Bakkieverkope wisselvallig

Toyota Hilux Foto: popularmechanics.co.za

Toyota Hilux Foto: popularmechanics.co.za

Volgens die jongste Naamsa (National Association of Automobile Manufacturers) -syfers, het bakkieverkope die afgelope kwartaal, Oktober, November en Desember 2013, maar taamlik wisselvallig vertoon.

Oudergewoonte is Toyota se Hilux steeds die topverkoper met maandelikse syfers wat maar altyd op die 3 000 eenhede per maand vlak boer.

In Oktober verlede jaar het altesaam 2 894 nuwe Hilux-modelle nuwe base gekry, terwyl die nóg frisser Ouboet (Land Cruiser PU) na 248 nuwe adresse gegaan het.

Waarskynlik as gevolg van die invloed van opvangverkope ná die stakings het Hilux-verkope in November die hoogte ingeskiet tot 3 561 eenhede en 234 verkope vir Land Cruiser.

Desember se tradisionele swak verkope – wanneer feitlik die hele land tot stilstand kom – word ook gereflekteer in Toyota se syfers. Hilux was maar ‘n beskeie (vir Toyota) 2 659 teenoor Land Cruiser se 259, wat die totaal vir die termyn op 9 855 eenhede te staan bring.

In die gebruiklike tweede plek is weer eens die Ford Ranger op ‘n totaal van 5 554 eenhede. Hierdie syfers word opgemaak deur 1 516 Rangers in Oktober (en 231 Mazda BT-50s),
1 937 Rangers in November (Mazda 189) en 1 508 verkope in Desember (met byvoeging van 173 Mazdas). Soos in die geval van Toyota, het Ford feitlik dieselfde paadjie geloop – naamlik goeie verkope in Oktober, ‘n dramatiese styging in November, gevolg deur ‘n afplatting in Desember.

General Motors se Isuzu-reeks presteer steeds redelik met ‘n totaal van 3 663 eenhede, waarvan 1 232 in Oktober verkoop is, 1 171 in November en 1 260 in Desember – feitlik die enigste vervaardiger wat in die swakste maand die beste gevaar het. Hierbenewens het General Motors nie die voordeel van ‘n addisionele handelsnaam soos Ford of ‘n groter keuse modelle soos Nissan nie.

Van Nissan gepraat. Dis die enigste vervaardiger van die Top Sewe wat daarin geslaag het om dubbelsyfers te behaal. Nissan het in Oktober verlede jaar 1 016 eenhede verkoop, in November dramaties in die hek geduik met 669 eenhede, en in Desember nog slegter gevaar met 395 eenhede wat verkoop is. Nissan se verkope oor die drie maande het op 2 080 te staan gekom, maar ‘n mens wonder tog waar dit gaan eindig gemeet aan die manier waarop verkope tans daal. Dis verder verontrustend vir Nissan as in gedagte gehou word dat hierdie totaal oor vier uiteenlopende modelreekse versprei word – die Hardbody, NP300, NP300 Hardbody en die Navara.

Volkswagen se Amarok sukkel steeds met verkope en kon in drie maande slegs 974 eenhede verkoop. Hiervan was 395 in Oktober, 297 in November en 282 in Desember. Net soos Nissan, blyk dit dat Amarok ook stadig maar doelgerig afdraende gly, en voorspel hierdie syfers niks goeds vir die vervaardiger nie.

In die voorlaaste plek onder die Top Sewe is Mitsubishi wat seker wonder wat nog gedoen moet word om die koper se oog te vang. Die Triton is ‘n betroubare voertuig met van die beste enjins wat tans beskikbaar is, maar sukkel steeds om 100 eenhede per maand te verkoop. Trouens, Oktober se verkope was 96 eenhede, gevolg deur ‘n skerp daling tot 68 in November, en dan weer ‘n effense kop-optel in Desember toe 91 Tritons verkoop is. Mitsubishi se totale syfers van 255 is slegs 11 beter as die Indiese Mahindra wat altesaam 244 voertuie verkoop het.

In Oktober het Mahindra 123 eenhede verkoop, gevolg deur ‘n skerp daling tot 67 eenhede in November en 54 in Desember. Ook vir hierdie invoerder wag daar harde werk om die dalende tendens om te draai en beter te begin doen. Die Mahindra se reputasie as ‘n bekostigbare voertuig – al is die tegnologie grof en ouderwets – behoort vir beter verkoopsyfers te sorg.

Ondanks die verswakkende motormark, bly die bakkiekomponent heel suksesvol – danksy Suid-Afrikaners se tradisionele voorliefde vir hierdie soort voertuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

theuns ·

EK LIKE DIT ;;;Wys jou net die bakkies wat ons boere oor die jare gehelp het op die plase was almal wat genoem is behalwe n vw bakkie ,,moet ek se dat datsun ons ook gehelp het ,moenie aan n naam krap nie !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.