VW het so pas sy splinternuwe Polo Vivo bekendgestel. In ʼn neutedop? Dis puik. Kom ek verduidelik hoekom ek só sê. Die VW-fabriek in Uitenhage vervaardig in die omgewing van 130 000 voertuie ʼn jaar. Ek glo in die omgewing van 30 000 daarvan is Polo Vivos. Die Vivo word slegs in Suid-Afrika verkoop as ʼn intree-alternatief vir die volroom-Polo.
Dit word moontlik gemaak om die Vivo goedkoper beskikbaar te stel deur plaaslike verskaffers te kry om die onderdele te vervaardig teen ʼn meer ekonomiese prys as wat dit kos om dit in te voer in euro’s. Dit is ʼn goeie ding op ʼn paar vlakke. Dit beteken daar is goeie werkskepping in die industrie, nie net by die VW-fabriek nie, maar by al die verskaffers wat onderdele maak vir die nuwe Vivo.
Ons almal ken die nuwe Polo Vivo in die vorm van die ou Polo. Die ontwerp is so skrams verander dat dit nie eens noembaar is nie. Die flikkerligte skuif van die kantspieëls af na die modderskerm. Die twee voorste sierroosters is effens verander en die kop- en stertligte is ook verander. Die binneruim lyk ook nog dieselfde. Die kantspieëls is wel nie meer elektries verstelbaar nie, maar mens stel tog die spieëls een keer en dan is dit reg.
Die bestuurdersitplek kan op en af stel, en die stuurkolom op en af en vir reikafstand, so mens kan regtig gemaklik raak. Daar is verskeie spesifikasievlakke beskikbaar: Trendline, Comfortline en Highline. Die reeksleier is die Polo Vivo GT wat die 1.0 TSI-enjin uit die nuwe Polo leen. Die enjin bied 81 kW- en 200 Nm-wringkrag met ʼn 6-spoed-handrat. Die 1.4-enjin wat in die Trendline beskikbaar is, bied 55 kW en 130 Nm, en in die Comfortline 66 kW en 132 Nm. Die 1.6 wat in die Comfortline en Highline dien, bied 77 kW en 153 Nm.
Ek het nie by die bekendstelling met die 1.4 gery nie, maar al die joernaliste wat dit wel gedoen het, sê die 1.4 is heeltemal voldoende. Die 1.6 trek voorwaar sterk, maar kan steeds nie die wringkrag bied van die reeksleidende 1.0 TSI nie.
Die radio wat beskikbaar is in die Highline en GT is toegerus met Apple Carplay, ʼn funksie waarvan ek baie hou. Ek glo dit hou mens van jou foon af, en dis ʼn reuse-veiligheidsvoordeel deesdae. Die Highline- en GT-modelle geniet ook ʼn multifunksionele stuurwiel. Dié modelle het ʼn aanboord-rekenaar en ESC met opdraandehulp- en banddrukmonitorstelsels. Alle modelle is met Bluetooth toegerus, en spoedbeheer is beskikbaar op alle modelle as ʼn opsionele ekstra.
Is daar enige foute met die nuwe Vivo? Ek het nou regtig hard gesit en dink, en kan aan niks dink wat ek sou sê fout is met die kar nie. Daar is vir my ook geen tekortkomings nie. As die Trendline-model vir jou bietjie spartaans is, sal die Comfortline beter toegerus wees, en weer só met die Highline en eindelik die GT. Daar is ʼn Vivo om elke begroting te pas.
Die reeks lyk só:
Polo Vivo 1.4 55kW Trendline | R179 900 |
Polo Vivo 1.4 63kW Comfortline | R192 000 |
Polo Vivo 1.6 77kW Comfortline Tiptronic | R221 900 |
Polo Vivo 1.6 77kW Highline | R214 900 |
Polo Vivo 1.0 TSI 81kW GT | R245 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg. VW se Automotion-diensplanne en instandhoudingsplanne is teen ʼn koste beskikbaar.
Ons sal probeer om met die 1.4-Comfortline tyd deur te bring in die nabye toekoms, maar ek glo die Vivo gaan soos die afgelope sewe jaar net aanhou om derduisende voertuie elke maand te verkoop en saam met Polo die markleiers bly.
Behalwe vir die GT is al die modelle heel kompeterend geprys.
Wat van die Vivo Maxx?
Trommelremme agter op TL & CL?