Audi verkwik Q5-sportnuts

Deur Bernie Hellberg jr.

Ondanks die wêreldwye halfgeleierskaarste hou Audi Suid-Afrika sy voet op die snelpedaal met die bekendstelling van ʼn opgeknapte Q5-reeks. Vir die eerste keer sluit dié reeks nou ook ʼn Sportback-weergawe in om die algehele reeks bykans te verdubbel tot nege modelle.

In die lig daarvan dat Audi, in 2021, effens markaandeel in die luukse sportnutssegment verloor het, is dit belangrik dat sy mees gewilde modelle, waarvan die Q5 een is, so vars moontlik bly om kopers se belangstelling te behou.

Al het Audi met hierdie ronde slegs hier en daar nuwighede tot die Q5 se tegno-arsenaal toegevoeg (en hom stilisties opgekikker), is die gróót nuus dat kopers nou, soos met die Q3-reeks, ook die koepee-tipe Q5 Sportback kan aanskaf, eerder as slegs die standaardbakstyl.

Watse verskil maak die Sportback-styl nou eintlik? Prakties gesproke, omtrent geen. Ja, hy lyk agter effens anders – vanaf die B-pilaar plat die kar se dak teen ʼn meer geleidelike hoek af om die Sportback meer vaartbelyn te laat lyk – maar werkverrigting en hantering is dieselfde. Kopruimte is dienooreenkomstig agter effens minder, en die bagasieruim is met 10 l kleiner. Dis dít.

Albei weergawes is vir my bitter mooi, maar die waarheid is: Ek hou meer van die Sportback se koepee-styl as die “normale” outjie – die Q5 lyk deesdae só futuristies dat “normaal” dit net nie meer vir my doen nie.

Om met elke model by ʼn bekendstelling te ry is ons as motorjoernaliste nie altyd beskore nie, en al is daar altesaam nege weergawes in die Q5-reeks, het ek my toetssessie in die Boland, waar die Q5 Sportback sy buiging gemaak het, afgeskop agter die stuur van die Sportback 40 TDI quattro S line. Teen ʼn koel R1 miljoen op die kop is hy Audi se vierde duurste Q5, maar sy naasgoedkoopste Sportback. Bo hom is die Sportback 45 TFSI quattro S line, en die blitsige SQ5 Sportback TFSI quattro.

Hetsy Sportback of standaard, die 40 TDI quattro Q5 se 2.0 l-turbodieselenjin word in vyf van die nege modelle gebruik, en bied 140 kW en 400 Nm wringkrag. Alle modelle kry ook quattro, Audi se semi-permanente vierwiel-aandrywingstelsel, en ʼn flink denkende sewespoed-dubbelkoppelaar-ratkas. Met dié kombinasie sal die diesel-Q5 versnel van nul tot 100 km/h in 8,1 sekondes – wat in ooreenstemming is met sy kompetisie vanuit München en Stuttgart. Hy sluk egter teen 6,4 l/100 km effens meer brandstof as sy opponente.

Met Audi se 2.0 l-viersilinder-petrolenjin onder die kap, ondergaan die Q5 ʼn sportiewe gedaanteverwisseling. Met 43 kW méér tot jou beskikking (183 kW), en slegs 30 Nm minder as die diesel (370 Nm), is hierdie outjie beslis meer lewendig, en meer pret, en teen ʼn verbruiksyfer van 8 l/100 km vergryp hy hom ook nie juis aan die sous nie. Hy is egter teen R1 050 000 ʼn raps duurder as sy diesel-eweknie (en presies dieselfde prys as sy tweeling van Porsche, die intreevlak-Macan). Sou jy dieselfde 45 TFSI quattro S line-model met die standaardbakstyl verkies, sal hy jou R103 000 minder uit die sak jaag.

Geen opsomming van ʼn Audi sal volledig wees sonder om te noem hoe ongelooflik goed dié karre se kajuite binne lyk, voel en werk nie. Naas Porsche is Audi-sin my gunsteling onder die Duitsers. Alles pas perfek, die sitplekke is uitstekend gemaklik, en voel alles duursaam en elegant. Dit is daarom jammer dat Audi net die basiese in elektronika en luukshede as standaard in sy motors insluit. Soek jy al die katoeters by, sal jy moet opdok. In die Sportback 45 TFSI quattro S line waarmee ek gery het, was daar, byvoorbeeld, ekstras ter waarde van ʼn allemintige R300 000 bygelas, wat hom aansienlik duurder maak as die baie meer sportiewe Porsche Macan S, en dan kry jy boonop die meeste van die beste speelgoed by.

Ek is versot op ʼn netjiese sportnuts, en in sy klas is die Q5 en Q5 Sportback gewis van die mooistes. Daar is genoeg modelle om van te kies om verskillende smake en begrotings te pas, wat Audi beslis sal help om van sy markaandeelverliese in die luukse sportnutssegment weer terug te wen.

Die reeks lyk só:

Q5 40 TDI quattro140 kW/400 NmR852 000
Q5 40 TDI quattro Advanced140 kW/400 NmR871 000
Q5 40 TDI quattro S line140 kW/400 NmR897 000
Q5 45 TFSI quattro S line183 kW/370 NmR947 000
SQ5 TFSI quattro260 kW/500 NmR1 208 000
Q5 Sportback 40 TDI quattro Advanced140 kW/400 NmR960 000
Q5 Sportback 40 TDI quattro S line140 kW/400 NmR1 000 000
Q5 Sportback 45 TFSI quattro S line183 kW/370 NmR1 050 000
SQ5 Sportback TFSI quattro260 kW/500 NmR1 355 000

Dekking is in die vorm van die Audi Freeway Plan wat ʼn vyfjaar/100 000 km-diensplan en noodbystand insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.