Bekendstelling: ETG Blade 1000 LTX

Engelssprekende motorgeesdriftiges het ’n uitdrukking wat lui: “There is no replacement for displacement”. Dit beteken dat ’n groter enjin en meer krag gewoonlik die oplossing is vir enige uitdaging. Die mense by TGB het hierdie stelling duidelik ter harte geneem en het pas die TGB Blade 1000 LTX EPS bekend gestel.

TGB is ’n Taiwannese vervaardiger en word plaaslik versprei deur die ETGL-groep. Ons het einde 2021 die eerste voorsmakie gekry van die vierwielfietse wat hulle sou invoer. Die twee 600 cc-modelle was bedoel vir die ontspanning- en landbousektor. Nou het hulle hul modelreeks uitgebrei met die bekendstelling van ’n 1 000 cc-weergawe van die twee modelle.

“Ons glo dat die nuwe TGB Blade 1000 LTX EPS 4×4-fiets vinnig deur die mark aanvaar sal word weens sy mededingende prys. En met sy hoë spesifikasievlak en standaardtoerusting, is ons seker kopers sal besef dat hierdie fiets goeie waarde vir geld bied,” sê Pavan Nair, sakehoof van ETGL.

Die TGB Blade 1000 LTX EPS 4×4 ATV kan in verskeie rolle aangewend word en is uiters sportief gestileer. Die kopligte is helder LED-eenhede met dagryligte. Daar is selfs flikkerligte en spieëls. Die saal maak ruim voorsiening vir ’n passasier met ’n gemaklike rugleuning. Om die Blade tot stilstand te bring, is daar skyfremme op al vier wiele. Net soos op ’n motorfiets kan die voor- en agterremme onafhanklik beheer word.

Die enjin is ’n 997 cc- , V-twee-eenheid met brandstofinspuiting en lewer 62 kW met 90 Nm bruikbare wringkrag. Die enjin is waterverkoel en het twee aparte verkoelers. Aandrywing is deur die CVT-ratkas, wat dit uiters maklik maak om die Blade te beheer in enige toestande. Die fiets bied ’n keuse tussen 2- en 4-wiel-aandrywing en die voorste ewenaar kan gesluit word om jou uit ’n moeilike situasie te kry. Die Blade is toegerus met sy Kenda 14″-bande. Daar is ruim 300 mm-grondvryhoogte en die vering bied ook genoegsame reikwydte om enige terrein met vertroue aan te pak.

Tydens die plaaslike bekendstelling van die 600 cc-fietse het een van die ETGL-mense vir ons gewys waartoe hierdie vierwielers in staat is op ’n baie ongelyke pad, en ek was baie beïndruk. Die onafhanklike vering kan verstel word na gelang van die gewig op die fiets. En om seker te maak dat die terrein nie die ryer baasraak nie, is die Blade selfs toegerus met kragstuur. Selfs die hulp wat die kragstuur bied, is verstelbaar, na gelang van hoe diep jy in die modder vassit.

Maar waar die werklike toepassing van die 1 000 cc-enjin na vore kom, is by die sleepkapasiteit. Die fiets kom standaard met ’n sleephaak en kan tot 830 kg sleep, mits die sleepwa ook remme het. Daar is stewige drarame voor en agter, en die fiets het selfs ’n winas wat tot 1 360 kg kan behartig.

Die hele reeks word gedek deur ’n tweejaar-waarborg.

Pryse is soos volg (BTW ingesluit):

TGB Blade 1000 LTX EPS 4×4:     R240 350

TGB Blade 600 SE.X EPS 4×4:      R194 350

TGB Blade 600 AR EPS 4×4:         R200 100

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Ek hou baie van jou rubriek maar kan nie saamgesels hierdie keer nie ,ek besit utv en atv s maar uit ondervinding gevind Honda doen die beste by hierdie tipe plaas speelgoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.