In Januarie 2017 het Mitsubishi ʼn opgeknapte Triton aan die mark bekendgesel. Al die motorjoernaliste was gaande oor die nuwe produk. Dit het lekker gery en die nuwe enjin en ratkas was puik. Ongelukkig het die publiek nie in hul duisende Tritons gaan koop nie. Ek kan dit nou nog nie verstaan nie – dit is regtig ʼn puik bakkie.
Ek glo hulle het nóú ʼn wenresep. Die nuwe Triton is regtig bitter mooi, van voor en agter – maar veral van voor. Die binneruim is eerder luuks as werkesel – en in die dubbelkajuitmark dink ek dit is hoe dit hoort. Die kajuit is ergonomies uitgelê en die bougehalte goed. Die Triton het sewe lugsakke en ISOFIX-babastoel ankers. Daar is ʼn magdom elektroniese veiligheidstelsels soos ABS met EBD en stabiliteit en vastrapbeheer. Die wegtrekhulp en afdraandbeheer vorm deel van die 4×4-stelsels.
Die Triton ry steeds met die 2.4 MIVEC-turbodieselenjin wat 133 kW en 430 Nm bied. Nie net is dié syfers lekker sterk nie, maar die enjin loop lekker stil – veral op die lang pad met Mitsubishi se nuwe 6-spoed outomatiese ratkas. Teen 120 km/h luier die enjin teen ʼn ekonomiese 1 800 r/min. Die outomatiese Triton sal 7,6 ℓ/ 100 km kan haal op die gekombineerde siklus, en die handrat 7,5 ℓ/ 100 km.
My enigste kwaal met die Triton tot dusver in die kort tydjie wat ons met hom deurgebring het, is die ritgehalte. Ek het by die bekendstelling die vering uitermate hard ervaar. Dit kan moontlik harde bande gewees het, maar ek sal dit self nagaan wanneer ons met hom in die Junie-skoolvakansie karavaan sleep.
Dit bring ons by die Triton se beste eienskap. 4×4. Die nuwe Triton het Mitsubishi se Super Select II 4WD-stelsel. Ek het nou al baie tyd in verskeie 4×4’s deurgebring – en ek kan vir jou sê, die Triton is een van die beste dubbelkajuit 4×4’s waarmee ek al deur ʼn paar hindernisse is. Die afdraandbeheer is dinamies, so ʼn mens stel dit voor jy by ʼn helling afry. As jy dan voel die spoed is te veel, rem jy ʼn bietjie. As jy die remme los, hou die stelsel die spoed waar jy dit gelos het. As dit te stadig is, versnel effe dán hou die afdraandbeheer dáái spoed. Dit werk regtig puik.
Die voertuie waarmee ons gery het op die bekendstelling was splinternuut met slegs ʼn paar honderd kilo’s op. Die agterste ewenaarslot het partykeer bietjie vasgehaak en moeilik in en uitgeskop – maar soos ʼn mens 4×4 en die bakkie mettertyd inloop sal hy makliker in en uitskop.
Oor die algemeen is die Triton regtig ʼn indrukwekkende bakkie. Die kajuit is gemaklik en die bakkie se nuwe gesig bitter mooi. As 4×4 jou stokperdjie is – gaan toestsbestuur een, jy gaan regtig beïndruk wees. Die prys is ook glad nie sleg nie.
Die reeks lyk só:
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit | 133 kW/ 430 Nm | 7.5 ℓ/ 100 km | R509 995 |
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit outo | 133 kW/ 430 Nm | 7.6 ℓ/ 100 km | R529 995 |
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit 4×4 | 133 kW/ 430 Nm | 7.5 ℓ/ 100 km | R569 995 |
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit 4×4 outo | 133 kW/ 430 Nm | 7.6 ℓ/ 100 km | R589 995
|
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km
Mazda BT-50 3.2 dubbelkajuit 4×4 outo | 147 kW/ 470 Nm | 9.7 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ onbeperkte km waarborg 3 jaar/ onbeperkte km diensplan | R569 700 |
Isuzu KB 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX outo | 130 kW/ 380 Nm | 7.8 ℓ/ 100 km | 5 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R615 500 |
Ford Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 XLT outo | 147 kW/ 470 Nm | 9 ℓ/ 100 km | 4 jaar/ 120 000 km waarborg 6 jaar/ 90 000 km diensplan | R625 500 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider outo | 130 kW/ 450 Nm | 8.5 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 9 dienste diensplan | R637 500 |
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit 4Motion outo | 132 kW/ 420 Nm | 8.5 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R646 000 |
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE outo | 140 kW/ 450 Nm | 7.0 ℓ/ 100 km | 6 jaar/ 150 000 km waarborg 3 jaar/ 90 000 km diensplan | R647 500 |
Tussen dié mededingers is die Mazda en Mitsubishi albei ware winskope. Die Mitsubishi se 4×4-vermoë is onweerlegbaar. Al die mededingers is besonder sterk, gaan toets almal – een gaan jou hart steel.
- Die nuwe Mitsubishi Triton. Foto: Verskaf
- Die nuwe Mitsubishi Triton. Foto: Verskaf
- Die nuwe Mitsubishi Triton. Foto: Verskaf
- Die nuwe Mitsubishi Triton. Foto: Verskaf
- Die nuwe Mitsubishi Triton. Foto: Verskaf
- Die nuwe Mitsubishi Triton. Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Die Ranger is ligter op diesel en kos ook minder as die Mazda. Sy diensplan en waarborg is ook beter. So die Ranger is in baie beter kopie as die Mazda.
Die Triton is werklik ‘n indrukwekkende bakkie. (Insl die Fullback) Die puik Super Select 4WD, slim binneruim, gerieflike agtersitplekke, goeie hantering en puik 4X4 vermoë agv. ‘n korter afstand tussen die aste (as ander bakkies) is slegs ‘n paar aspekte wat lekker is van die Triton, daar is nog ander positiewes ook. (Die harde rit is 10 / 1 agv. die lae profiel bande – ek sal ande wielle met 17″ veel-terrein bande opsit) So waarom verkoop die Triton so swak in SA, wat ook met sterk depresiasie gepaart gaan: (Dit geld beslis vir ander Mitsubishi’s ook) 1. Daar is… Lees meer »
Sorry maar ek dink jou prys op die Navara is verkeerd, volgens hulle webblad kos hy R626500 so heelwat minder as die prys hierbo
Met daardie lang agterstewe, wat n swak uitvalhoek beteken, en groot treeplanke kon dit nie vreeslike hindernisse gewees het wat ge-4×4 is nie.
Ag nee, van vooraf is dit ‘n Toyota RAV ! ‘n RAV bakkie..ha, ha,