Baba in reeks heel lekkerste

So lyk BMW se nuwe 840i Gran Coupé. (Foto: Brendon Staniforth)

Ek het nou al met drie 8-reeks-BMW’s tyd deurgebring. Die eerste was die kragtige M850i. ʼn Turboaangejaagde tweedeur-, 2+2 sitplek-V8-vuurpyl. Toe kom die barbaarse M8 Competition. Selfde uitleg, méér krag. Waansin. En toe kom die 840i Gran Coupé. Geen M-lettertjie in sig nie – en na my mening is dít wat die 8-reeks nog altyd moes wees.

Hierdie sogenaamde grand tourer blink uit op die pad. (Foto: Brendon Staniforth)

ʼn Ware 5-sitplek- hiperluukse grand tourer. Wat’s die verskil? Die Gran Coupé het vier deure en ʼn langer asafstand – so, daar is plek vir dié wat agter inklim se bene. Die 840i word aangedryf deur ʼn romerige turboaangejaagde inlynsessilinderenjin en die resultate is puik.

Dis ʼn pragtige wa, met leer en luuksheid in oorvloed. Die 40i-enjin is puik en bied 80% van die verrigting van die 50i, met die helfte van die brandstof. Hy is geensins stadig nie en bied 250 kW en 500 Nm. Ja, 0–100 km/h neem slegs 5,2 sekondes en hy is beperk tot 250 km/h. Al daai syfers beteken eintlik ook niks nie. Dit is die gevoel van die 840i. Hy is sagter, meer stylvol as sy twee waansinnige boeties.

Dis ʼn pragtige wa, met leer en luuksheid in oorvloed.

Die ontwerp is nie supermotor-mooi soos die M8 nie, maar dis beslis meer elegant. Aan die binneruim is die voorste sitplekke en paneelbord presies dieselfde. Agter is waar dinge meer prakties is. Daar is behoorlike beenruimte en drie sitplekke agter: eintlik twee met ʼn armleuning wat kan toevou met gordels vir indien daar ʼn derde tjokker is wat sitplek soek.

Op die pad is waar die 840i uitblink. Ons het tydens ons toets een aand ʼn BMW i8 raakgetoer. Van verkeerslig tot verkeerslig is die i8 net-net vinniger as die 840i. Indrukwekkend, aangesien dit die baba in die reeks is. Teen 120 km/h op die oop pad bied hy puik brandstofverbruik. BMW beweer ʼn syfer van 7,9 ℓ/100 km wat hulle in die laboratorium tydens die WLTP-toets bereik het.

Dit is maklik om die 840i op te som. Dit is elegant en het asemrowende bougehalte. Die enjin is meer as wat 99% van die eienaars ooit sou benodig en ook baie minder onbeskof as die M850i en M8 – al is hul verrigting onweerlegbaar.

Die reeks lyk só:

BMW 840i Gran Coupé250 kW/500 Nm7.9 ℓ/100 kmR1 547 230
BMW 840d xDrive Gran Coupé235 kW/680 Nm6.9 ℓ/100 kmR1 633 278
BMW M850i xDrive Gran Coupé390 kW/750 Nm10.7 ℓ/100 kmR2 060 000
BMW M8 Competition Gran Coupé460 kW/750 Nm10.7 ℓ/100 kmR3 246 462

Die mededinging lyk só:

Audi A7 Sportback 55TFSI quattro250 kW/500 Nm7.1 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 298 000
Mercedes-Benz CLS400d 4Matic250 kW/700 Nm6 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 342 360
Porsche Panamera 4243 kW/450 Nm8.8 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 701 000

Tussen dié mededingers is daar ʼn paar opsies. Die 840i is werklik pragtig en ʼn winskoop teen die prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.