Bekendstelling: Gewilde Ford-buksie vernuwe

Foto: Verskaf

Ford se EcoSport is nou al ʼn klompie jare bitter gewild. Aanvanklik het ek nie die sjarme raakgesien nie – maar die goed is regtig volop. Ons het so pas ʼn paar honderd kilometer in hul opgeknapte buksie in die Natalse Middelland afgelê … en ek moet bieg, ek is regtig beïndruk.

Hoekom? Ons het ʼn hele klomp kilometers op grondpaaie ervaar. Natal is die een bult ná die ander, deur ʼn dal en weer oor ʼn bult. Die draaie volg kort op mekaar en daar is nie veiligheidsrelings nie. Die EcoSport het wel nie ʼn voet verkeerd gesit nie. Twee keer het ons afgedraai en ek het die bult so aangekyk en gesê: “Nie in ʼn voorwielaangedrewe kar nie”… net om oor ʼn minuut of wat my woorde te moet sluk.

Foto: Verskaf

Die Ford EcoSport is regtig taaier as ʼn doodgewone luikrug, en dit maak die kar die moeite werd wat my betref. As dit net ʼn regop luikrug was, sou ek sê hou verby … maar die EcoSport het ʼn reusekattebak omdat die spaarwiel op die kattebakdeur gemonteer is, en dit lyk oulik.

Enjins? Daar is slegs twee enjins en twee ratkaste beskikbaar. Ford se wêreldberoemde 1.0-driesilinder-EcoBoost is in die Trend en Titanium te vinde. Die Ambiente-intreemodel kry die 1.5-viersilinder-turbodieselenjin. Die EcoBoost bied 92 kW en 170 Nm. Hand- én outomatiese ratkaste is 6-spoed. Die 1.5-diesel bied 74 kW en ʼn indrukwekkende 205 Nm en gebruik ʼn 5-spoed-handrat.

Foto: Verskaf

Ford het teruggekeer na ʼn gewone outomatiese ratkas met ʼn wringkragomsitter. Die resultate is puik en die EcoSport ry lekker gerieflik sonder om te swaar te wees op brandstof. Vanaf die Middelland tot by Koning Shaka Internasionale Lughawe het ons 5.8 ℓ/100 km gehandhaaf, nie te versmaai nie.

Spesifikasies? Daar was nie ʼn Ambiente by die bekendstelling nie, maar wel ʼn Trend en Titanium. Die Trend is goed toegerus en sal vir die meeste mense amper luuks voel. Die Titanium is wel baie sterk aan die toerustingkant met funksies soos leersitplekke, spoedbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs en sal beslis luuks voel. Die klankstelsel is toegerus met Android Auto of Apple CarPlay, dienste waarmee alle karre toegerus moet word. Só voel ek.

Foto: Verskaf

Ritgehalte? Die EcoSport in Trend-spesifikasie met sy 16″-wiele het regtig beïndruk. Daar is min windgeraas in die kajuit, en die vering is lekker soepel, sonder enige bakrol. Die padhouvermoë is regtig baie goed en die Fiesta-DNS is tóg daar.

Die Ford EcoSport voel regtig nie soos ʼn klein ryding uit Indië nie. Dit is gemaklik en voel volwasse, sonder om vervelig te wees. Die reeks is wydverspreid en die prysgaping groot genoeg sodat ʼn mens een kan vind wat jou sak pas. Die EcoSport is regtig ʼn veelsydige ryding vir klein gesinne wat af en toe die teerpad wil verlaat.

Die reeks lyk só:

Ford EcoSport 1.5TDCi Ambiente handrat74 kW/205 Nm4.6 ℓ/100 kmR264 500
Ford EcoSport 1.0 EcoBoost Trend handrat92 kW/170 Nm5.4 ℓ/100 kmR287 500
Ford EcoSport 1.0 EcoBoost Trend outo92 kW/170 Nm6.3 ℓ/100 kmR300 700
Ford EcoSport 1.0 EcoBoost Titanium handrat92 kW/170 Nm5.4 ℓ/100 kmR327 800
Ford EcoSport 1.0 EcoBoost Titanium outo92 kW/170 Nm6.3 ℓ/100 kmR339 900

Die reeks word gedek deur Ford se 4 jaar/120 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Sodra ons meer tyd saam met die EcoSport deurbring, sal ons sien hoe hy hom in die stadsverkeer gedra en hom teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vraagteken ·

Jy kan nie die twee vergelyk nie. Dis die Polo of die Fiesta.

Polo ·

Ek vergelyking dit juis. VW het nie kompeteerder met ES. So as mens kyk, kwaliteit / inruil van Polo, vs die ander voordele wat ES bring?
Tussen Polo en Fiesta kies ek Polo, maar dis nie my vraag.

Sporta ·

Ek love my Eco Sport maar as jy na inruil waarde kyk moet jy weet jy gaan baie meer vir jou Toyota as die Ford kry later van tyd, my beskeie mening.

koos1 ·

Onseker, dit is nie so ‘n maklike vergelyking nie.
Die Rush is basies ‘n Avanza met stewels, die Ecosport is ‘n Fiesta met stewels.
Gaan kyk na die basis van die voertuig en vergelyk dan die Avanza met die Fiesta, en neem dan jou besluit.
Die Rush het die naam en die Ecosport het die luikshede met nuwer negnologie. Die Rush is ook duurder, sonder die opsie van ‘n diesel enjin.
Die Ecosport is ‘n my opinie die beter kar, maar met Ford se drama die afgelope tyd, kan ons net hoop dat dit met hierdie nuwe model uit gestryk is. Die Toyota, soos tereg vermeld, het die naam, betroubaarheid en die handelaars, so ja dit is ‘n bittere moelike besluit.
My raad is gaan ry al die modelle en kies die een wat jou gelukkig maak. Neem ook die waarborge, diensplanne en versekering in ag.

MyR5 ·

Die Rush is nog ‘n nuwe motor, met baie kinkels, wat met tyd, uitgestryk, sal word. Die Ford EcoSport, is al met tyd verfyn en in my opinie die meer beproefde en gevestigde model tussen die twee.

Vraagteken ·

Toyota sal nie hulle naam op gemors sit nie. Glo my, hy sal hou.

Gerhard ·

Toyota sit dan sy naam op die Rollux met sy DPF probleme.

MyR5 ·

As jy agter jou voertuig kyk, sal enige kar hou. Die Ford is eenvoudiger langer op ons paaie. Sy groei-pyne is verby. Die Rush moet homself nog bewys (en verby daardie groei pyne kom). Toyota se motors, ry te veel op die naam van die kenteken IMO.

HPV ·

In Malaysia, the second generation Daihastu Terios is available as the Toyota Rush (2008 to 2017) and Perodua Nautica (2008 – 2009).
Is die Rush ‘n Toyota of Daihastu Terios? Die Terios staan al vir ongeveer 10 jaar ook bekend as Toyota Rush.

Andre C ·

Die 3 silinder 1.5 enjin van die Figo sou n goeie opsie in die Ecosport gewees het.Kom nou Ford,nie almal soek n turbo enjin!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.