In die afgelope drie maande het Hyundai gemiddeld 345 Tucson’s en 372 Creta’s verkoop. Dit is baie sterk syfers as ʼn mens in ag neem dat Honda as handelsmerk nie in Augustus by dié twee modelle se verkoopsyfers uitgekom het nie. Hyundai moet dus mooi na die twee modelle kyk.
Die Tucson het meer as 13 500 eenhede verkoop sedert sy bekendstelling in 2016. Al 13 591 is steeds binne waarborg met Hyundai. Die waarborgverbrandingskoers is R25 per maand, indrukwekkend vir dié soort voertuig.
Twee van die ou Tucson’s word verwyder uit die stal, die 1.7 diesel en 1.6 turbopetrol handrat. Dié twee word vervang met ʼn 2.0 Executive outo en ʼn 2.0 Executive turbodiesel outo. Die eksterieur is effens opgeknap met ʼn nuwe sierrooster, hoof- en stertligte asook sierwiele. Die Tucson kry ʼn nuwe paneelbord uitleg met ʼn mooi 7”-skerm wat regop uit die paneelbord staan.
Die Tucson reeks lyk só:
Tucson 2.0 Premium handrat | 115kW/ 196Nm | 8.9ℓ/100km | R399 900 |
Tucson 2.0 Premium outo | 115kW/ 196Nm | 9ℓ/100km | R419 900 |
Tucson 2.0 Executive outo | 115kW/ 196Nm | 9ℓ/100km | R459 900 |
Tucson 2.0 Elite outo | 115kW/ 196Nm | 9ℓ/100km | R499 900 |
Tucson 2.0CRDI Executive 8-spoed outo | * | * | R529 900 |
Tucson 1.6TGDI Elite 7-spoed dubbelkoppelaarouto | 130kW/ 265Nm | 8.5ℓ/100km | R559 900 |
Tucson 2.0CRI Elite 8-spoed outo | * | * | R569 900 |
* Die inligting is nog nie beskikbaar vir Suid-Afrikaanse spesifikasiemodelle nie.
- Die Hyundai Tucson. Foto: Verskaf
- Die Hyundai Tucson. Foto: Verskaf
Die Creta het meer as 8 000 eenhede verkoop sedert sy plaaslike bekendstelling in 2017. Al is die Creta-reeks baie nuut, is die waarborgverbrandingskoers regtig indrukwekkend teen slegs R9 per maand.
Die Creta kry ook nuwe buffers, sierrooster, ligte en wiele asook ʼn stel dakreëlings.Die Creta-reeks bly dieselfde met twee 1.6 petrol- weergawes, handrat en outo – en een outomatiese 1.6 turbodiesel. My keuse in die reeks bly die 1.6 diesel met 94kW en 260Nm. Gemiddelde brandstofverbruik is in die omgewing van 7ℓ/100km – heel gaaf.
Creta 1.6 Executive handrat | 90kW/ 150Nm | 7.9ℓ/100km | R339 900 |
Creta 1.6 Executive outo | 90kW/ 150Nm | 8.4ℓ/100km | R359 900 |
Creta 1.6 CRDI Executive outo | 94kW/ 260Nm | 7.4ℓ/100km | R399 900 |
Die Creta asook die Tucson is voorwaar gemaklike rygoed. Die vering is regtig soepel sonder om vreeslik te rol in die draaie. Met die goeie vering is padhouvermoë indrukwekkend vir die soort voertuie.
Wat steeds beïndruk van die hele Hyundai-reeks is die 5 jaar/ 150 000km- vervaardigerswaarborg, en 7 jaar/ 200 000km- dryfstelselwaarborg. Die Creta en Tucson is gedek deur ʼn 5 jaar/ 90 000km- diensplan.
Hyundai is al lank ʼn betroubare handelsmerk in Suid-Afrika, en ʼn mens hoef nie te wonder hoekom nie.
- Die Hyundai Creta. Foto: Verskaf
- Die Hyundai Creta. Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
As ‘n Hyundai eienaar het ek geen probleem met die produk nie. Ek het sover net goeie diens gekry uit my voertuig. Een groot probleem is die 5 jaar 150 000km vervaardiger en 7jaar 200 000km bedryfstelsel waarborg. Hyundai dienste is buitesporig hoog. Ek het al daaraan begin dink om eerder my voertuig by iemand anders te laat diens en so die vervaardigers waarborg op te sê. Voertuig prys plus al die hoe dienste koste maak Hyundai ‘n duur voetuig.
Ek wonder nou net hoe kan die verslaggewer uitkom by ‘n gemiddelde brandstof gebruik van 7l/100km en dan die tabel plaas waar nie een onder 7,4l/00km wys nie. Inteendeel dit gaan op tot 8,4l/1100km. Vra maar net.