Bekendstelling: Nuwe Lexus is dapper maar nie uitspattig

Die Lexus UX250h. Foto: Verskaf

Die wêreld skuif van gewone sedanmotors oor na sportnutsvoertuie van alle vorms en groottes. Vervaardigers het ʼn reuse taak gehad om na aanvraag te luister en hul hele strategie oor die jare te verander.

Vorige jare was dit maklik – luukse voertuie was groot sedans. Luikrûe was klein en goedkoop en dan was daar bakkies en 4×4’s. Nou lyk die landskap heeltemal anders. Mens kry mini‑, klein, middelslag‑ en groot sportnutsvoertuie. Lexus het nou ʼn mededinger in elke klas. UX is klein, NX is middelslag, RX is groot en LX is volgrootte 4×4‑sportnuts.

Die splinternuwe UX is die eerste Lexus wat gebruik maak van die GA-C‑platform. Die GA staan vir Global Architechture. Nie net is sy platform nuut nie, maar sy atmosferiese 2.0‑viersilinderpetrolenjin ook. Al drie variante gebruik ʼn palwisseltransmissie (CVT). Dit is nie slegte nuus nie, Lexus het hul puik van hul taak gekwyt met die kalibrasie van dié ratkaste – dit werk lieflik.

Die Lexus UX200 F-Sport. Foto: Verskaf

Die nuwe enjin is ook puik. Versneller reaksie is blitsig en die enjin voel glad nie lig in die broek nie – eintlik heeltemal die teenoorgestelde. Die Hybrid is só goed gekalibreer dat ek moes mooi dink om te voel of hy nie wel turbo aangejaag is nie. Beide die gewone binnebrand óf Hybrid is regtig lig op brandstof. Ons het op die bekendstellingsroete 5.8  ℓ/100 km gehaal in die F-Sport en 5.2 ℓ/100 km in die Hybrid.

Die ontwerp is pure Lexus. Dapper, sonder om uitspattige te raak. Ek hou daarvan. Die binneruim bly getrou aan Lexus se ontwerpstyl. Die kajuit is om die bestuurder gevorm en uiters luuks met ʼn Japannese karakter terwyl die kajuit ergonomies uitgelê is.

Die Lexus UX250h. Foto: Verskaf

Baie mense hou steeds nie van die mousepad‑kontroleerder vir die inligtingstelsel nie, maar ek het hom nou al goed baas geraak en dit pla nie. Die leerbekleedsel volg ʼn Japannese stikstyl genoem sashiko. Dit is regtig pragtig en uiters gemaklik. Die kattebak is effe knap, maar ek plaas ʼn hoër premie op die spaarwiel in ons Suid-Afrikaanse mark as die knap kattebak.

ʼn Lekker eienskap van Lexus deesdae is die ritgehalte. Hulle ry tóg nie op klein wiele nie, 18” op die UX, maar die ritgehalte is lieflik sag sonder enige merkbare bakrol. Die stuur is lekker direk en akkuraat sonder om te sensitief te wees. Padhouvermoë is baie beter as wat enige Lexus‑klant gaan nodig hê.

Die UX is ʼn welkome nuweling in dié segment om met BMW se X1 en X2, Mercedes se GLA, Audi se Q3, Jaguar se E-Pace en Volvo se XC40 te kompeteer. Ons sal binnekort weer tyd met die UX in ons daaglikse roetine deurbring en sien hoe hy hom gedra, maar sover is ek regtig beïndruk.

Ons sal ná die behoorlike toets die UX met sy mededingers vergelyk, maar tot dan lyk die reeks só:

Lexus UX200 EX 126 kW/ 205 Nm 6.1 ℓ/100 km R599 000
Lexus UX250h SE 135 kW/ 180 + e Nm 4.5 ℓ/100 km R699 000
Lexus UX200 F-Sport 126 kW/ 205 Nm 6.1 ℓ/100 km R726 200

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 105 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lou ·

Nuwe motors se pryse raak darem nou regtig belaglik. R600k vir ‘n sogenaamde “klein” sportnutsie. Dit is meer as ‘n jaar se inkomste vir die meeste salaris trekkers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.