taai mark waar Audi se verkope globaal met 25,9% jaar op jaar afgeneem het, moet hulle nou slim werk om die wiele aan die rol te hou.

Asif Hoosen, hoof van verkope by Audi Suid-Afrika, sê niemand weet al wat presies gaan gebeur weens die impak van die Covid-19-pandemie nie. By Audi moet hulle egter volstoom vorentoe beweeg om hul produkaanbieding te vernuwe en hul handelaars by te staan indien hulle enige kans wil staan teen die impak van die pandemie. In 2019 was een uit elke sewe voertuie ʼn luukse kar, en in 2020 is dit een uit agt. Dus is hulle oopkop, maar moet hulle nogtans bontstaan saam met finansieringshuise om die lae rentekoers te gebruik om die dreigende prysverhogings weens die wispelturige wisselkoers die hoof te bied.

Tarryn Knight, Audi se nuwe hoof van bemarking en kommunikasie, het volle vertroue in hul aggressiewe produkplan vir die volgende maande. Hulle begin met die nuwe Audi A6.

(Foto: Verskaf)

Daar is drie modelle beskikbaar. ʼn Viersilinderturbodiesel met 140 kW en 400 Nm, ʼn V6-turbodiesel met 183 kW en 600 Nm, en die reeksleidende S6 kry ʼn dubbelturbo-V6-petrolenjin wat 331 kW en 600 Nm bied. Trevor Hill, besturende direkteur van Audi Suid-Afrika, sê dat diesel vir die voorsienbare toekoms nog deel van die strategie sal wees in Suid-Afrika. Die intreemodel is voorwielaangedrewe en behou die dubbelkoppelaarratkas. Die V6’e maak albei gebruik van ʼn tiptroniese wringkragomsitter outo met quattro-vierwielaandrywing.

Die nuwe A6 bied ʼn goeie geleentheid vir verbruikers wat moontlik in die moeilike tye wil afskaal. Ons sal binnekort die A6 kan bestuur en dan ʼn meer volledige indruk kan gee. Om jou eie A of S6 te bou, kliek hier.

Die reeks lyk nou só:

Audi A6 40 TDI140 kW/400 NmR919 500
Audi A6 45 TDI183 kW/600 NmR1 100 000
Audi S6331 kW/600 NmR1 401 500

Die reeks word gedek deur Audi se 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

So lyk die intreemodel van die mededingers in hierdie segment:

Lexus ES 250 EX152 kW/243 Nm6,6 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR653 200
Volvo S90 T5 Momentum187 kW/350 Nm6,5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR780 300
BMW 520d140 kW/400 Nm4,7 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R877 002
Jaguar XF 20d Prestige132 kW/430 Nm4,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR899 922
Mercedes-Benz E220d143 kW/400 Nm4,3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte‑ km waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R911 200

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Ek dink Audi prys hulle self uit die mark. R330 000.00 prys verskil tussen die Lexus en die Audi? Dis wyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.