Bekendstelling: Toyota wys sy B-segment-mededinger

Die nuwe Toyota Yaris (Foto: Toyota)

Toyota het gister sy allernuwe Yaris bekendgestel. Die meeste vervaardigers het verskeie modelle in verskeie segmente waarin hulle meeding. Een van Toyota se B-segment-mededingers is die Yaris.

Die nuwe Yaris gebruik steeds die 1.5-viersilinderenjin uit die huidige Yaris. Op seevlak voel die enjin lekker sterk, en omdat dit ʼn 16-klep-VVTi-enjin is, is hy beslis nie skaam vir omwentelinge nie. Dié enjin bied 79 kW en 140 Nm. Indien jy krag wil hê, is dit daar, begrawe net jou voet en bo die 4 500 r/min-merk tel hy sy sokkies op en raak haastig. Die 5-spoed-ratkas se wisselaksie is heel goed, al is die ratverhoudings te kort na my smaak. Die Yaris luier teen amper 4 000 r/min teen 120 km/h. Dit is nogal hoog, veral as mens die Yaris vergelyk met die nuwe Polo wat teen 2 600 r/min luier teen 120 km/h.

Die nuwe Toyota Yaris (Foto: Toyota)

Dié probleem kan opgelos word deur die CVT- outomatiese model wat beskikbaar is. Ek is nie CVT/palwisseltransmissie se grootste liefhebber nie, maar dis net omdat ek vinniger ry as die meeste mense wat die Yaris gaan koop. As mens rustig ry, is die CVT piekfyn, en sy sewe “ratte” hou die toere laag teen snelwegspoed, en dus die geraas ook. As jy haastig moet wees, begrawe jou voet in die mat en laat die omwentelinge klim tot 6 000 r/min, dan raak die CVT net so haastig soos die handrat.

Die eksterieur is netjies, dit lyk soos ʼn effe kleiner Auris. Die Yaris bly getrou aan ʼn Toyota-gevoel, en dit is nie ʼn slegte ding vir Toyota-aanhangers nie. Die binneruim is lekker ruim en beenruimte vir agterste passasiers voorwaar indrukwekkend. Die sitplekke is gemaklik en die bestuurdersitplek kan op en af stel. Die stuurwiel kan ongelukkig net op en af stel en nie vir reikafstand nie. Die Yaris Sport is toegerus met leersitplekke van goeie gehalte met rooi stikwerk. Dit het my dadelik aan Twincam Sprinter Toyotas uit die negentigerjare laat dink. Ek hou daarvan.

Die nuwe Toyota Yaris (Foto: Toyota)

Die klankstelsel is ʼn goeie toevoeging tot die reeks met navigasie en Android Auto of Apple CarPlay. Dié twee funksies is vir my ʼn vereiste by moderne karre, want dit hou mense van hul fone af terwyl hulle bestuur, ʼn reuse-veiligheidsaspek. Daar is kontroles op die stuurwiel vir volume en om na die volgende of vorige liedjie te gaan.

Ek gaan wag om meer tyd met die Yaris deur te bring voordat ek my finale mening gee oor die kar en met sy mededingers vergelyk. Tot dan, gaan toetsbestuur hom self en sien of hy jou hart roer.

Daar is vyf modelle beskikbaar in die Yaris-reeks. Die hele reeks maak gebruik van dieselfde 1.5- viersilinderenjin.

Toyota Yaris 1.5 Xi handratR230 800
Toyota Yaris 1.5 Xs handratR253 400
Toyota Yaris 1.5 Xs CVTR268 500
Toyota Yaris 1.5 CrossR268 500
Toyota Yaris 1.5 SportR286 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ontnugterde VW eienaar ·

Jammer ek het nie geweet van die model se koms, met leersitplekke, sleutelvrye toegang ens op die top modelle is dit ‘n beter pakket as die nuwe Polo wat met ‘n idiotiese samestelling van ekstras môre bekend gestel word. VW #bewarethearrogance!

Pieter van Niekerk ·

En ek dog ek is die enigste wat VW se geknoei raaksien.

Ontnugterde VW eienaar ·

Inderdaad ‘n geknoei, van remskywe op die vorige Polo na trommelremme agter op die nuwe?
#vwbewarethearrogance

Pieter van Niekerk ·

Ag hou asseblief op om die PWR (CVT) af te takel. As jy net so bietjie wil aanpas is dit uitstekend. Dis hier om te bly en word al hoe wyer toegepas deur maatskappye wat beter weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.