Ek het verlede jaar ʼn berig geskryf oor Audi se fantastiese A6 40 TDI. Dit was ʼn briljante voertuig, luuks, gemaklik, ruim, lig op brandstof – alles perfek… buiten een ding. Krag. Nee, ek sê nie dat die 40TDI stadig is nie, maar ʼn S6 word aangedryf deur die VW-groep se 2.9 V6-turbopetrolenjin. Dié enjin kan mens in verskeie Porsche’s ook vind.
Die ontwerp is pure Audi. Konserwatief, maar uiters mooi. Die binneruim is een aspek waar Audi in my opinie al vir baie jare beter is as sy Duitse mededingers. Die S6 stel nie teleur nie. Die spesifikasievlak aan die binneruim is stratosferies. Die kajuit is gepeper met klomp luukshede om die passasiers gemaklik te hou, vir ure lank.
Dit bring ons by die opwindendste aspek van ʼn S6. Dit is ʼn groot vierdeur-sedanmotor. Hy het vierwielaandrywing en 331 kW en 600 Nm. Daai ponies kan hom van stilstand tot 100 km/h in 4,5 sekondes laat versnel, en hy is elektronies beperk tot 250 km/h. Indien jy jou mooi gedra op die oop pad, en die radarbeheerde spoedkontrole stel na 100 km/h, hoort jy naby Audi se beweerde brandstofverbruiksyfer van 8,3 ℓ/100 km uit te kom. Dis fantasties vir die verrigting wat beskikbaar is.
Op die pad is waar die koeël deur die kerk is. ʼn Sedanmotor is baie gemakliker as amper enige van sy sportnutsmededingers. Dit ry ligter, het beter padhouvermoë en ritgehalte. Sy kattebak sal ook baie meer sluk as enige sportnuts, behalwe ʼn laaikas of ʼn hond, maar dis nie ʼn probleem nie… dié klas kliënt het waarskynlik ʼn dubbelkajuit waarop die laaikas en die brak kan ry.
Dit is bitter maklik om die S6 op te som. Dis pragtig, het ʼn fantastiese binneruim en ʼn verstommende enjin. Hy sal met klomp sportmotors saam hol, en hy kan die hele gesin met bagasie insluk. Die enigste kwaal is die prys, maar vandag is alle motors skrikwekkend duur.
Die reeks lyk só:
Audi A6 40TDI | 140 kW/400 Nm | 5,2 ℓ/100 km | R919 500 |
Audi A6 45TDI Quattro | 183 kW/600 Nm | 6,5 ℓ/100 km | R1 100 000 |
Audi S6 TFSI Quattro | 331 kW/600 Nm | 8,3 ℓ/100 km | R1 401 500 |
Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
BMW M550i xDrive | 390 kW/750 Nm | 10,7 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000- omvattende instandhoudingsplan | R1 509 938 |
Mercedes-AMG | 320 kW/520 Nm | 8,8 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R1 630 600 |
Porsche Panamera 4 | 243 kW/450 Nm | 8,8 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R1 701 000 |
Die naaste mededinger in terme van prys is die BMW M550i. Daai BMW is wel ʼn V8 met heelwat meer krag as die Audi. Die Mercedes-AMG is wel ook ʼn sessilinder, maar ʼn koepee, en R230 000 duurder. Die S6 bied ʼn fantastiese ervaring; gaan toetsbestuur beslis een – dis pragtig.